HG Junior

Vir skooltake: Leiers wat omgee

Op 18 Julie het mense reg oor Suid-Afrika en die wêreld weer Mandeladag gevier. Op dié dag elke jaar dink ons aan die nalatenskap van oudpres. Nelson Mandela, 'n Suid-Afrikaanse leier wat medemenslikheid, verdraagsaamheid en versoening tussen mense nagestreef het.

Madiba (1918-2013) het probeer om 'n positiewe invloed op die wêreld te hê en 'n beter lewe vir almal te verseker. Daarom word mense oral in die wêreld aangemoedig om op Mandeladag 'n positiewe verskil in die lewe van ander te maak.

Die wêreld onthou Nelson Mandela nie net as 'n politikus en 'n wenner van die Nobelvredesprys in 1993 nie, maar ook vir sy opregte belangstelling in die mense om hom en dat hy tyd gemaak het vir belangrike én gewone mense.

Ware leiers soos hy het die vermoë om geskiedenis te maak en die wêreld ten goede te verander. Goeie leiers stel ook vir die res van ons 'n voorbeeld en wys ons hoe om op te tree en goeie waardes uit te leef.

BELANGRIKE EIENSKAPPE

Een van die belangrike eienskappe wat goeie leiers het, is die vermoë om om te gee. Dit behels dat 'n mens deernis 'n diepe meegevoel vir ander het, vriendelik is met mense en opreg besorg is oor ander. Iemand wat vriendelik en met empatie en genade teenoor ander optree, kan as 'n omgeemens beskryf word.

Omgeemense

Omgeemense deel sekere karaktereienskappe.

Hulle is bedagsaam, vrygewig,liefdevol, geduldig en vergewe ander hul foute. Hulle doen moeite om ander op hul gemak te laat voel. Hulle respekteer ander se privaatheid en geniet dit om ander mense spesiaal te laat voel, of dit nou is deur hul dade of net deur daar te wees wanneer iemand hulle nodig het.

HET JY GEWEET?

  • Die tema van Mandeladag, wat vanjaar op Sondag 18 Julie gevier is, was "One Hand Can Feed Another". Dit sinspeel daarop dat ons in een gemeenskap mekaar kan help.
  • Daar is meer as 220 000 geregistreerde organisasies in Suid-Afrika wat daagliks na mens en dier uitreik.

Omgeemense is sensitief vir ander se gevoelens en probeer so teenoor ander optree dat hulle beter oor hulself voel. Hulle gee om oor wat ander mense sê en luister werklik na ander se uitdagings, menings en voorstelle. Hulle maak tyd om ander te dien, selfs al hou hul werk hulle baie besig.

Nog 'n eienskap van omgeemense is verdraagsaamheid. Dit is 'n morele waarde en beteken hulle het respek vir die idees en oortuigings van ander - of hulle nou met daardie mens saamstem of nie.

Hulle het respek vir die verskille eie aan die menslike natuur, en vir al die verskillende kulture, godsdienste en maniere van dink, wees en optree. Die Verenigde Nasies (VN) vier op 16 November die Internasionale Dag vir Verdraagsaamheid.

Medemenslikheid is ook 'n belangrike eienskap van omgeemense en staan in Suid-Afrika as ubuntu bekend ("Ek is, omdat ons is") - dit is die geloof in 'n universele band van mededeelsaamheid wat die hele mensdom verbind.

Emeritus aartsbiskop Desmond Tutu omskryf ubuntu as volg: "Dis die kern van menswees. Ubuntu verwys veral daarna dat jy as mens nie in isolasie kan bestaan nie."

Tutu, wat in 1931 gebore is, is nog 'n goeie voorbeeld van 'n dienende omgeeleier uit eie bodem.

Desmond Tutu en Nelson Mandela. Foto: Gallo Images/Getty Images.
Desmond Tutu en Nelson Mandela. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Die geskiedenis het gewys dat passie, deursettingsvermoë, 'n onwrikbare geloof in die taak wat voorlê en 'n bereidwilligheid om daarvoor te veg van die eienskappe van die groot omgeeleiers soos hy en Mandela is.

Tutu is in 1984, terwyl hy nog die aartsbiskop van Kaapstad was, met die Nobelvredesprys bekroon. Hy is 'n menseregteaktivis en toegewy aan sy ideale van verdraagsaamheid en inklusiwiteit (gelyke geleenthede vir almal).

Hy stel in menseregtekwessies belang en is steeds op die rype ouderdom van 89 by verskeie projekte betrokke.

BEROEMDES WAT OMGEE

Van die bekendste en mees geliefde mense wat vir hul liefdadigheidswerk en opregte liefde vir mense onthou word, is prinses Diana (1961-1997) en Moeder Teresa (1910-1997).

Prinses Diana

Sy was betrokke by honderde gemeenskapsprojekte en organisasies, maar het veral gefokus op mense met ernstige siektes soos vigs, die slagoffers van landmynontploffings en kinders wat treur.

Prinses Diana. Foto: Gallo Images/ Getty Images.
Prinses Diana. Foto: Gallo Images/ Getty Images.

"Ek het geweet wat my plig was; dit was om uit te gaan en mense te ontmoet en hulle lief te hê," het Diana op 'n keer gesê.

Moeder Teresa

Moeder Teresa is wêreldwyd vereer vir haar versorging van die armes, sterwendes, weeskinders, melaatses en vigslyers. Sy was die stigter van die Missionaries of Chatrity in Indië, 'n Katolieke orde van nonne wat die armes in meer as 130 lande help. In 1979 is sy met die Nobelvredesprys vereer vir haar werk.

Moeder Teresa. Foto: Gallo Images/Getty Images.
Moeder Teresa. Foto: Gallo Images/Getty Images.

As jy nie honderd mense kan voed nie, voed dan net een," is haar beroemde woorde.

Emily Hobhouse (1860-1926)

Emily Hobhouse.
Emily Hobhouse.

Sy was 'n kampvegter vir menseregte gedurende die AngloBoereoorlog en was bekend as die "Britse engel van deernis".

Sy het verbete geveg vir vroue en kinders se menswaardigheid in die konsentrasiekampe. As filantroop en skrywer het sy geglo medemenslikheid ken geen grense nie, en sy word steeds as een van Suid-Afrika se grootste heldinne beskou.

Jacinda Ardern

'n Moderne leier wat groot lof vir haar leierskap ontvang, is die premier van Nieu-Seeland, Jacinda Ardern. Sy Word as 'n "nuwe soort leier" beskryf, een wat eenheid bewerkstellig deur sterk maar vriendelik wees, empatie te hê en dapper besluite te neem.

Jacinda Ardern. Foto: Gallo Images/Getty Images.
Jacinda Ardern. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Haar hantering van die covid-19-pandemie het internasionaal erkenning gekry. Haar opregte liefde vir haar land en sy mense is duidelik sigbaar en haar gewildheid en suksesse spreek vanself.

Vandag is daar talle bekende en minder bekende omgeeleiers wat met mening veg vir beter omstandighede, noodverligting en gelyke geleenthede.

Malala Yousafazai en Leonardo DiCaprio

So veg Malala Yousafzai van Pakistan vir beter opvoeding en onderwys vir vroue, en die akteur Leonardo DiCaprio gebruik sy roem om geld in te samel vir meer as 65 ekoorganisasies.

Malala Yousafzai van Pakistan veg vir beter opvoeding en onderwys vir vroue.
Malala Yousafzai van Pakistan veg vir beter opvoeding en onderwys vir vroue.

OMGEEBEROEPE

Plaaslik is daar duisende omgeehelde wat dag ná dag die goeie stryd stry. In jou gemeenskap maak hulle sop vir dié wat honger is, versorg dié wat in nood verkeer, gesels met en kuier by dié wat alleen is, en is altyd bereid om te help wanneer hulp gevra word.

Daar is verskeie beroepe wat ideaal is vir mense wat graag ander wil dien en help.

  • Organisasies sonder winsbejag beywer hulle vir alles en almal van kinders, vroue, armes, seniors, diere en plante tot taal, kuns en kultuur.
  • Gemeenskapswerkers by hierdie organisasies kom soms voor uitdagende omstandighede te staan en moet kampvegters vir die regte van mens, dier en kultuur wees.
  • Almal van geldinsamelaars, reklamemenseen kommunikasiebeamptes tot vrywilligerswat die kospotte roer of kleingoed en diere vertroetel, kan hier 'n rol speel.
  • Ander beroepsvelde wat mense vereis wat vir ander omgee en 'n positiewe verskil wil maak, is die onderwys, opleiding en die mediese veld - dink maar aan dokters, tandartse, sielkundiges en verpleegpersoneel.
  • Maatskaplike en geloofswerkers kry ook daagliks met mense en kinders in nood te doen en moet empatie en deernis hê om hulle te kan help. Nooddienste soos die polisie, brandweer en ambulanspersoneel dien ook die gemeenskappe, en dié werk vereis verder 'n aktiewe leefstyl.
  • Talle jong mense wat 'n verskil in hul gemeenskappe en land wil maak, raak ook by verskeie regeringsdepartemente betrokke.

BRONNE: warbletoncouncil.org, powerofpositivity.com, rachaelburgess.com, mandeladay.com, iol.co.za, dictionary.cambridge.org, crossroadshospice.com, theodysseyonline.com, livescience.com, brainyquote.com, sobercollege.com, mieliestronk.com, labour.org.nz, springsadvertiser.co.za, Targetcareers.co.uk, pmg.org.za, gov.za, medium.com, globalcitizen.org, healthline.com

FOTO'S: GALLO IMAGES/GETTY IMAGES, WIKIPEDIA, FACEBOOK/LEONARDO DICAPRIO

Hulp met skooltake

Jy kan al die vorige artikels van Huisgenoot in die Klaskamer koop en by klaskamer.huisgenoot.com aflaai.

Cum Laude Media

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM