Is jou kind talentvol en lief vir die kunste? Kan hulle mooi sing, 'n gedig voordra of word daar elke vakansie vir die hele familie konsert gehou? Dalk is jou kind lief vir toesprake lewer of redeneer hulle jou onder die tafel in. . .
Wel, ons het goeie nuus! Dit is tyd vir Huisgenoot se heel eerste aanlyn eisteddfod - 'n kompetisie spesiaal vir leerders van graad 1 tot matriek.
Ja, jy lees reg. Huisgenoot Eisteddfod is hier en jou kind kan R10 000 wen. En met dié dat dit skoolvakansie is, is dit dalk net die beste manier om die jongspan op 'n kreatiewe manier besig te hou.
Boonop bied dié kompetisie vir alle deelnemers die kans om by professionele vermaakkunstenaars te leer en hul vaardighede te slyp.
Toe, gebruik die skoolvakansie en die eerste twee weke van die vierde kwartaal om in te skryf! Die kompetisie sluit op 24 Oktober 2022 om 12:00.

Hoe werk dit?
Elke deelnemer kan kies vir watter afdeling of afdelings hulle wil inskryf - prosa, poësie, sang of redenaars. Daarna kry elke deelnemer toegang tot 'n spesiale, eksklusiewe meesterklas vir daardie afdeling. Elke meesterklas is 45 tot 50 minute lank.
In die meesterklasvideo deel 'n professionele akteur, sanger of aanbieder praktiese raad en wenke om die deelnemers te help om hul talent te ontgin en vir hul optrede voor te berei.
Jou kind kan dié leersame video in hul eie tyd aanlyn kyk. Die video's kan ook oor en oor gekyk word, tot jou kind die beginsels verstaan en dit self kan toepas.
Sodra jou kind genoeg voorberei het vir die afdeling waarin hulle graag wil deelneem, is dit tyd vir aksie!

Neem 'n video van jou kind se optrede en laai dit dan aanlyn op ons spesiale Huisgenoot Eisteddfod-webtuiste. In die video kan jou kind 'n liedjie sing, 'n gedig voordra, 'n stuk prosa dramatiseer of as redenaar 'n toespraak hou, afhangend van die afdeling of afdelings waarvoor julle ingeskryf het.
Die video's sal slegs deur die Huisgenoot-redaksie en ons beoordelaars gekyk word en is nie oop vir die publiek nie. Jou kind se video en inligting word dus veilig en met omsigtigheid hanteer en sal nie sonder toestemming gepubliseer word nie.
Ons beoordelaars hou die kompetisie fyn dop en sal ná die sluitingsdatum na al die inskrywings kyk en dit saam met Huisgenoot beoordeel.
En dan wink erkenning vir ons talentvolle deelnemers, en roem vir die afdelingswenners!
Pryse en toekennings
Deelnemers kwalifiseer vir sertifikate gegrond op meriete: goud, silwer of brons.
Afdelingswenners word bekroon met 'n gesogte rooi sertifikaat en kan met 'n kontantprys van R1500 wegstap.
Deelnemers wat pryse ontvang, kry ook erkenning in Huisgenoot of op huisgenoot.com.
Is jy die Huisgenoot Eisteddfod-ster van die Jaar?
Een groot wenner word aangewys as die Huisgenoot Eisteddfod-ster van die Jaar en wen 'n kontantprys van R10 000, geborg deur AVBOB.
Dié prys gaan aan die een deelnemer wat die beoordelaars se koppe laat draai het - die een wat bo al die ander inskrywings uitgestaan het en die ster van die jaar is.
Ontmoet die meesters van die meestersklasse
Die aanbieders van die meesterklasse is ook deel van die beoordelingspaneel van Huisgenoot Eisteddfod. Hulle deel hul topwenke in die aanlyn video's op Huisgenoot Eisteddfod se webblad en beoordeel die deelnemers se optredes.

Prosa: Roeline Daneel
Die aktrise en stemkunstenaar Roeline Daneel is bekend vir haar rol as Alta-Marie in die telenovelle Arendsvlei. Sy het ook die rol van Mika in die dramareeks Kompleks vertolk. Sy is in 2018 vir 'n Suid-Afrikaanse Film- en Televisieprys (Safta) benoem vir haar rol as Jan van Riebeeck se vrou, Maria, in die fliek Krotoa, en Roeline was onlangs te sien in die sepies Binnelanders en Suidooster.

Poësie: Frieda van den Heever
Frieda van den Heever is 'n aktrise, musikant, regisseur en stemkunstenaar. Sy was tot onlangs aanbieder van die RSG-programme Vers en klank en Kortom. Sy het in 2021 'n Fiësta gewen vir die regie van die toneelstuk Die poet, wie's hy?

Redenaars: Sue Pyler
Sue Pyler is 'n bekroonde omroeper, nuusleser, regisseur, aktrise en stemkunstenaar. Sy bied verskeie programme op RSG aan, onder meer die ontbytprogram Op en wakker. Sy doen ook die voorlesing van Huisgenoot se artikels op huisgenoot.com.

Sang: Lynelle Kenned
Lynelle Kenned is 'n bekroonde sangeres wat al te sien was in bekende musiekspele soos West Side Story en The Sound of Music. Sy is ook 'n talentvolle aktrise en was al die aanbieder van die leefstylprogramme Pasella, Uit die spens en Jý geld.
Volg die stappe om deel te neem
1. Besoek
2. Klik op Neem deel en dui aan watter meesterklas jy wil koop. Toegang tot elke meesterklas kos R120 en sluit jou inskrywing vir daardie spesifieke afdeling in. Jy mag vir meer as een afdeling inskryf, maar slegs een keer per afdeling.
3. Gaan voort na die betalingsproses en vra 'n volwassene om met 'n kredietkaart te betaal.
4. Nadat julle betaal het, sal jy aanlyn toegang hê tot die meesterklas vir die afdeling waarvoor jy ingeskryf het. Jy kan die meesterklasvideo met wenke en raad in jou eie tyd aanlyn kyk.
5. Maak seker jy het die kompetisiereëls gelees en is seker van die kompetisie se sluitingsdatum.
6. Sodra jy gereed is, verfilm jou optrede. Jy kan iemand vra om dit sommer met 'n selfoon se videokamera af te neem.
7. Sorg dat jou video nie langer is as 2 minute (poësie), 3 minute (prosa en sang) en 5 minute (redenaars) is nie.
8. Voltooi die aanlyn inskrywingsvorm op die webtuiste.
9. Laai die video van jou optrede op Huisgenoot Eisteddfod se webtuiste. Dit sal gesluit wees vir die publiek en slegs Huisgenoot en ons beoordelaars sal na die video kan kyk. Ons sal jou video nie sonder jou toestemming deel nie.
10. Ons beoordelaars kyk na die sluitingsdatum na alle video-inskrywings, en Huisgenoot sal met jou in verbinding tree wanneer dit tyd is om terugvoering te gee.
Kom wys jou talent by vanjaar se aanlyn Huisgenoot Eisteddfod! Besoek eisteddfod.huisgenoot.com om deel te neem.
- Die kompetisie sluit op 24 Oktober 2022 om 12:00.
- Moenie enige groot nuus misloop nie! Vir boeiende nuus oor bekendes en aangrypende mensestories, teken in by ‘Huisgenoot' se daaglikse nuusbrief, "Huisgenoot Vandag".
Teken hier vir ons nuusbriewe in:
Kry die dag se sterkste stories, die week se lekkerste resepte, die maandelikse nuus oor modes, boeke, skoolsake en hartsake. Teken nou in!




















