HG Junior

Vir skooltake: Ons leer meer oor amberstene

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Dié moerasmuggie is 30 miljoen jaar gelede in Baltiese amber vasgevang. Foto: Gallo Images/Getty Images.
Dié moerasmuggie is 30 miljoen jaar gelede in Baltiese amber vasgevang. Foto: Gallo Images/Getty Images.

As jy nog nie Jurassic Park gekyk het nie, kan jy verskoon word as jy dink amber is net 'n mooi meisienaam of 'n pragtige siersteen. Maar hoewel die "ontdekking" van DNS in die oeroue druppel dinosourusbloed van 'n muskiet die fliekwêreld behoorlik op hol gejaag het, was die amber-omhulsel waarin die kosbare oerspesie se DNS geberg is die ware ster van die fliek.

En al stem wetenskaplikes nie saam oor die moontlikheid dat oeroue DNS in 'n insek behoue kan bly nie, word amber met deeltjies vel van reptiele, vere, stukkies been of heel insekte steeds wêreldwyd opgetel. Amber is verharde boomhars en is meestal tussen 20 en 100 miljoen jaar oud.

Dit word beskou as 'n edelgesteente en genesende kristal hoewel dit eintlik 'n organiese materiaal van verharde hars is.

Hars is 'n klewerige, taai produk gewoonlik afkomstig van naaldbome.

Sommige amber kan ook deeltjies van plante, insekte of diere insluit wat hulle baie kosbaar en uniek maak. Van die oudste stukkies wat al gevind is, is tot 320 miljoen jaar oud.

Amber kom in verskeie kleure voor, van deurskynend tot geel en rooi. Onlangs is blou amber ontdek, maar dis baie skaars. Foto: Gallo Images/Getty Images.
Amber kom in verskeie kleure voor, van deurskynend tot geel en rooi. Onlangs is blou amber ontdek, maar dis baie skaars. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Oorsprong

Die mensdom is reeds duisende jare lank gefassineer met die wonderlike goue klippies wat dikwels ná 'n storm op die strand uitspoel. Mense het agtergekom dit brand wanneer jy die klippies in 'n vuur gooi en gee dan 'n heerlike dennegeur af.

Het jy geweet?

Amber is 'n gewilde naam vir meisies en is van Arabiese en Franse oorsprong. Die naam beteken "juweel" omdat sierade daarvan gemaak word en verwys ook na die amberkleur. Amber is 'n geel kleur wat soos heuning of die oranje op 'n verkeerslig lyk.

Die ou Afrikaanse woord vir amber was barnsteen, wat saamgestel is uit 'n ou woord vir "brand" en "steen". Dit kan ook ander materiaal aantrek wanneer jy dit vryf. Hierdie "towerkrag" het dit 'n baie geliefde, gerespekteerde en misterieuse klippie gemaak.

Markte in Mianmar, waar amber volop voorkom, verkoop juwele wat daarvan gemaak word, soos ringe en armbande. Amber wat in Mianmar gekry word, kan tot 100 miljoen jaar oud wees. Foto: Gallo Images/Getty Images.
Markte in Mianmar, waar amber volop voorkom, verkoop juwele wat daarvan gemaak word, soos ringe en armbande. Amber wat in Mianmar gekry word, kan tot 100 miljoen jaar oud wees. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Hoewel amber van Alaska tot Madagaskar en op verskeie ander plekke in die wêreld aangetref word, is dit veral volop in die Baltiese kusstreke van Pole tot Litaue, die Dominikaanse Republiek en Mianmar.

Sowat 60 miljoen jaar gelede was daar naaldwoude waar die Baltiese of Oossee vandag is. Oor miljoene jare het die hars van die naaldbome deur 'n proses van sedimentasie deel van die gesteentes geraak en op die seebodem beland. Ná storms spoel die "goue klippies" uit en mense tel dit steeds op om te verkoop, te ruil, as ornamente te gebruik of om die skatte van verlore insekte of gediertes in die amber te ontdek.

Amber wat van die Dominikaanse Republiek afkomstig is, is tussen 16 en 20 miljoen jaar oud, terwyl Baltiese amber, wat gewoonlik vlieë, insekte en deeltjies van reptiele insluit, sowat 40 miljoen jaar oud is. Amber wat in Mianmar gevind word, kan 100 miljoen jaar oud wees.

In die 18de eeu het ryk Russiese tsaars muurpanele van 'n kamer in die Katharina paleis naby Sint Petersburg volledig van amber laat maak. Die panele is in die Tweede Wêreldoorlog gesteel, en sedert 2003 word 'n replika van die amberkamer in die paleis vertoon. Foto: Gallo Images/Getty Images.
In die 18de eeu het ryk Russiese tsaars muurpanele van 'n kamer in die Katharina paleis naby Sint Petersburg volledig van amber laat maak. Die panele is in die Tweede Wêreldoorlog gesteel, en sedert 2003 word 'n replika van die amberkamer in die paleis vertoon. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Die ouderdom van die steen maak dit 'n skatkis vir wetenskaplikes. Deur die oorskot in amber te ontleed kry hulle waardevolle inligting oor uitgestorwe plant- en dierspesies, die streek se plantegroei en ander waardevolle inligting oor 'n verlore prehistoriese wêreld.

Van die meer algemene ontdekkings in amber is plantdeeltjies, blare, stokkies en, minder gereeld, insekte.

Daar is reeds talle plantspesies geïdentifiseer in amber wat vir die mens en wetenskaplikes verlore sou gewees het sonder die beskermende gasheer.

Die fossiele wat in amber gevind word, verskil van die versteende fossiele wat paleontoloë bestudeer. Wanneer organiese materiaal (plante of diere) versteen, word die liggaam gedeeltelik of in sy geheel in die mineraliseringsproses vervang deur 'n harde, klipagtige materiaal.

Die vorm van die organisme word dus 'n afdruk in die steen, maar die organisme self verdwyn. Wanneer 'n organisme egter in amber verewig word, vorm 'n beskermende harslaag om die organisme. Dit bewaar die hele organisme, plant of dier soos hy op daardie oomblik in tyd was.

Amber spoel dikwels ná 'n groot storm op strande uit en mense tel dit op om te ruil of as ornamente te gebruik.
Amber spoel dikwels ná 'n groot storm op strande uit en mense tel dit op om te ruil of as ornamente te gebruik.

Genesende krag van amber

Amber is vir baie mense 'n begeerlike siersteen, terwyl ander glo dit het geheimsinnige mediese voordele.

Talle mense glo in die genesende krag van amber. Dit word reeds eeue lank in die volksgeneeskunde vir medisinale doeleindes gebruik. Daar word geglo dat die steen goeie geluk vir die draer inhou, asook verligting van kopsere bring, die immuunstelsel 'n hupstoot gee, help om deurmekaar gedagtes te orden, en dit bring by babas verligting van tandpyn.

Dit verlig na bewering ook die pyn van rumatiek, pynlike spiere en gewrigte en artritis. Die steen moedig kamstig spontaniteit aan en is 'n middel teen angs.

Hoe 'n antieke insek gevries is in tyd: vasgevang in boomhars wat oor eeue in amber verhard het. Foto: Gallo Images/Getty Images.
Hoe 'n antieke insek gevries is in tyd: vasgevang in boomhars wat oor eeue in amber verhard het. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Dit bring glo wysheid, emosionele balans en geduld. Die steen word ook soms vir reisigers gegee om hulle op hul paaie te beskerm.

Foto's: GALLO IMAGE/GETTY IMAGES

BRONNE AF.EFERRIT.COM, MIELIESTRONK.COM, TRULYEXPERIENCES.COM, JURASSICPARK.FANDOM.COM, FACTSANDDETAILS.COM, BRITANNICA.COM, THEATLANTIC.COM, RESEARCHGATE.NET, PINGTIPONG.COM, EUROPE.OCEANA.ORG, GEOLOGYPAGE.COM, AF.GEM.AGENCY, BUSINESSINSIDER. COM, BBC.COM, COSMOSMAGAZINE.COM, SCIENCING.COM, CHARMSOFLIGHT.COM, EN.WIKIPEDIA.ORG, BABYCENTRE.CO.UK

Hulp met skooltake?

Jy kan al die vorige artikels van Huisgenoot in die Klaskamer koop en by klaskamer.huisgenoot.com aflaai.

Cum Laude Media

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM