
Die grond onder jou voete bestaan uit piepklein stukkies klip wat oor duisende jare deur die wind, reën, son, diere, sneeu en gletsers fyngemaak is. Die stukkies klip bevat minerale wat in water kan oplos en wat plante dan as voedsel kan gebruik.
Daar is ook lewende en dooie dinge (organiese materiaal) in grond. As plante of diere doodgaan, eet organismes soos wurms, swamme en bakterieë dit.

Wat oorbly nadat die organismes klaar gesmul het, noem ons humus. Dit maak die grond vrugbaar. Tussen die stukkies klipdeeltjies waaruit grond bestaan, is daar klein, leë ruimtes. Dit kan met water en lug gevul wees. Plante se wortels het lug en water nodig om te kan lewe.
KLIPDEELTJIES

Daar is baie soorte grond, wat uit verskillende groottes klipdeeltjies en humus bestaan.
- As die stukkies klip groter as 2 mm in deursnee is, noem ons daardie deeltjies gruis.
- Kleiner deeltjies (0,05 mm tot 2 mm) staan bekend as sand. Jy kan sandkorrels ook met die blote oog sien, en sand voel grof.
- Baie klein klipdeeltjies (0,002 mm tot 0,05 mm) noem ons slik of leem. Jy moet met 'n vergrootglas kyk om die verskillende leemdeeltjies waar te neem. Leem of slik voel egalig tussen die tone. Droë leem voel soos meel.
- Die heel fynste stukkies klip (kleiner as 0,002 mm) kan jy net met 'n mikroskoop onderskei, en dit staan bekend as klei. Dit voel glibberig tussen jou tone.
Die meeste grond bevat hoeveelhede van ál die verskillende groottes klipdeeltjies.
TEKSTUUR

Die drie beste soorte klipdeeltjies vir grond waarin ons landerye en tuine kan aanlê, is kombinasies van sand, leem en klei.
Dié kombinasie bepaal die grond se tekstuur. As ons weet watter tipe tekstuur 'n tuin of landery se grond het, sal ons kan bepaal watter soort plante die beste daar sal aard. Die grond se tekstuur gee 'n aanduiding van die vrugbaarheid daarvan en hoe bewerkbaar die grond is.
Ons kan dan ook aflei hoeveel lug en water die grond kan hou en of die water sal dreineer.
BEPAAL DIE TEKSTUUR

Wetenskaplikes kan grond in 'n laboratorium toets en presies sê hoe dit saamgestel is, maar die meeste boere gebruik sommer die "worsmetode" om die tekstuur van hul plaasgrond te bepaal. Die navorsers van Suid-Afrika se Waternavorsingskommissie het hierdie eenvoudige toets uitgewerk waarvolgens jy jou grond se tekstuur kan bepaal.

- Sand bevat minder as 10% klei. Jy kan dit nie in 'n worsvorm rol nie, maar as dit net genoeg klei bevat, kan jy 'n stabiele sandballetjie vorm.
- Leemgrond bevat 10 tot 15% klei. Die korrels is van 'n middelslaggrootte en jy kan dit tussen jou duim en voorvinger smeer. Jy kan daarmee 'n bros "worsie" vorm.
- Sanderige leem bevat 15 tot 20% klei. Jy kan daarmee 'n dik "wors" vorm, maar dit sal breek as jy liggies daarop druk.
- Sanderige kleileem bevat 20 tot 35% klei.Jy kan dit in 'n stabiele worsvorm rol, maar dit breek sodra jy dit in 'n U-vorm probeer buig.
- Kleileem bevat 27 tot 40% klei. Jy kan 'n stabiele U-vormige "wors" daarvan maak, maar dit breek as jy dit in 'n ringvorm probeer buig. Sanderige klei bevat 35 tot 50% klei. Dit vertoon die eienskappe van klei, maar is ook grinterig wanneer jy dit vryf. Dit breek as jy 'n ring daarmee probeer vorm.
- Klei bevat meer as 50% klei. Die kleigrond vorm 'n stabiele ring wat nie bars nie en vertoon geen grinterigheid nie.

WAT VERKIES PLANTE?
Daar is nie eintlik iets soos die perfekte grondsoort nie omdat verskillende plante in verskillende soorte grond optimaal groei.
- Die meeste algemene tuinplante verkies leemgrond met 'n goeie balans van die verskillende deeltjies - ongeveer 40% sand, 40% leem en 20% klei - insluitend genoeg poreuse ruimte tussen die deeltjies vir lug en water, asook organiese materiaal (humus).
- Sekere plante, soos laventel, aartappels, komkommer en bone, groei egter beter in sanderige grond.
- Ander plante, veral dié met 'n vlak wortelstelsel soos blaarslaai, broccoli, kool en rys, aard goed in kleigrond.

As 'n mens weet met watter soort grond jy in jou tuin te doen het, kan jy plante daarin kweek wat in die grondsoort aard. Jy kan ook jou grondgehalte verbeter deur die tekstuur aan te pas. As jy tuinhande het - 'n uitdrukking wat beteken jy't 'n slag met plante - sal hierdie kennis vorentoe vir jou goud werd wees!
BRONNE: TOVERLEVEN.CULTU.BE, SOUTHAFRICA.CO.ZA, KIDS. KIDDLE.CO, FAO.ORG, GARDENERS.COM, GROWVEG.CO.ZA, CROPLIFE.ORG, WIKIPEDIA.ORG.
Hulp met skooltake
Jy kan al die vorige artikels van Huisgenoot in die Klaskamer koop en by
klaskamer.huisgenoot.com aflaai.




















