Die matriekeksamen is die belangrikste en uitdagendste assessering vir Suid-Afrikaanse leerlinge. Dit is die hoogtepunt van 12 jaar se skoolopleiding en die weg na hoër onderwys en loopbaangeleenthede.
Nie almal wat hierdie eksamens geskryf het, sal slaag of die uitslae behaal waarop hulle gehoop het nie.
Hoewel dit 'n terugslag is, moet diegene wat bekommerd is oor uitslae weet dat hulle nog opsies het.
"Daar is lewe ná matriek en daar is baie maniere om jou opleiding voort te sit en jou vooruitsigte te verbeter, al het jy nie geslaag nie. Jy hoef nie jou doelwitte prys te gee nie.
"As jy een van die leerlinge is wat nie matriek geslaag het nie of nie die soort vrystelling gekry het wat jy nodig gehad het nie, voel jy dalk teleurgesteld, moedeloos en hopeloos oor jou toekoms. Jy dink dalk dat jy geen opsies het nie en dat jou drome daarmee heen is. Maar dit is nie waar nie," sê Siyavuya Makubalo, bemarkingsbestuurder by Oxbridge Academy, 'n handelsmerk van AdvTech.
"Daar is lewe ná matriek en daar is baie maniere om jou opleiding voort te sit en jou vooruitsigte te verbeter, al het jy nie geslaag nie. Jy hoef nie jou doelwitte prys te gee nie.
"Jy kan steeds jou passies en belangstellings nastreef, en die vaardighede en kwalifikasies aanleer wat jy nodig het om in die 21ste eeu sukses te behaal."
Die belangrikste eerste stap vir diegene wat bekommerd is oor hul uitslae, is om positief en proaktief te bly.
"Baie mense is onbewus daarvan dat daar verskillende studie-opsies is, veral beroepsrigtings wat gesog is in die arbeidsmark wat nie 'n matrieksertifikaat benodig nie. As jy hierdie uitdaging oorkom, en jouself belowe om nie jou opvoeding af te skeep nie, maar eerder hard te werk aan 'n doelwit waaroor jy entoesiasties kan wees, het jy 'n formule vir sukses op jou hande."
Die volgende opsies is buigsaam, bekostigbaar en toeganklik, en dit kan jou help om jou volle potensiaal te bereik:
Herskryf sekere vakke
As jy slegs in een of twee vakke sleg gevaar het, is dit 'n opsie om daardie vakke wat jy nie geslaag het nie, of dié waarin jy hoër punte wil kry, oor te skryf.
Herhaal matriek
As jy druip of nie vir matriekvrystelling kwalifiseer nie, kan jy steeds jou matriek deur middel van afstandsonderrig voltooi. Hierdie opsie is kostedoeltreffend, kan uit jou huis gedoen word (wat beteken dat jy nie hoef terug te gaan skool toe nie), en die leermateriaal is maklik om te gebruik en te verstaan.
As jy hierdie roete volg, maak seker dat jy 'n goeie instelling kry met konsekwente ondersteuning beskikbaar om te verseker dat jy 'n sukses van jou studies kan maak.
Voltooi 'n oorbruggingskursus of 'n soortgelyke kwalifikasie
'n Inleiding tot 'n N4-kursus is soortgelyk aan 'n oorbruggingskursus, aangesien dit jou toelaat om na N4, N5 en N6 te vorder. Nadat jy N6 voltooi het, kan jy by die departement van hoër onderwys en opleiding aansoek doen vir 'n nasionale diploma, mits jy 18 maande se relevante praktiese ondervinding opgedoen het.
Om 'n N4-vlak-kwalifikasie te slaag is gelykstaande aan matriek, en om deur N4 na N5 voort te gaan, sal jou meer geskik maak vir 'n werk as iemand wat net 'n matrieksertifikaat het.
Skryf in vir 'n beroepskursus
'n Beroepskursus sal jou in staat stel om ná voltooiing die arbeidsmark te betree. Dit verskaf die spesifieke vaardighede en teoretiese kennis wat vereis word in velde soos projekbestuur, gesondheid en veiligheid, logistiek en voorsieningskettingbestuur, en kontaksentrumbedrywighede. Al die kursusse kan voltooi word sonder 'n matrieksertifikaat en deur middel van afstandsonderrig, wat beteken dat jy selfs kan begin geld verdien terwyl jy leer.
Skryf in vir 'n beroepsertifikaat
'n Beroepsertifikaat is 'n kwalifikasie wat toegeken word aan individue wat bekwaamheid in 'n spesifieke beroep of ambag getoon het. Dit is 'n nasionaal erkende kwalifikasie wat op bedryfstandaarde gebaseer is en ontwerp is om leerlinge toe te rus met die vaardighede en kennis wat nodig is om in 'n bepaalde beroep te slaag. In Suid-Afrika dek beroepsertifikate feitlik alle sektore, insluitend landbou, besigheid, konstruksie, onderwys, gesondheid, gasvryheid, vervaardiging, mynbou, vervoer.
"Dit is nie die einde van die pad vir jou of jou aspirasies as jy druip of sleg vaar in matriek nie," sê Makubalo.
"Daar is baie opsies tot jou beskikking as jy nie matriek geslaag het nie, of as jy jou uitslae wil verbeter. Jy hoef nie toe te laat dat jou verlede jou toekoms bepaal nie, en jy kan steeds jou doelwitte en drome bereik en 'n positiewe bydrae tot die samelewing maak."


















