Die Hoërskool Durbanville se eerste rugbyspan het Saterdag tydens sy interskolestryd teen die Hoërskool Stellenberg 'n duur prys betaal toe hy vele puntekanse verlore laat gaan het en die Stellies daarmee vir die tweede agtereenvolgende jaar bobaas was.
Hoewel die Durbies die meeste aanvalswerk gedoen het, het hy homself gekelder met talle ongedwonge foute. Die gevolg was dat die besoekers welverdiend 21-12 gewen het.
Rondebosch en Bishops het die "gebruik" om mekaar deurentyd om die beurt te klop. En vanjaar is nie hiervan afgesien nie. Nadat Bishops vroeër vanjaar in 'n eerste kragmeting aan die wenkant was, het Rondebosch eergister hul buurmanstryd naelskraap 36-35 gewen met 'n drie net voor die eindfluitjie.
SACS sal waarskynlik dankbaar wees dat die 2023-seisoen op sy rug lê. Die Nuwelanders was vanjaar selde aan die wenkant en Saterdag het hulle vir die sesde keer agtereenvolgens die knie gebuig teen Wynberg Boys' High toe die tuisspan SACS met 36-14 laat swig het.
Die Hoër Tegniese Skool Bellville daarenteen het op sy beurt 'n besonder suksesvolle seisoen agter die rug. In die laaste reeks ligawedstryde het hy ook die knap span van die Hoërskool Hottentots-Holland kortgevat. Hierdie Bellvilliete se oorheersing voorlangs en goeie afronding deur die agterlyn het die tuisspan met 'n wen van 29-21 laat seëvier.



















