Het jy al ooit 'n lekker happie na jou mond toe gebring en - kaplaks! - val dit op die grond? As dit al met jou gebeur het, het jy "krag" ervaar. Daar is gedurig kragte wat om ons voorkom. Daar is stoot- en trekkragte wat voorwerpe se spoed laat vermeerder, verminder of op een plek laat bly. Kragte laat 'n voorwerp beweeg.
Dink aan 'n gewigopteller wat 'n swaar gewig flink optel en bo sy kop hou. Hy gebruik sy spiere om die gewig op te stoot boontoe terwyl die swaartekrag van die aarde die gewig ondertoe trek. 'n Paar sekondes hou hy die gewig stil in balans bokant sy kop tot sy spiere moeg raak en hy die gewig terug grond toe laat val.

Hier is vir jou nog inligting oor verskillende soorte kragte en hoe hulle werk.
Twee soorte krag
Daar is twee hoofsoorte krag - kontakkrag en afstandkrag - en albei het die vermoë om te stoot of trek.
- Kontakkragte kom voor wanneer voorwerpe aan mekaar raak, soos wanneer jy 'n bal skop of jou boeksak op die grond sleep. Ander kontakkragte is onder meer wanneer jy 'n stukkie hout met skuurpapier skuur of wanneer 'n dwarswind jou amper van jou fiets af waai. Jy kan kontakkragte op verskillende maniere op dieselfde voorwerp toepas, byvoorbeeld wanneer jy 'n bal gooi, bons, rol of laat val.
- Afstandkragte (of niekontakkragte) kom voor waar twee voorwerpe op mekaar inwerk sonder om aan mekaar te raak. Hierdie soort kragte kan maak dat voorwerpe mekaar selfs op 'n afstand kan wegstoot of aantrek. Een van die afstandkragte is swaartekrag. Wanneer 'n appel uit 'n boom val, kan 'n mens sê die aarde se swaartekrag "trek" die appel grond toe. Magnetisme is nog 'n afstandkrag.
Kontakkragte
Laat voorwerpe beweeg
Wanneer jy minigholf speel, stoot jy die balletjie met die gholfstok. Die gholfstok oefen 'n krag op die balletjie uit wat hom op die grond vorentoe laat rol. As jy misslaan, bly die balletjie net daar waar hy lê omdat daar geen ekstra krag is om hom in beweging te bring nie.
Kan snelheid laat vermeerder
Die krag van die wind teen 'n windpomp laat die windpomp se lemme beweeg. Hoe groter die windsnelheid, hoe vinniger draai die windpomp se lemme. Lug bestaan uit onsigbare deeltjies. Wanneer daar wind is, beweeg die lugdeeltjies saam in die wind se rigting.
Wanneer daar iets soos 'n windpomp in hul pad is, stoot die deeltjies daarteen en laat die skroef draai. Dieselfde gebeur met vloeiende water.
In die ou dae het meulenaars 'n waterwiel in 'n rivier aangebring. Die bewegende waterdeeltjies druk dan teen die wiel se vinne, wat die waterwiel laat draai. So kan die meulenaar dan sy koring maal om meel te maak.
Laat snelheid afneem
Wanneer jy met jou fiets ry en jy moet stop, briek jy deur die remhandvatsels te druk. Die aksie word deur die remkabel na die remblokkies teen die wiel herlei wat saamtrek en 'n krag op die wiel uitoefen sodat die fiets stadiger ry en tot stilstand kom.
Nog 'n voorbeeld is renmotors wat in 'n versnelren teen 'n baie hoë spoed jaag. Om tot stilstand te kom, moet die renjaer 'n valskerm ontplooi om die motor se snelheid te breek sodat dit kan stop. Die krag van die lugdeeltjies teen die valskerm word lugweerstand genoem.
Laat voorwerpe se vorm verander
Wanneer jy tennis speel, verskaf die raket die krag om die beweging van 'n tennisbal te verander. Wanneer jy die bal slaan, pers die raket die bal saam.
Die raket se snare buig en rek 'n bietjie as gevolg van die krag van die bal. Sodra die bal wegbons van die raket af, keer die bal en die snare terug na hul gewone vorm en grootte.
Laat voorwerpe van rigting verander
Die doel van 'n raket of krieketkolf is om die rigting waarin die bal beweeg te verander. Die krag wat die kolf uitoefen wanneer dit die krieketbal tref, veroorsaak dat die bal van rigting verander en versnel.
Afstandkragte
Swaartekrag
Swaartekrag is die krag waarmee die aarde, maan en ander massiewe voorwerpe 'n ander voorwerp na hulle toe aantrek. Alle voorwerpe op ons planeet ervaar swaartekrag (ook genoem gravitasie) wat afwaarts na die middelpunt van die aarde gerig is.
Swaartekrag hou die planete in hul wentelbaan om die son en sorg dat die maan ook in sy baan om die aarde draai. Danksy die aarde se swaartekrag word ons atmosfeer, wat uit gasse bestaan, in posisie gehou - en dit keer ook dat jy nie wegdryf in die ruimte in nie.

Magnetiese krag

'n Magneet is 'n klip of 'n stuk metaal wat sekere soorte metaal aantrek. Die krag van magnete, oftewel magnetisme, is soos swaartekrag en elektrisiteit een van die basiese kragte van die natuur.
Magnetisme werk oor 'n afstand. Dit beteken 'n magneet hoef nie aan 'n voorwerp te raak om dit weg te stoot of aan te trek nie. Die magnetiese krag is die sterkste wanneer die magnete aan mekaar raak. Die kragte is ook die sterkste aan die punte oftewel pole (noord en suid) van die magneet.
As jy dieselfde pole van twee magnete na mekaar toe bring, sal hulle wegstoot van mekaar af. Twee verskillende pole (noord en suid) sal mekaar aantrek as jy hulle naby aan mekaar bring. Daar is twee soorte magnete - permanente magnete en elektromagnete.
- Permanente magnete verloor nooit hul magnetisme nie.
Hulle word gemaak deur magnetiese materiaal soos yster tot 'n baie hoë temperatuur te verhit en dan in die teenwoordigheid van 'n sterk magnetiese veld af te koel. Dit veroorsaak dat sekere van die klein deeltjies in die magneet in dieselfde rigting wys.
Die materiaal word dan magneties gemaak deur dit in nog 'n sterk magnetiese veld te plaas. Dit magnetiseer al die klein deeltjies wat reeds in dieselfde rigting wys. Elkeen van dié klein deeltjies oefen nou sy eie magnetiese veld uit.
Jy kan gewone voorwerpe soos 'n naald ook magneties maak deur dit met 'n staafmagneet in dieselfde rigting te vryf.
Het jy geweet?
Die noordpool van 'n magneet wys min of meer na die aarde se noordpool. Dis omdat die aarde self ook magnetiese materiaal bevat en dus soos 'n reusagtige magneet werk.
- Elektromagnete word gemaak deur elektrisiteit en 'n magnetiese materiaal soos yster te gebruik.
As elektrisiteit deur 'n koperdraad vloei, skep dit 'n magnetiese veld rondom die draad. As jy 'n draadspiraal om 'n ysterkern draai, kan jy die magnetiese veld vergroot en 'n elektromagneet maak.
Anders as permanente magnete kan jy die magnetisme van 'n elektromagneet afskakel deur die elektrisiteit te verwyder.
Hulp met skooltake
Jy kan al die vorige artikels van Huisgenoot in die Klaskamer koop en by huisgenoot.com aflaai.














