Die meeste mense dink rotse is sommer net onbeweeglike stukke harde aarde wat oral op ons planeet voorkom. Ons dink nie juis aan waar dit vandaan kom en of daar 'n onderskeid tussen verskillende soorte rotse is nie.
Geoloë, oftewel aardkundiges, bestudeer rotse en weet hoe hulle van mekaar verskil en waar hulle in die aarde se lang geskiedenis inpas. Ons leer jou vandeesweek meer oor waar rotsformasies vandaan kom, en ons kyk na die Makhonjwaberge, 'n spesiale streek in die noordooste van ons land, met 'n besonderse geologiese samestelling.
Hoofsoorte
Daar is drie hoofsoorte rotsformasies, en die verskil tussen hulle hang af van die manier waarop hulle gevorm het. Hierdie drie soorte is stollingsgesteentes, metamorfiese gesteentes en afsettingsgesteentes.
Die oudste rotsformasie op aarde word in die weste van Australië aangetref en staan bekend as Jack Hills. Dit is 'n kombinasie van metamorfiese en afsettingsgesteentes en is na raming 4,4 miljard jaar oud. Dít beteken Jack Hills het self net 'n paar miljoen jaar ná die ontstaan van die aarde (4,55 miljard jaar gelede) ook tot stand gekom.

Stollingsgesteentes is rotsformasies wat hul ontstaan aan vulkane te danke het. Hulle vorm wanneer magma (gesmelte rots diep in die aarde) afkoel en verhard. Wanneer magma na die oppervlak van die aarde opstoot en uitvloei, noem ons dit lawa. Vulkaniese rotse kan vorm met of sonder kristallisasie. Baie van die stollingsgesteentes is basalt of graniet. Dit is twee soorte rotsformasies wat baie algemeen op die aarde voorkom. Ander soorte stollingsgesteentes is andesiet, rioliet, granodioriet en gabbro.

Afsettingsgesteentes (ook bekend as sedimentêre gesteentes) ontstaan nie so vinnig soos stollingsgesteentes nie. Dit kan duisende jare neem om te vorm. Hierdie rotsformasies vorm stadigaan wanneer deeltjies soos sand, modder, skulpfragmente en selfs die oorblyfsels van lewende materiaal en organismes op die seevloer of op land versamel. Die proses word deur erosie aangehelp wat die deeltjies (sediment) na die afsettingsgebied aandra.
Namate daar oor duisende jare ál meer sediment versamel, kan die groot gewig daarvan alles saampers om soliede rots te vorm. Dié rotsformasies word gekenmerk deur die voorkoms van lae omdat verskillende soorte sediment oor 'n lang periode afgeset word. Daar kan ook fossiele voorkom. Afsettingsgesteentes is relatief bros en kan nogal maklik oopbreek. Voorbeelde van afsettingsgesteentes is sandsteen, kalksteen en modderklip.

Metamorfiese gesteentes ontstaan uit die transformasie van bestaande rotse vanweë metamorfisme, wat beteken "struktuurverandering". Dis die gevolg van groot druk en hitte wat op stollings- of afsettingsgesteentes uitgeoefen word. Die voorkoms van dié rotsformasies en hul struktuur word in die proses verander.
Metamorfiese sedimentêre gesteentes sal byvoorbeeld steeds die kenmerkende lae hê, maar hulle sal gebuig en saamgepers wees. Voorbeelde van metamorfiese gesteentes is marmer, leiklip, kwartsiet en gneis.
Barbertonse Makhonjwaberge
Barberton se Makhonjwaberge in Mpumalanga beslaan sowat 40% van die Barbertonse Groensteengordel, een van die wêreld se oudste geologiese strukture. Die bergreeks bevat waarskynlik die bes bewaarde opeenvolging van stollings- en afsettingsgesteentes op aarde en strek 3,6 tot 3,25 miljard jaar in die aarde se geskiedenis terug. Die rotsformasies is miskien nie heeltemal so oud soos Jack Hills in Australië nie, maar ewe indrukwekkend.
Wat is 'n groensteengordel?
Groensteengordels word so genoem vanweë die groen glans wat deur 'n verskeidenheid groen minerale soos serpentyn, chloriet, epidoot en aktinoliet in die rots veroorsaak word. Groensteengordels kom hoofsaaklik in Australië, Suider-Afrika en Kanada voor en bevat gewoonlik stollings- en metamorfiese gesteentes soos basalt, graniet en gneis. Die bekendste groensteengordel in die wêreld is die Barbertonse Groensteengordel waar een van die vroegste ontdekkings van goud in Suid-Afrika gemaak is.
Wêrelderfenisgebied
Unesco, die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie, het die Barbertonse Makhonjwaberge op 2 Julie 2018 tot Wêrelderfenisgebied verklaar - Suid-Afrika se 10de en ook ons land se mees onlangse een. Die Barberton Makhonjwaberge-Wêrelderfenisgebied beslaan 'n gebied van 113 137 hektaar en bevat - benewens sy unieke rotsformasie - ook talle inheemse plantspesies.

Sowat 2 176 plantspesies is tot dusver hier ontdek, insluitend die Barbertonse madeliefie, proteas, aalwyne en broodbome. Die Mountainlands-natuurreservaat, asook die privaat reservate van Songimvelo Nkomazi, Queensrivier en die Barbertonse Privaat Reservaat vorm die kern van die Wêrelderfenisgebied. In die reservate kom diere soos rooibokke, sebras, blouwildebeeste, rooihartebeeste, elande, waterbokke, koedoes, vlakvarke en luiperds voor.

Daar is ook uitgestrekte bosbouplantasies tussen die beskermde gebiede en twee stukke privaat en gemeenskapsgrond wat nader aan Badplaas voorkom. Die Makhonjwaberge is baie belangrik, want dis 'n bewaarplek van die aarde se geskiedenis en bevat inligting oor die werking van vulkane, kontinentvorming en die toestande van vroeë lewensvorme.

Wetenskaplike navorsing van die rotsformasies het die vroegste rekord opgelewer van hoe die aardkors gevorm het. Dit het ons kennis oor die eerste voorkoms van lewe op aarde van die vorige geskatte ontstaanstydperk af met 1 miljard jaar teruggeskuif. Die bewyse van massiewe meteoriete wat die aarde hier getref het, kan selfs verband hou met die ontstaan van die maan.
Die spore van miljarde jare oue oseaangetye is so presies in die rots vasgevang dat dit wetenskaplikes in staat stel om berekenings te doen oor die veranderings van die afstand tussen die aarde en die maan. Hierdie berge is een van die beste plekke op ons planeet om die ontwikkeling van die oeraarde en die ontwikkeling van lewe te bestudeer. Dis 'n besonderse plek wat jou naby bring aan die ontstaan van lewe op ons aarde.
Het jy geweet?
Rotse kan deur chemiese en meganiese prosesse stukkie vir stukkie opbreek. Ons noem dit verwering, en dis hoe grond ontstaan. Nog 'n proses, genaamd erosie, behels die wegvoer van rotsdeeltjies byvoorbeeld deur die wind of water. Oor baie miljoene jare kan 'n hele bergreeks deur erosie verdwyn















