Toe twee onderwyseresse en vriendinne van Darling sien dat daar 'n afwesigheid van klankspeletjies vir gr. R-leerlinge is, het hulle besluit om self hierdie gaping te vul.
Sanet Lategan, oorspronklik van Utrecht van KwaZulu-Natal, en Petro Kirsten van Despatch in die Oos-Kaap, se paaie het in 1987 in Darling gekruis.

"Ons albei was ongeveer vir 25 jaar by twee verskillende gr. R-skole in Darling betrokke. Alhoewel ons by verskillende skole gewerk het, het ons baie nou saam gewerk en ook graag die kinders van ons skooltjies met mekaar in aanraking gebring," sê Kirsten.
In hul bykans drie dekades in die onderwys het hulle gereeld gesukkel met die uitdaging dat daar nie leermiddels vir alles in winkels beskikbaar is nie en besluit om dit self te maak.
"Ons was veral gekonfronteer met die afwesigheid van klankspeletjies. In gr. R word 'n waardevolle fondasie gebou vir latere lees, want daar leer kinders reeds klanke - eers ouditief en later visueel - aan. Daar was 'n leemte in klankmateriaal wat fisiek deur die kinders hanteer kon word," vertel die twee vroue.
Saam het die twee toe besluit om klank- en woordspeletjies vir hul onderskeie skole te maak en het die kinders blootgestel aan die fisieke hantering van die klanke in hul korrekte vorm.
"Deur die klanke prakties rond te skuif, te hanteer en daarmee te bou, maak 'n geweldige groot verskil in klankvaslegging, -herkenning en -onderskeid."
Ná hul uittrede uit die onderwys, het hulle die afgelope jaar en 'n half besluit om hul droom te volg om 'n klank- en woordspeletjie te skep wat as 'n leermiddel kan dien.
Só is #mywoord gebore.
"Nie net trek leerlinge voordeel uit die speletjie nie, maar dit maak ook die leerkrag se taak makliker," sê Lategan.
Toe die proses om die speletjie te vervaardig, begin, wou hulle iets laat maak van 'n hoë gehalte, maar wat ook volhoubaar en veeldoelig is.
"Ons was baie geseënd met wonderlike mense wat gedurende die vervaardigingsproses ons pad gekruis het. Die proses was egter nie altyd maanskyn en rose nie, maar die persone het dit makliker gemaak. Soveel so, dat ons dit tot vandag as 'n wonderlike reis ervaar," sê hulle oor die ervaring.

Meer oor die speletjie
Nadat die speletjie gemaak is, was dit duidelik dat dit baie voordele vir grondslagfase-leerlinge (gr. R tot 3) inhou.
"Aangesien die speletjie op opsies en nie reëls gebaseer is nie, kan 'n onderwyser of ouer dit vir enige vaslegging, hetsy spelling, woordherkenning, lettergrepe, ensovoorts aanwend."
Boonop is #mywoord nie net gerig op Afrikaanssprekendes nie, want ná geweldig baie navorsing het hulle gevind dit kan ook gebruik word vir ander tale soos onder meer Engels, Xhosa en Zoeloe.
"Besoeke aan terapeute en demensie-ondersteuningspersoneel, het dit duidelik gemaak dat #mywoord ook uitstekende terapie vir persone ná beroertes inhou en ook as breinstimulasie vir vroeë demensie aangewend kan word.
"Dit is nie op ouderdom of graad gerig nie, die speletjie is ontwerp om te fokus op ontwikkelingsvlakke en/of fases waarin 'n persoon hom of haar nou in die lewe bevind."
Die speletjie bestaan uit teëltjies van plexi-glas waarop die klanke ingegraveer is en daarna met permanente olieverf geverf is. Die klinkers is rooi en die medeklinkers is swart.
Elke klank het 'n strepie aan die onderkant om verwarring te voorkom en bestaan uit vier stelle van die alfabet, maar die klinkers is dubbeld soveel.
Die grootte van die teëls maak dit ook maklik hanteerbaar ongeag die fisieke handvaardighede van die speler of pasiënt.
Hoewel #mywoord nuut is, hou dit alreeds groot belofte vir leerlinge en ook as terapeutiese oefening in en die vroue het reeds idees en voorstelle ontvang vir pakkette. Tans ondersoek hulle alle moontlikhede vir die uitbreiding van hul opvoedkundige produk.
Dit kan ook as 'n woordbou-bordspel gespeel word waaraan een tot vier persone kan deelneem. Daar is 128 teëltjies wat met die gesig na onder op die tafel geplaas word. Elke speler ontvang 'n letterbord waarop 14 teëltjies gepak word. Elke persoon kry (kloksgewys) 'n beurt om 'n woord/woorde op die tafel te bou. Nadat 'n woord gebou is, tel die speler dieselfde getal teëls wat gebruik is weer op. Daar is deurgaans 14 teëls op die letterbord totdat al die teëls opgetel is.
"Ons poog om by soveel as moontlik kinders, skole, versorgingsoorde, nasorg-instansies en almal wat van woorde hou, uit te kom.
"Almal moet die voorreg hê om klanke te geniet, want dit dra by tot beter woordbou en spelling. #mywoord se droom is om goeie lesers te kweek, want lees gee ons vlerke," sê hulle.
• Stuur 'n e-pos na info@mywoord.co.za vir meer inligting of om jou #mywoord teen R600 per speletjie te bestel. Volg hul Facebook-blad MyWord Multigame.




















