Om die effek van beurtkrag te verminder, begin Inspired Schools South Africa volgende maand 'n sonkragprojek.
Met die projek, wat in September 'n aanvang sal neem en in Desember voltooi sal wees, wil Inspired Schools nie net die uitdagings van beurtkrag verminder nie, maar ook volhoubare energie bevorder.
Drie Wes-Kaapse skole is onder hul vaandel, naamlik Reddam House Atlantic Seaboard, Reddam House Constantia en Reddam House Durbanville, tesame met skole in ander provinsies.
As deel van die projek gaan hulle sonkragpanele en litiumbatterye by al hul skole installeer. Nie net gaan dit skoon en volhoubare energie genereer en hul koolstofvoetspoor verminder nie, maar verseker ook dat klastyd nie deur beurtkrag onderbreek word nie.
Ravi Nadasen, uitvoerende hoof vir Afrika by Inspired Schools, sê hulle neem met hierdie stap pro-aktiewe stappe om ononderbroke onderrig aan hul leerlinge te bied.
"Die projek is in lyn met ons toewyding tot volhoubaarheid en om leerlinge voor te berei vir 'n toekoms wat deur hernubare energie gedryf word."





















