Matt Greenwood, 'n gr. 9-leerling aan die Koa Academy, 'n aanlyn skool, was deel van die wenspan by die 2024 First Tech Challenge- internasionale kompetisie.
Saam met sy Suid-Afrikaanse spanmaats het die 15-jarige seun van Kaapstad by meer as 18 000 jeugdiges uit 58 lande in Houston, Texas, aangesluit vir 'n opwindende vier dae lange kompetisie.
In die finale uitdaging het Greenwood se span, Texpand, kragte saamgesnoer met die Roemeense span, AICitizens, en die Kaliforniese span, The Clueless, om hul robotte te demonstreer.
Hulle het die top-eerbewys as die beste alliansie ontvang.
"Dit was 'n fantastiese ervaring vir ons almal en dit was lekker om te sien hoe Texpand op so 'n hoë vlak presteer. Dit is veral uitdagend vir ons as Suid-Afrikaners, aangesien al die robot-onderdele wat ons nodig het, teen 'n hoë koste vanuit die VSA ingevoer moet word. Ons ding dus mee op 'n baie kleiner begroting as baie van die Amerikaanse en ander internasionale spanne," sê Matt.
Die span moet 'n reeks uitdagings navigeer in die ontwerp, bou en demonstrasie van die werkverrigting van hul robotte. Hul begroting is beperk in vergelyking met die ander spanne en hulle moet lateraal dink en vindingryk wees om werkbare oplossings betreffende ontwerp te vind.
"Om ons span tot by Houston te kry, was ook 'n groot geldinsamelingsuitdaging. Dit was ons tweede jaar in die kompetisie en om deur AICitizens gekies te word om deel te wees van hul alliansie, was ongelooflik.
"Ons mikpunt vir volgende jaar is dat Texpand die span sal wees wat sy bondgenote in die uitdaging kan kies," sê hy.
Die kompetisie het baie geleenthede vir die Suid-Afrikaners gebied om saam met hul wêreldwye eweknieë te sosialiseer. Hulle het die tegnologiemaatskappye ARC en Rugged Robotics besoek wat die span bewus gemaak het van die wonderlike dinge wat in die bedryf aan die gebeur is.
Matt se ma, Lucy Greenwood, sê daar was 'n groot verskeidenheid voordele verbonde aan Matt se betrokkenheid by Texpand en die robotika-kompetisies.
"Die span moet 'n reeks uitdagings navigeer in die ontwerp, bou en demonstrasie van die werkverrigting van hul robotte. Hul begroting is beperk in vergelyking met die ander spanne en hulle moet lateraal dink en vindingryk wees om werkbare oplossings betreffende ontwerp te vind.
"Vanjaar het die span byvoorbeeld gebruikte materiaal soos 'n roomyshouer ingesluit gedurende prototipering en hul finale ontwerp het 'n paar unieke elemente gehad.
"Dit is deur die toernooi erken en die span het die Control-toekenning (die prys vir 'n span wat sensors en sagteware gebruik om 'n robot se funksionaliteit in die veld te verhoog), ontvang.
"Gedurende die kompetisies word die spanne ook geassesseer op kriteria soos ‘innemende professionaliteit', wat spreek tot die manier waarop hulle met teenstanders en bondgenote omgaan.
"Hoewel daar 'n sterk fokus op die ontwikkeling van wetenskaplike, tegnologiese, wiskundige en ingenieursvaardighede is, is ander vaardighede net so belangrik," sê sy.
Matt sê sy belangstelling in robotika, ingenieurswese en tegnologie is te danke aan sy kinderliefde vir Lego.
Hy is in 2022 deur 'n vriend aangemoedig om as 'n vakleerling by Texpand betrokke te raak.
"Ek is mal oor die cool goed en die voortdurende vooruitgang in robotika wat die wêreld gaan verander."
Matt het in 2024 by die Koa Academy aangesluit ná jare van tuisonderrig. Die buigsaamheid van aanlyn skoolopleiding het hom in staat gestel om sy Texpand-spanpligte na te kom.
Hy is nou die mees senior spanlid en is verantwoordelik vir die strategie, en van die media-aspekte van Texpand se bemarking, wat elke week minstens vier uur van sy tyd in beslag neem, en dit neem toe tot sewe uur per week gedurende kompetisies.
Mark Anderson, die hoof van die Koa Academy, sê hulle is baie trots op Matt.
"Dit is 'n ongelooflike prestasie en getuig van sy talent en toewyding, en dié van sy medespanlede. Die skep van 'n bemagtigende skoolomgewing wat ons leerlinge in staat stel om hul passies na te streef en in 'n veld soos robotika kan uitblink, is een van die kenmerke van 'n Koa-opvoeding.
"Matt se ervaring as 'n Texpand-spanlid is van onskatbare waarde. Hy kweek nie net aktief lewensbelangrike 21ste eeuse vaardighede soos kritiese denke en probleemoplossing nie, maar hy ontwikkel ook dinamies as 'n kommunikeerder, medewerker en spanlid."





















