
Wanneer jy bome fyn dophou, kan jy sommer gou-gou sien in watter seisoen ons is - somer, herfs, winter of lente. Let vanjaar op na die verandering in die bome binne jou buurt. Seker die opvallendste verskynsel wanneer die winter sy tas pak en plek maak vir die lente, is die kleurvolle bloeisels wat bome skilderagtig laat lyk.
BOME IN SUID-AFRIKA
In Suid-Afrika is meer as 1 700 inheemse spesies bome en struike. Altesaam 47 van hierdie boomspesies word onder die Nasionale Wet op Bosse (Wet 84 van 1998) beskerm.

Beskermde boomspesies mag byvoorbeeld nie afgekap, verkoop (vir kommersiële doeleindes gebruik) of beskadig word nie.
Jy kan jou indink hoe elke boomspesie met sy eie unieke eienskappe ons land inkleur. Van die kleurvolle herfsblare en droë wintermaande tot die lente, wanneer verskeie boomspesies - hoewel nie almal nie - nuwe takke en blare vertoon.

Ongelukkig is baie natuurlike woudstreke met eeue oue bome in ons land al ontbos omdat die hout vir menslike gebruik ingespan word.

Boomsoorte soos die geelhout, swartysterhout en stinkhout is van die land se bekendste bome wat die afgelope 200 jaar in woudstreke soos die Knysnawoud uitgekap is.

Natuurlike woude bedek 0,4% van Suid-Afrika se landoppervlak (ongeveer 'n halfmiljoen hektaar), terwyl nog 39 miljoen ha deur 'n savanne-bosveld-ekostelsel bedek word.
Daar is ook sowat 1,49 miljoen ha bosbouplantasies.
Die staat probeer om jaarliks 10 000 ha nuwe bos aan te plant.
HET JY GEWEET?
Bome groei op elke vasteland behalwe Antarktika. Party kan duisende jare oud word. Kenners reken 'n yf oftewel taksusboom in Fortingall, Skotland, is tussen 2 000 en 3 000 jaar oud.
Suid-Afrika het tussen 2001 en 2019 ongeveer 25% van sy boombedekking verloor. Die hoofrede vir die vermindering in boomgetalle is ontbossing. Ontbossing is wanneer bome afgekap word.
Ons delf 'n bietjie dieper om vas te stel hoekom bome afgekap word en hoekom bome so belangrik is.
WAAROM IS BOME BELANGRIK?
- Die verwydering van koolstofdioksied uit die atmosfeer om lugbesoedeling teen te werk.
- Die voorkoming van gronderosie.
- Die vermindering van windspoed.
- Bome bied aan die mens, diere en insekte beskerming.
- Bome is 'n oorlewingsmiddel vir mense. Terwyl bome se hout vir vuurmaak en boupale gebruik kan word, hou dit ook groot medisinale waarde in. Die hout, bas, wortels, blare, blomme, vrugte en saad kan gebruik word om medisyne van te maak.
- Bome is vir baie mense 'n bron van voedsel.
- Bosbou verskaf lewensonderhoud aan minstens 650 000 mense wat in landelike gebiede woon.
- Verder is bome ook 'n groot geleentheid vir toerisme (om besoekers te lok). Dink byvoorbeeld aan die Knysnawoud en hoeveel stappers of besoekers die gebied kry.
- Nog 'n belangrike aspek wat tot die belangrikheid van bome - en ook tot ontbossing bydra - is die kommersiële voordele wat bome inhou. Kyk om jou rond. Hoeveel meubels, tafels, kaste en ook huise is nie van hout gemaak nie? Om nie eens te praat van al die papier wat ons gebruik nie. In Suid-Afrika word duisende bome uit plantasies vir menslike gebruik geoes. Die bosbousektor in Suid-Afrika het meer as 160 000 mense in diens en skep ongeveer 62 000 ekstra werkgeleenthede en nog 30 000 indirekte werkgeleenthede.
- Verder speel bome en hul vermoë om suurstof aan die atmosfeer te verskaf 'n kardinale rol in die stryd teen die klimaatskrisis. Bome neem die skadelike koolstofdioksied wat aardverhitting aanvuur uit die lug en skakel dit om in suurstof.

NASIONALE BOOMPLANTDAG
Juis omdat bome 'n teenwig is vir die groot hoeveelheid koolstofgasse wat onder meer deur fabrieke vrygestel word, is dit belangrik om die groei van bome te bevorder.

Suid-Afrika vier daarom elke jaar Nasionale Boomplantdag. Dié besonderse dag word in die eerste week van September gevier. Individue en ondernemings word aangemoedig om bome te plant.
Boomplantdag word sedert 1983 gedenk om onder meer die grootste, oudste en kultureel betekenisvolle bome te vier. Dit sluit in die historiese Sophiatown-eikeboom, asook Limpopo se kremetartbome en soveel meer. Elke jaar word 'n boom van die jaar aangekondig. In 2020 is twee bome - die essenhout en die kremetart - as die boom van die jaar aangewys.
In 1999 is boomplantdag na Nasionale Boomplantweek uitgebrei. Dit wil bewusmaking kweek vir volhoubare omgewingsbestuur deur aan mense die merkbare verskil te wys wat bome aan 'n omgewing kan maak.
Vanjaar se Nasionale Boomplantweek vind van 30 Augustus tot 5 September plaas. Die twee bome waarop gefokus word, is die soetdoring en spekboom.
BRONNE: ENVIRONMENT.GOV.ZA, MIELIESTRONK.COM, GLOBALFORESTWATCH.ORG, FORESTRYEXPLAINED.CO.ZA, EN.WIKIPEDIA.ORG, SAFORESTRYONLINE.CO.ZA, ROYALPARKS.ORG.UK, DIEVOORBLAD.CO.ZA, UNEP-WCMC.ORG, STORIES.RBGE.ORG.UK, BRANDSOUTHAFRICA.COM, FORESTRY.CO.ZA, FAO.ORG, KRUGERPARK.CO.ZAFoto
FOTO'S: GALLO IMAGE/GETTY IMAGE
Hulp met skooltake
Jy kan al die vorige artikels van Huisgenoot in die Klaskamer koop en by klaskamer.huisgenoot.com aflaai.




















