
Die Oranjerivier is Suid-Afrika se grootste, langste en belangrikste rivier. Dit ontspring uit die Maluti- en Drakensberge in Lesotho, waar dit as die Senqu bekendstaan.
Van waar dit Lesotho verlaat, vloei die Oranjerivier nagenoeg 2 200 km weswaarts deur die Oos-Kaap, Vrystaat en Noord-Kaap tot dit eindelik by Alexanderbaai in die Atlantiese Oseaan uitmond. Ons kyk na die belangrikheid van hierdie rivier wat lewe gee in die woestyn en 'n tuiste vir talle visspesies is.
Het jy geweet?
Die Oranjerivier staan in die Namataal as Kai !Garib (groot rivier) bekend. Dit is waarvan die naam Gariep afgelei is. Die huidige Kai !Garib- plaaslike munisipaliteit, met Kakamas as setel, is na die rivier genoem. Kol. Robert Gordon het die rivier in 1779 tydens 'n ekspedisie daarheen na die Nederlandse vors Willem V, prins van Oranje, herdoop.

Dreineringsgebied
Die Oranjerivier vorm saam met die Vaalrivier, sy grootste syrivier, 'n enorme dreineringsgebied van 973 000 km². Die Caledon is nóg 'n belangrike takrivier. Ander syriviere van die Oranje- en die Vaalrivier is die Brak-, Harts-, Klip-, Modder-, Mooi- en Vetrivier.
Die westelike deel van die dreineringsgebied (suid van die Namib- en Kalahariwoestyn) is dor en plat, en landbou is net moontlik met behulp van besproeiing omdat min reën daar val.
Hier vorm die rivier ook die grootste deel van die grens tussen Suid-Afrika en Namibië. Die reënval beloop hier minder as 50 mm per jaar. In droë jare vloei die Oranje dikwels nie tot in die see nie.
In die ooste van die dreineringsgebied waar die rivier op die plato op 'n hoogte van 3 300 m bo seevlak ontspring, is die reënval hoog - sowat 800 mm per jaar. In die Lesotho-hoogland kan tot 1 000 mm per jaar val.

Damme
Die Oranjerivier speel 'n groot rol in die ekonomie van Lesotho en Suid-Afrika.
Die rivier verskaf vars drinkwater en maak die besproeiing van landerye moontlik. Die Oranjerivier se hidroëlektriese kragsentrales help ook om krag op te wek. Die Oranjerivier-projek en Lesotho-Hoogland-waterprojek behels verskeie damme en tonnels wat water berg en vanuit die Oranjerivier herlei.

Die Gariepdam in die Suid-Vrystaat naby Colesberg is die grootste dam in Suid-Afrika. Daarvandaan word water in twee rigtings verskaf - weswaarts deur hidroëlektriese kragopwekkers na die Vanderkloofdam (130 km stroomaf van die Gariepdam), en suidwaarts deur die Oranje-Vistonnel na die Oos-Kaap. Die ander groot dam in die rivier is die Katsedam in Lesotho. Laasgenoemde is die hoogste dam bo seevlak in die Suidelike Halfrond.
Die Oranjerivier het 'n rol gespeel in Suid-Afrika se diamantstormloop van die 1860's. Vandag nog word spoeldiamante naby die riviermonding en in die see ontgin.
Landbouprodukte

Kanoneiland naby Upington en Keimoes is die grootste eiland in die rivier. Dit is 'n vooruitstrewende landbougebied danksy vrugbare grond en volop water vir besproeiing. In dié streek word heelwat druiwe gekweek - daar is selfs 'n Oranjerivier-wynroete. Ander landbouprodukte van die Oranjeriviervallei en ander besproeiingskemas, soos dié by Vaalharts, sluit in lusern, katoen, koring, grondboontjies en mielies.
Toerisme

Die Oranjerivier is onbevaarbaar vir groot bote en skepe omdat daar te veel stroomversnellings, watervalle, sandbanke en 'n paar damme voorkom. Avontuurlustige toeriste neem graag aan aktiwiteite soos kanoen vlotvaarte op die rivier deel.
Die Augrabieswaterval in die Augrabieswaterval Nasionale Park sowat 120 km oos van Upington is ook 'n groot toeristeaanloklikheid. Die rivier vloei ook deur die |Ai-|Ais/Richtersveld-vredespark aan weerskante van die Suid-Afrikaanse en Namibiese grens. Verskeie vakansieoorde word langs die rivier aangetref. Hengelaars geniet dit om in die rivier vis te vang.
DIERE, VISSE EN VOëLS
Benewens bokke, roofdiere en vee wat uit die omliggende landstreke langs die Oranjerivier kom water drink, kom daar geen groot diere in die rivier self voor nie. Die rivier is buite die reikwydte van die Nylkrokodil en ál die seekoeie wat daarin voorgekom het, is reeds in die 1800's uitgejag.
Daar is wel sewe visspesies wat endemies is in die Vaal-Oranjerivierstelsel, naamlik die klipbaber, Maloti-rooivlerkie, Namakwa-ghieliemientjie, riviersardyn, kleinbek- en grootbekgeelvis en die Oranjerivier-moddervis. Uitheemse visse wat voorkom, is onder meer die karper, bloukurper en rooiborskurper. Aan die bolope van die Oranjerivier sal jy die geelbekpaling vind wat eens op 'n tyd al die pad van die Atlantiese Oseaan opgeswem het en nou tuis is in Lesotho. In die kouer hooglandstreke is forelle ook vrygelaat, waar hulle nou gedy.
Daar is volop voëls naby die Oranjerivier. In die Richtersveld is 189 voëlspesies naby die rivier getel. Onder hulle tel die gewone spekvreter, bergwagter, bontvisvanger, kransswael, Afrikaanse oewerswael, kleinwitreier, reusereier, bloureier, hamerkop en visarend.

Suid-Afrika en sy buurlande in die Oranjerivier se opvangsgebied sal baie swaar kry sonder hierdie lewegewende natuurlike hulpbron.
Ons moet die rivier teen besoedeling beskerm omdat diere, voëls en visse van die water afhanklik is. Ons kan ook nie toelaat dat besproeiingswater uit dié rivier so besoedel is dat dit oeste verwoes of mense siek maak nie.

Dit is tans 'n probleem omdat myne hul chemikalieë en swak bestuurde munisipaliteite hoër op in dig bewoonde gebiede hul riool in takriviere soos die Vaal stort.
Foto's: GALLO IMAGE/GETTY IMAGES
BRONNE: RICHTERSVELDNATIONALPARK.COM, BRITANNICA.COM, DSPACE.NWU.AC.ZA, RESEARCHGATE.NET, PLACES.CO.ZA, WIKIPEDIA.ORG, IUCN.ORG, GLOBALAFRICANETWORK.COM
Hulp met skooltake?
Jy kan al die vorige artikels van Huisgenoot in die Klaskamer koop en by klaskamer.huisgenoot.com aflaai.




















