
Die planeet Saturnus word as die juweel van ons sonnestelsel beskou. Dit is omdat sy ringe en mane so mooi is. Saturnus is naas Jupiter die grootste planeet in ons sonnestelsel en die sesde planeet van die son af.
Die planeet is sedert antieke tye aan die mensdom bekend omdat 'n mens dit sonder gevorderde teleskope kan sien.
Waaruit bestaan Saturnus?
Saturnus is 'n gasreus. Dit beteken dit is nie 'n planeet met 'n soliede oppervlak waarop jy kan staan soos die aarde nie. Meer as 96% van die planeet se buitenste atmosfeer bestaan uit waterstof, en net meer as 3% is helium. Die windspoed in die boonste laag van die atmosfeer kan tot 1 800 km/h wees. Daar sal jy van die vinnigste windsnelhede in die hele sonnestelsel aantref.

Skouspelagtige ringe
Saturnus spog met asemrowende ringe wat selfs honderde jare gelede met basiese teleskope van die aarde waargeneem kon word. Die Italiaanse wetenskaplike Galileo Galilei het die ringe die eerste keer in 1610 beskryf.
Galilei het eers gedink hy het mane ontdek, maar die Nederlandse sterrekundige Christiaan Huygens het jare later vasgestel dis ringe rondom die planeet. Dit is nie presies bekend wat die ringe om die gasplaneet veroorsaak het nie, maar ons weet waaruit dit bestaan.
Die ringe bestaan uit ysdeeltjies en 'n klein aantal stofdeeltjies wat plat skywe van omtrent 282 000 km wyd vorm; die ringe self is sowat 20 m dik. Saturnus het 'n stel van sewe hoofringe met ruimtes tussen hulle. Daar is dan ook sewe hoofgroepe waarin die ringe verdeel word, genommer A tot G.
Elkeen het sy naam gekry in die volgorde waarin dit ontdek is. Die ringe wat vanaf die aarde die duidelikste gesien kan word, is A, B en C. Tussen hierdie ringe is gapings, waarvan die gaping tussen A en B die grootste is

Saturnus en sy mane
Tot onlangs is gedink dat Jupiter, 'n buurplaneet van Saturnus, die planeet is wat die meeste mane in ons sonnestelsel het. Ná die ontdekking van 20 nuwe mane wat om Saturnus wentel, het die ringplaneet Jupiter se 79 mane verbygesteek. Saturnus het altesaam 82 mane wat om hom wentel. Saturnus se grootste maan staan as Titaan bekend.
In 2005, tydens die Cassini-Huygens-sending, het die Huygens die landingstuig geword wat die verste nog van die aarde ge-land het. Die Huygens-landingstuig het aan wetenskaplikes effens dowwe maar besonderse foto's van die maan Titaan verskaf. Ons weet nou dat Titaan Saturnus se grootste maan is, maar het jy geweet dat dit ook die tweede grootste maan in die sonnestelsel is?
Net Jupiter se maan Ganumedes is groter. Benewens die aarde is Titaan die enigste ander liggaam in ons sonnestelsel waar stabiele oppervlakvloeistof gevind is. Daar is mere op Titaan, maar dit bestaan uit vloeibare metaan, nie water soos by ons nie. Dié maan is ook die enigste een in ons sonnestelsel met 'n digte atmosfeer.
Die Cassini-Huygens-sending
Die Cassini-Huygens-sending word as een van die gevorderdste ontdekkingsreise in die geskiedenis van ruimteverkenning sonder menslike bemanning aan boord beskou. Die wenteltuig Cassini het 294 keer tussen 2004 en 2017 in 'n wentelbaan om Saturnus beweeg, terwyl sy landingstuig, Huygens, wat aan die Cassini gekoppel was, op Titaan geland het.

Die Cassini-Huygens-sending was 'n internasionale projek waarvan die Amerikaanse ruimteagentskap Nasa, die Europese ruimteagentskap, ESA, en die Italiaanse ruimte- agentskap, ASI, deel gevorm het. Cassini-Huygens is op 15 Oktober 1997 van die aarde gelanseer, waarna dit eers op 1 Julie 2004, ná 'n reis van byna sewe jaar, om Saturnus begin wentel het. S
Interessante feite
As jy Saturnus met die aarde wil vergelyk, sal dit wees soos om 'n sokkerbal langs 'n albaster te plaas - die aarde is natuurlik die piepklein albastertjie.
Saturnus se deursnee by sy ewenaar is nege en 'n half keer so groot soos die aarde s'n. Anders as op die aarde is daar geen moontlikheid vir lewe op dié planeet nie.
Die temperatuur op Saturnus is gemiddeld 'n ysige -138 °C.
Dit neem Saturnus 10 uur, 32 minute en 35 sekondes om een rotasie (omwenteling) om sy eie as te voltooi, terwyl dit hom 29 en 'n half aardjare neem om een keer om die son te wentel.
Sy "dae" snel dus verby, maar sy jaar neem 'n halwe leeftyd. Saturnus se buurplanete is Jupiter (nader aan die son) en Uranus (verder). SVerskeie ruimtesendings het al Saturnus van nader ondersoek.
Dit sluit in Pioneer 11 en Voyager 1 en 2, asook die Cassini-Huygens-sending.
Vanwaar die naam?
Die Cassini-Huygens-tuie is genoem na die sterrekundige Giovanni Domenico Cassini en die Nederlandse wetenskaplike Christiaan Huygens.
Cassini het in die 17de eeu vier van Saturnus se mane ontdek asook die vreemde gaping in die ringstelsel, wat nou die Cassini-gaping genoem word. Huygens het die maan Titaan in 1655 ontdek.
Het jy geweet?
- Twee keer elke 29 en 'n half jaar lyk dit asof Saturnus sy ringe verloor. Dit gebeur wanneer die planeet se ringstelsel op sy rand of sy draai en so plat is dat dit nie van die aarde gesien kan word nie.
- Saturnus se ringstelsel is die opvallendste een binne die sonnestelsel wat al gevind is. Dis die ysdeeltjies waaruit die ringe bestaan wat dié ringe van die aarde af sigbaar maak - die ys weerkaats baie sonlig.




















