
Parasitiese plante kan met reg beskryf word as die diewe van die plantwêreld wat vat sonder om te vra en sonder om enigiets aan hul onwillige gashere terug te gee!
WAT IS 'N PLANTPARASIET?

'n Parasiet, wat 'n plant of dier kan wees, is 'n organisme wat ten koste van 'n ander spesie daarop leef en teer.
Die spesie (plant of dier) waarop die parasiet teer, word die gasheer genoem. Die gasheer raak swakker - veral wat sy voortplantingsvermoë betref, en die parasiet word sterker terwyl sy vermoë om te oorleef verbeter.

Die parasiet voed dus op die gasheer, maar maak dit nie noodwendig dood nie aangesien die gasheer die parasiet se lewensaar is.
VERSKILLENDE SOORTE
Plantparasiete maak net meer as 1% van alle plantspesies wat blom uit, met meer as 4 000 verskillende soorte ter wêreld.
Hulle kan verskillend geklassifiseer word: Shemiparasiete, wat grootliks van water en minerale voedingstowwe van hul gasheer afhanklik is. (Hemi beteken "half" in Grieks). Hierdie "plantdiewe" vervaardig ook hul eie kos deur fotosintese aangesien hulle wel oor chlorofil beskik.
Hul blare kan dus steeds groen wees en hulle kan hul eie groei en voortplanting verseker. Min mense weet dalk dat die ware Grinch van Kersfees die baie geliefde "mistletoe" is!

Dié plant wat so bekend is in Engels, word mistel of voëlent in Afrikaans genoem. Hollywood hou daarvan om jong paartjies en ou verliefdes onder die "mistletoe" te laat soen.
Die mistel is egter 'n gedeeltelik parasitiese plant wat die voedingstowwe van sy gasheer steel. Die naam van die Amerikaanse mistel bekend as Phoradendron beteken "boomdief" in Grieks, want dit is presies wat hierdie plante doen.
Die Nuytsia floribunda, of die Wes-Australiese Kersboom, is nog 'n voorbeeld in hierdie groep hemiparasiete.

Sholoparasiete is volkome afhanklik van die gasheer vir hul voortbestaan. (Holo beteken "heeltemal" in Grieks.)
Hierdie parasiete kan glad nie hul eie kos vervaardig nie en kan nie fotosintetiseer nie.

Dié organismes sink hul kloue in die takke en bas van die gasheer en suig koolhidrate, water en minerale daaruit.

Hierdie groep is nie vreeslik kieskeurig oor hul slagoffer nie, en hulle groei vinnig. Party van hierdie parasiete leef saam met die gasheer sonder om dié dood te maak.

Ander verg ál meer voedsel wat die gasheerplant nie kan voorsien nie. Die gasheerplant raak vatbaarder vir siektes en insekte, en ná 'n tyd sal die gasheerplant vrek en die parasietplant, soos dodder (warkruid), sal na sy volgende slagoffer aanbeweeg.
Fakultatiewe parasiete is organismes wat hulle tot parasitisme kan wend, maar nie ten volle op die gasheer staatmaak om hul lewensiklus te voltooi nie. Die sneeuplant of sneeublom (Sarcodes sanguinea) is 'n voorbeeld.

Verder heg sommige parasietplante aan die wortels (wortelparasiete) van gashere en ander aan die stingels (stingelparasiete).
HET JY GEWEET?
Die aardroos (Mystropetalon thomii) is 'n asemrowende holoparasiet met oranje tot pers blomme in 'n silindriese bloeiwyse wat van November tot Mei in sekere Kaapse fynbosstreke groei. Hulle teer op proteaspesies. Dis veral knaagdiere wat hulle bestuif, en miere dra die sade weg.
OP EIE BODEM
In Suid-Afrika het ons sowat 450 verskillende parasietplantsoorte. Van hierdie plante is groot met verskillende kleure, geure en vorms.
Die flapblomme van wortelparasiete het byvoorbeeld van die mooiste helder fluweelagtige kleure om insekte te lok om bestuif te word en so hul voortplanting te verseker. Die parasitiese blomplant Rafflesia arnoldii spog met die grootste individuele blom op aarde (dit het 'n deursnee van tot 1 meter en weeg tot 11 kg!) en is inheems aan die reënwoude van Soematra en Borneo.

Daar is twee hoofsoorte stingelparasietplante - die voëlentsoorte en slingerparasiete. Hulle is groter as wortelparasiete, maar minder opvallend omdat hulle nie so kleurvol is nie.

Die voëlentsoorte gebruik klein kiemwortels om die gasheer binne te dring en so sy sap en ander voedingstowwe te steel, terwyl die slingerplant eers in die grond ontkiem en dan letterlik sy gasheer beklim en uitsuig! Die dodder is 'n goeie voorbeeld hiervan.

Parasietplante het 'n spesiale wortelstruktuur bekend as 'n houstorium wat gebruik word om die weefsel van die gasheer binne te dring of rondom die gasheer te groei. Hierdie intrasellulêre struktuur word gebruik om die water en voedingstowwe uit die gasheer se plantselle te absorbeer sonder om die selle te vernietig.
KEUSE VAN GASHEERPLANT
Parasietplante verskil wat die keuse van 'n gasheer betref. Party is spesifiek en kies 'n bepaalde en enkele gasheer, terwyl ander van enige beskikbare plant - of soms gelyktydig van verskeie plante - 'n gasheer sal maak.
Faktore soos die wortelstelsel, ontkiemings- en groeityd asook die gasheer se verdedigingsmeganismes speel 'n rol in die toekomstige sukses van die parasietplant.
Soms het plante uitstekende verdedigingsmeganismes wat dit haas onmoontlik maak vir die parasitiese plant om 'n goeie houvas op die gasheer te kry. In die meeste gevalle is die weerstand wat die plant bied egter nie voldoende nie en is dit 'n maklike prooi vir die parasietplant.
VERSPREIDING VAN SADE
Parasitiese plante lok insekte met hul pragtige blomme en in baie gevalle eienaardige reuke soos die stank van vleis wat vrot. Die insekte en groter diere en voëls wat weer die insekte jag, asook die wind, help met die verspreiding van sade en wortels van die plante.

Hierdie soms dodelike plante kan ook, soos in die geval van die dwergvoëlentsoorte (Arceuthobium), self verantwoordelik wees vir die verspreiding van hul sade. Elke vrug van die dwergmistel het 'n enkele saad wat omring word deur 'n taai vloeistof.
Sodra die vrug ryp raak, bou druk op en dan skeur die dik skil oop waarna die saad teen 'n hoë spoed - tot 90 km/h - uitskiet (tot 15 m ver) en op sy volgende gasheer te lande kom. Die taai vloeistof help dat dit maklik vassit sodat die hele proses weer kan begin.
BRONNE: motherearthnews.com, phys.org, Twyford2018QuickGuidetoParasiticPlantsCurrentBiology.pdf, wildenjag.tv, gardeningknowhow.com, af.dualjuridik.org, botanyforbreakfast.wordpress.com, en.wikipedia.org, af.erf-est.org, kinooze.com, colnect.com, kinooze.com, britannica.com, fernkloof.org.za, educalingo.com, wildenjag.tv; FOTO'S: GALLO IMAGE/GETTY IMAGES
Hulp met skooltake
Jy kan al die vorige artikels van Huisgenoot in die Klaskamer koop en by klaskamer.huisgenoot.com aflaai.




















