MySkool

Kunsonderrig kan help om kritiese denke te bevorder

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Kinders se kunswerke is meer as net mooi prentjies – dit kan kritiese denke bevorder.Foto: iSTOCK
Kinders se kunswerke is meer as net mooi prentjies – dit kan kritiese denke bevorder.Foto: iSTOCK

Een van die vakke wat by alle skole - vanaf laerskool tot hoërskool - beskikbaar behoort te wees, is kuns. Daar lê dieper voordele in dié vak as wat die meeste mense besef.

Kuns word gesien as 'n baie belangrike vak vir die ontwikkeling van kritiese denke in kinders en kan toegepas word in 'n verskeidenheid van ander vakke ook. Dit kan dus deur ouers en onderwysers gebruik word tot die voordeel van kinders, mits hulle weet hoe belangrik dit is en hoe om dit prakties toe te pas.

"Kuns inkorporeer al die belangrike faktore wat vereis word in kritiese denke - observasie, nadenke, interpretasie en toepassing," sê Desiree Hugo, akademiese hoof van die skoleafdeling van ADvTECH, 'n private onderrigmaatskappy.

"Ouers van jonger kinders ken die scenario baie goed: jou kind kom huis toe van die skool af met 'n nuwe kunswerk, jy loof hulle vir die goeie werk, plaas die kunswerk op die yskas en beweeg aan.

"Tog, deur meer tyd te neem om met hulle te bespreek wat die proses met die skep van die kunswerk behels het, kan ouers waardevolle insig in hul kind se denke kry, sowel as om hul vermoë om hul denke te kommunikeer, te bevorder," sê sy.

Wenke vir ouers en onnies

Hugo se raad aan ouers is om spesifieke vrae te vra oor die kunswerk. Voorbeelde sluit in: Wat het jy hier geteken? Hoekom het jy dit geteken? Hoekom het jy hierdie kleure gekies?

"Wanneer jy hul verduideliking hoor, gee dit jou 'n insig in hul wêreld en hef hul kunswerk van net nog 'n mooi werk na 'n konneksie en besprekingsgeleentheid. Dit is belangrik vir ouers om die tyd te neem en die moeite te doen daarmee," sê sy.

Onderwysers moet ook probeer om leerling te lei om waarnemings-kuns te skep om hul kritiese denke se kapasiteit te ontwikkel.

"As jy iemand vra om 'n blom te teken, gaan hulle waarskynlik een teken vanuit hul geheue met die sirkel in die middel en klein boë rondom die sirkel, met 'n stingel en dalk 'n blaar of twee. As jy egter 'n blom voor die kind neersit saam met 'n vergrootglas en vra om te teken wat hulle sien, gaan jy vind dat hulle dieper delf in die waarneming," meen Hugo

Bevorder kritiese denke só

Hier volg vier praktiese maniere om kuns te gebruik om kritiese denkvaardighede te bevorder.Vrye kunsprojekte:

Bied geleenthede en materiaal vir leerlinge om hulself vrylik uit te druk sonder streng riglyne en verwagtinge vir die uitkoms. Dit help hulle om die gereedskap tot hul beskikking te assesseer, hul verbeelding en probleemoplossingsvaardighede te gebruik, en hul vakmanskap te slyp.

Artistieke analise: Stel leerlinge bloot aan 'n wye verskeidenheid van kuns en lei in-diepte­besprekings oor hul observasies. Wat dink hulle het die kunstenaar gedink, hoekom dink hulle is sekere keuses tydens die skep van die kunswerk gemaak, hoe laat die kuns hulle voel, wat sien hulle in die kuns? Dit ontwikkel hul visuele verwerkingsvaardighede en skakel in met hul analitiese vaardighede.

Kombineer kuns en stories: Verleng die kunslesse deur vir leerlinge te vra om stories te ontwikkel gebaseer op hul werk. Hierdie stories kan karakters en karakterontwikkeling, plotlyne, en inspirasie vir opvolg-kuns insluit.

Kombineer kuns en akademie: Wiskundeprobleme word al vir baie lank benader deur die teken van sketse van die probleem. Dit kan ook in 'n verskeidenheid van ander vakke gebruik word deur 'n leerling te vra om 'n visuele voorlegging te skep van 'n probleem voor hulle, sowel as hul voorgestelde oplossing. Dit help hulle om die probleem te visualiseer en met dinkskrumsessies, alles terwyl hul kreatiewe vaardighede geoefen word.

Jip-Redaksie

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM