Paul Roos Gimnasium se eerste rugbyspan het Saterdag vir die 17de agtereenvolgende jaar SACS laat les opsê in hul jaarlikse winterdag-saamtrek.
SACS, wat die week tevore Bishops verniel het, het Paul Roos Gimnasium eergister vir lang rukke goed vasgevat, maar danksy 'n stewige voorsprong wat die Stellenbossers in die eerste helfte opgebou het, het hulle SACS gemaklik met 28-10 geklop.
In Bloemfontein het Hoër Jongenskool Paarl vir die vierde agtereenvolgende jaar sy moses teëgekom teen Grey Kollege.
Paarl Gimnasium bly maar jaar ná jaar Rondebosch Boys' High se tier.
Hoewel die Paarliete die tuisspan vir 'n groot deel van die wedstryd harde bene laat kou het, het Grey oor genoeg skietgoed beskik om 'n oorwinning met 40-28 te beklink.
Die Landbouskool Boland en Wynberg Boys' High het die laaste paar seisoene die gewoonte om mekaar om die beurt te klop.
In Saterdag se kragmeting het sake driekwart deur die wedstryd nog betreklik gelykop verloop, maar toe vat die Agter-Paarl-span vlam om 'n oorwinning met 32-10 te beklink.
Stellenberg het op sy tuisveld wraak geneem vir verlede jaar se nederlaag teen Bishops. Danksy goeie skrumwerk en dryfspel was Stellenberg hierdie keer bobaas met 25-19.
Paarl Gimnasium bly maar jaar ná jaar Rondebosch Boys' High se tier.
In die Boland is daar steeds geen keer aan blink vertonings deur die eerste span van Hopefield nie.
Al het Rondebosch die besoekers kwaai laat sweet, het die Gimmies tog met 19-12 sake in hul guns beklink.
Milnerton, wat week ná week sy teenstanders katswink hardloop, het hierdie slag deur middel van onder meer uitstekende agterlynspel die span van Parel Vallei opgekeil. Agt drieë, gepaard met die betroubare skopstewel van die losskakel Chadwin Sellidon, het aan Milnerton 'n sege met 55-12 besorg.
Nadat die Hoërskool Bellville 'n groot voorsprong teen Wellington se Hugenote opgebou het, het die besoekers mooi teruggeveg, maar Bellville het net genoeg gedoen om met 32-29 te wen.
In Parow het die Hoërskool Tygerberg naelskraap maar tog welverdiend met 20-19 met Melkbosstrand afgereken.
In die Boland is daar steeds geen keer aan blink vertonings deur die eerste span van Hopefield nie.
Dié slag moes Piketberg dit ontgeld toe hy op sy tuisveld met 28-15 deur Hopefield gekarnuffel is. - Sarel Burger
















