HG Junior

HG Eisteddfod: Fokus op dít wat vreugde bring

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Koor-beoordeelaar Leon Starker. Foto: ER Lombard.
Koor-beoordeelaar Leon Starker. Foto: ER Lombard.

Leon Starker, die dirigent van die Kaapstad Camerata, is die beoordelaar van die koorafdeling en bied ook die meesterklas vir dié afdeling aan.

Dié koor het al die wêreld vol getoer en in gesogte konsertsale en katedrale opgetree.

"Konserte in Carnegie Hall en St Paul's Katedraal in Londen staan uit. 'n Groot hoogtepunt was toe ons van die verhoog afstap in Spittal (Oostenryk) en die koorlede blom met 'n gevoel van ‘nailed it!'. Daardie oomblikke is eintlik die "groot oomblikke" en dís eintlik wat koor spesiaal maak - dis nie gekoppel aan 'n plek nie, maar 'n moment in time wanneer elke noot in plek val en die musiek êrens tussen murg en been gaan sit. Dit gebeur soms in 'n konsert, soms tydens 'n oefening, soms tydens 'n kompetisie. 'n Mens is eintlik baie gelukkig as dit tydens 'n kompetisie gebeur," sê hy.

Hy het in 1990 begin skoolhou en het natuur- en skeikunde gegee toe die skoolhoof hom nader hark met 'n nuwe uitdaging. "Jy het op universiteit koor gesing, sien jy kans om skoolkoor af te rig?" het die skoolhoof gevra. Leon het ingestem, want musiek en koorsang het hom al sedert sy skooldae betower.

"Wat 'n groot voorreg. Om voor 'n koor te staan, is soos om suurstof in te asem," sê hy.

"Daardie momente wanneer elke noot in plek val en die musiek êrens tussen murg en been gaan sit. Dis onmoontlik om te beskryf, dis eintlik maar iets wat mens beleef - 'n gevoel van ‘hierdie is 'n volmaakte oomblik'. Ek kan my indink dis die gevoel wat 'n gholfspeler kry as hulle 'n hole-in-one speel," sê Leon.

Tog is dit ook die samesyn en gemeenskap tussen koorlede wat dit vir hom spesiaal maak. "Dit strek veel verder as om net saam te sing," sê hy.

Wat is die beste raad wat hy al oor koorsang gekry het?

"G.K. Chesterton het gesê engele kan vlieg omdat hulle hulself ligtelik opneem. Skoolsport en skoolkompetisies het, dink ek, 'n kultuur van mededinging na koorsang gebring wat baiekeer die joy steel. Ek het al briljante kore gesien wat in trane is ná 'n kompetisie omdat hulle nie gewen het nie. Daar is báie in musiek en veral in koorsang wat, in die woorde van Marie Kondo "sparks joy". Kompetisies help om standaarde te lig, maar fokus op dit wat ‘joy spark'," sê Leon.

In die meesterklasvideo deel Leon sy ervaring en lig ook van die algemene foute uit wat kore en dirigente kan maak.

"Koorleiers gebruik oefeninge om mindlessly deur hul musiek te sing en ignoreer, of hoor dalk nie, die foute nie. 'n Mens moet werklik luister na jou koor. Luister na die koorlede se insette - hulle weet waar die foute lê. En spandeer tyd om die klein jakkalsies reg te maak," sê hy.

Inskrywings vir Huisgenoot Eisteddfod sluit nou op 12 Augustus om 17:00. Daar is kontantpryse op die spel, geborg deur Afrikaans.com.

Besoek eisteddfod.huisgenoot.com om deel te neem.

Charlea Sieberhagen-Grey

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM