HG Junior

Vir skooltake: Die ontwikkeling van skrif

Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Ons kan die ontwikkeling van skrif beskou as een van die eerste suksesverhale waarin verskillende lande, volke, tale en kulture deur eeue heen 'n rol gespeel het in hoe ek en jy vandag lees en skryf. Ons verhaal begin in die antieke tyd in die Midde-Ooste en Egipte.

Skrif in Mesopotamië

Mesopotamië was vir talle uitvindings verantwoordelik wat deur latere beskawings uitgebrei en aangepas is en steeds vandag 'n groot rol in die samelewing speel.

In die suide van Mesopotamië het die Sumeriërs, teen 3 000 v.C., 'n soort wigskrif ontwikkel wat uit woordprente bestaan het.

Die wigskrif (spykerskrif) was 'n stelsel van piktogramme (beeldskriftekens) wat ontwikkel is om rekord te hou van hul saketransaksies. Dit is gemaak op kleitablette wat in die son gebak is om die skrif te bewaar.

Die eerste vorm van skrif is in Mesopotamië deur die Sumeriërs ongeveer 3000 v.C. ontwikkel en was 'n soort wigskrif wat op kleitablette gemaak is. Foto: Gallo Images/Getty Images
Die eerste vorm van skrif is in Mesopotamië deur die Sumeriërs ongeveer 3000 v.C. ontwikkel en was 'n soort wigskrif wat op kleitablette gemaak is. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die konings, soos Assurbanipal wat van 669-631 v.C. regeer het, het hierdie waardevolle geskrifte in enorme biblioteke bewaar waarvan talle tablette tot vandag toe behoue gebly het. Uit die tablette weet navorsers meer oor die Assiriese en Sumeriese geskiedenis, hul letterkunde, godsdiens en belangstelling in geneeskunde en basiese chirurgie.

Ook dat daar met skole begin is, 'n regstelsel was en die grondslag gelê is vir die ontwikkeling van 'n handelsekonomie.

Die Mesopotamiërs het met 'n stilus van been, riet of bamboes op die kleitablette geskryf. Dit het 'n driehoekige punt gehad wat ­gebruik is om prentjies mee te teken om wig- oftewel spykerskrif te maak. Dit het bestaan uit lyne wat breed begin het en dan al smaller na onder gevorm het.

Aanvanklik het elke simbool of figuur 'n hele begrip voorgestel, maar dit het later verander om 'n klankgroep aan te dui. Daar was meer as 600 skryftekens! Hierdie vorm van skrif het egter verlore gegaan tesame met die kennis om dit te ontsyfer, aangesien dit so tydrowend en ingewikkeld was om aan te leer en te doen.

In 1846 het die Engelsman sir Henry Rawlin­son dit ontsyfer nadat hy 'n inskripsie, nou bekend as die Behistun-inskripsie, in 1835 op 'n kranswand in Iran aangetref het.

Die Persiese koning Darius I het rondom 500 v.C. berigte oor sy veldslae in drie tale op rotse laat uitkap. Dit is in Oud-Persies, Babilonies en Elamities gedoen.

Die Babiloniese kaart van die wêreld van 510-500 v.C. Foto: Gallo Images/Getty Images
Die Babiloniese kaart van die wêreld van 510-500 v.C. Foto: Gallo Images/Getty Images

Hierdie ontdekking van die Behistun-­inskripsies het weer 'n groot rol gespeel in die ontsyfering van wigskrif, en daarna kon meer van die geskiedenis ontdek word.

Definisies

  • Hiërogliewe: 'n Skrif wat prentjies of simbole gebruik om woorde en klanke voor te stel
  • Wigskrif: Een van die vroegste skryfstelsels; 'n tipe spykerskrif
  • Papirus: Tipe riet wat in die Nylrivier gegroei het en waarvan papier gemaak is.
  • Demotiese skrif: 'n Nuwe vereenvoudigde, vloeiende skrifvorm wat vinniger geskryf kon word as hiërogliewe.
  • Rosetta-­steen: Wetenskaplikes het dit gebruik om die hiërogliewe te ontsyfer. Dit is in 1799 ontdek en het dieselfde teks in Egipties (geskryf in hiërogliewe), Egipties (geskryf in demotiese skrif) en Grieks bevat.
  • Stilus: 'n Skryfinstrument soos 'n pen of naald met 'n afgeplatte punt om skryftekens in klei te druk.

Skrif in Egipte

Handel was ook die motivering wat tot die ontwikkeling van skrif in Egipte gelei het. Die Egiptenare het op groot skaal begin handel dryf, en daar het 'n behoefte ontstaan om die verkope op te skryf, of daarvan boek te hou.

Dit was ook vir die farao's belangrik dat hul groot dade aangeteken word sodat hulle gunstig daarvoor deur die gode beoordeel kon word. Dit het aanleiding gegee tot die ontwikkeling van die Egiptenare se skryfstelsel.

Die skrif was in die vorm van beelde of prentjies. Elke prentjie het 'n klank voorgestel. Hierdie "skrif" staan bekend as beeld­skrif of ­hiërogliewe.

Die vroegste vorm van ­hiërogliewe, wat "heilige kerfwerk" beteken, is vanaf meer as 5200 jaar gelede gebruik. Aanvanklik is hierdie hiërogliewe op klip uitgekap, later op nat klei geskryf wat dan in die son droog gebak het en nog later op papier wat van riete uit die Nylrivier gemaak is. Hierdie rietpapier het as papirus bekendgestaan. 'n Riet het as 'n pen gedien en die ink is gemaak van 'n mengsel van plantgom, water en roet.

'n Gedeelte van die "Papirus van Ani", 'n pa­pirusmanuskrip met kursiewe hiërogliewe en kleurtekeninge uit 1250 v.C. Foto: Gallo Images/Getty Images
'n Gedeelte van die "Papirus van Ani", 'n pa­pirusmanuskrip met kursiewe hiërogliewe en kleurtekeninge uit 1250 v.C. Foto: Gallo Images/Getty Images

Persone wat geleerde skrywers was, het van die hoë beroepe in Egipte beklee. Hierdie skrywers is opgelei om die hiërogliewe te skryf. Aangesien dit uit prentjies bestaan het, was dit 'n baie tydrowende proses.

Daar is later 'n nuwe skrif, die demotiese skrif, ontwikkel om die skryfproses te versnel. Skryf het skielik baie vinniger geraak en die opgeleide skrywers het nie meer van beeldskrif gebruik gemaak nie. Die kuns om hiërogliewe te kon skryf en lees, het mettertyd verlore geraak en uitgesterf.

Met die ontdekking van talle tempels en grafte in Egipte kon niemand die pragtige ­hiërogliewe wat op die rots en klip was, ontsyfer nie. Tot in 1799 toe die Rosettasteen toevallig deur Napoleon se weermag ontdek is naby die dorpie Rosetta aan die Nyldelta.

Baie jare later kon wetenskaplikes die steen gebruik om die hiërogliewe te ontsyfer, aangesien daar drie teksdele op die steen was, naamlik Egipties geskryf in hiërogliewe, Egipties geskryf in demotiese skrif en Grieks. Aangesien Grieks bekend was, is daar gemeen dat die hiërogliewe dus so ontsyfer kon word.

'n Egiptiese kontrak in demotiese skrif op papirus. Foto: Gallo Images/Getty Images
'n Egiptiese kontrak in demotiese skrif op papirus. Foto: Gallo Images/Getty Images

Dit was die basis vir die jarelange ontsyfering van die hiërogliewe deur die geleerdes ­Thomas Young van Brittanje en Jean-François Champollion van Frankryk.

Daar word geskat dat hierdie inskripsies reeds in die jaar 196 v.C. gemaak is, en baie waardevolle en interessante inligting is daaruit verkry oor antieke Egipte, sy ­geskiedenis, leefwyse en mense.

Het jy geweet?

  • Die Egiptenare het geglo as jou naam nie êrens opgeskryf staan nie, jy ná jou dood eenvoudig sou verdwyn!
  • Die Behistun-inskripsie, wat gehelp het om wigskrif te ontsyfer, is in 2006 deur Unesco as 'n Wêrelderfenisterrein gelys.

Só het ons alfabet ontwikkel

Die Fenisiërs het 'n eenvoudiger skrif benodig om hul handelstransaksies op te teken. Hulle het 'n eenvoudige alfabet van 22 figuurtjies ontwikkel wat slegs uit medeklinkers bestaan het en klanke voorgestel het.

Tussen 1200-1000 v.C. is hierdie alfabet deur die Grieke aangepas deur klinkers by te voeg. Hulle het ook die rigting waarin geskryf is van links na regs aangepas en hul nuwe alfabet het uit 24 letters bestaan.

Die Romeine het die alfabet weer by die Grieke oorgeneem en vir hul behoeftes by Latyn aangepas. Heelwat later is daar onder­skei tussen hoof- en kleinletters en het lopende skrif ontwikkel. Westerse tale gebruik steeds hierdie lettervorme.

In die 14de eeu het Arabiese syfers gewild geraak in Wes-Europa. Voor dit was dit baie ­omslagtig en onprakties om berekenings te kon doen. Die stelsel is gegrond op die plekwaardestelsel wat ons vandag algemeen gebruik en oorspronklik deur die Arabiere van die Indiërs oorgeneem is.

Die Romeinse alfabet en die Arabiese syfers is algemeen in Wes-Europa aanvaar en deur hul reise en verowerings wêreldwyd versprei.

In 1454 het die Duitser Johannes Gutenberg die eerste drukpers ontwikkel wat gegote blokdrukletters gebruik het, en in 1455 is die eerste Bybel uitgegee.

Dit het gehelp dat ­boeke - en dus kennis - op groot skaal gedruk kon word en binne bereik van mense van alle stande was. Meer mense het geleer lees en skryf en kennis het vinniger versprei, wat weer tot meer uitvindings gelei het.

In 1455 het die Duitser Johannes Gutenberg die eerste Bybel gedruk en begin versprei.
In 1455 het die Duitser Johannes Gutenberg die eerste Bybel gedruk en begin versprei.

Voor die uitvinding van die boekdrukkuns kon die aantal handgeskrewe boeke in Europa in hul duisende getel word. Teen 1500, nie eens 50 jaar nadat die boekdrukkuns uitgevind is nie, was daar al meer as 9 miljoen boeke in omloop.

Teks: Cum Laude Media; BRONNE: af.eyewated.com; teachinghistory100.org; egypt.mrdonn.org; whc.unesco.org; mieliestronk.com; af.wikipedia.org; nl.wikipedia.org; historyextra.com

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM