MySkool

Welslae verg volle toewyding

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Terwyl matrieks voorberei vir die eindeksamen en terwyl hulle skryf is die ondersteuning van hul ouers ook belangrik.Foto: iSTOCK
Terwyl matrieks voorberei vir die eindeksamen en terwyl hulle skryf is die ondersteuning van hul ouers ook belangrik.Foto: iSTOCK

Dis nou die tyd wat matrieks telkens herinner word om ernstig te begin dink aan die eindeksamen en daarvoor voor te berei. Alles lê egter nie net in hul eie hande nie - hul ondersteuningstelsel is net so belangrik.

Dit is 'n spanningsvolle en emosionele tyd vir baie matrieks, want hulle is toegegooi onder studiemateriaal.

Ouers self is oorweldig en weet nie altyd hoe om hul kinders te ondersteun sonder om oormatig betrokke te raak nie.

"Ouers streef onverpoos daarna om hul kinders se sukses binne hierdie uitdagende raamwerk te verseker," sê dr. Linda Meyer, besturende direkteur by The Independent Institute of Education se Rosebank College.

"Digitale ouerskapplatforms is oorlaai met oproepe van ouers en voogde van gr. 12-leerlinge vir raad en leiding. Hierdie wekroep toon ouers se kollektiewe onsekerheid oor hoe om voldoende leiding aan hul kinders te verleen."

Daar is verskeie maniere waarop ouers en voogde matrieks kan help en sy deel ook wenke wat matrieks self kan volg.

"Voorbereiding vir die matriekeksamen gaan net soveel oor beplanning, voorbereiding en volharding as oor kennis.

"Leerlinge kan met selfvertroue hul akademiese prestasie verbeter en eksamens die hoof bied deur sistematies, gefokus en proaktief te wees" sê Meyer.

"Die belangrikste is dat ouers buigsaamheid en begrip toon in hul ouerskapbenadering tydens dié tyd.

"Jong volwassenes, met hul eiesoortige persoonlikhede en hanteringsmeganismes benodig aangepaste ondersteuning.

"Buiten akademiese uitdagings en oorwinnings moet ouers die reis saam met hul gr. 12-kind waardeer en deurlopende leer, persoonlike evolusie en die kind se vermoë om terug te bons, ongeag die akademiese uitkoms, vier."

Help jou kind so

Meyer deel die volgende riglyne wat ouers kan gebruik om hul kind te ondersteun:

Selfbewustheid: Dit is belangrik dat ouers bewus moet wees van hul eie emosies ten opsigte van akademiese prestasie en dit doelbewus moet bestuur.

Met hierdie stabiliteit sal ouers hul kind kan ondersteun in plaas van om by te dra tot verhoogde angsvlakke.

Breër perspektief: Gr. 12-eksamens is betekenisvol, maar dit verteenwoordig net 'n hoofstuk in 'n kind se uitgebreide opvoedkundige verhaal.

Nóg maniere om jou kind te ondersteun

  • Jy kan ook betekenisvolle ondersteuning aan jou kind gee deur middel van praktiese fasilitering en emosionele verankering.
  • Praktiese fasilitering
  • Holistiese skedule-ontwerp: Jy kan paniek verminder deur die studiesessies te help beplan. Vir die skep van 'n gebalanseerde studieskedule, kry 'n omvattende oorsig van die eksamentydlyn.
  • Simulasie: Deur werklike eksamentoestande by die huis na te boots, kan kinders insig kry in areas wat aandag benodig. Dit sal hulle help om vertroud te raak met eksamentoestande.
  • Begeleide onafhanklikheid: Dit is belangrik dat ouers beskikbaar is om leiding en ondersteuning aan hul kinders te bied, maar hulle moet ook die leerling toelaat om self deur probleme te werk en self voorbereiding te doen. Dit sal die kind se kritiese denke en probleemoplossing bevorder.
  • Digitale dissipline: Tegnologie kan 'n tweesnydende swaard wees. Dit is van kardinale belang om grondreëls op te stel om te verseker dat digitale toestelle studieskedules help, eerder as om dit te ontwrig.
  • Emosionele verankering
  • Die skep van 'n rustige omgewing: Om konsentrasie en geestelike helderheid te bevorder, is dit belangrik om 'n rustige en skoon omgewing vir die kind te skep.
  • Holistiese welstand: Maak seker die leerlinge doen aktiwiteite soos oefeninge en meditasie, kry genoeg rus en volg 'n gesonde dieet.
  • Empatiese dialoog: Maak seker daar is 'n veilige omgewing waar die leerling sy of haar vrese, aspirasies of akademiese uitdagings vrylik kan bespreek. Aktiewe, nieveroordelende luistertegnieke kan terapeutiese waarde inhou.
  • Vier mylpale: Om 'n leerling se selfvertroue en dryfkrag te verhoog, moet hulle erkenning kry vir akademiese uitslae, moeite, toewyding en klein prestasies.

Meyer deel die volgende strategieë wat geïnkorporeer kan word in die weke voor die eindeksamen om leerlinge se welstand en akademiese sukses 'n hupstoot te gee.

  • Vestig 'n roetine
  • Beplan en stel 'n studieskedule op. Maak seker die werk word in hanteerbare hoeveelhede opgedeel sodat jy nie oorweldig voel nie.
  • Spandeer meer tyd en aandag aan uitdagende vakke en moeilike onderwerpe.
  • Onthou om gereeld kort pouses te neem sodat jy nie uitbrand nie.
  • Optimale studieomgewing
  • Kry 'n studie-area wat stil is met geen steurnisse nie.
  • Maak seker die plek waar jy studeer is genoegsaam belig sodat jy alle stremming op jou oë verhoed of verminder.
  • Organiseer jou studiemateriaal (boeke, notas, skryfbehoeftes, ensovoorts).
  • Doeltreffende studietegnieke
  • In plaas daarvan om heeltyd deur die werk te lees, toets jouself gereeld deur leerinhoud hardop te herroep.
  • Gebruik breinkaarte/flitskaarte om konsepte visueel te verbind en voor te stel.
  • Verduidelik 'n onderwerp aan iemand anders wat sal help om jou begrip te versterk.
  • Vorige eksamenvraestelle
  • Hersien en voltooi vorige eksamenvraestelle, want dit gee jou 'n voorbeeld van die eksamenformaat en soort vrae wat jy sal kry.
  • Dit sal ook help om te sien of jy die tydsdruk tydens die eksamen sal kan hanteer.
  • Beperk afleidings
  • Probeer om jou sosiale media minder tydens studies te gebruik, of oorweeg dit om sekere platforms te blokkeer.
  • Groepstudie
  • Dit kan help om verskillende perspektiewe te kry en oplossings vir probleme bied as jy in 'n groep werk. Maak net seker dat jy gefokus en produktief bly.
  • Wees gereed vir eksamendag
  • Maak seker jy het alles by jou wat jy vir die eksamen benodig, soos jou ID-dokument, skryfbehoeftes, sakrekenaar, ensovoorts.
  • Wees betyds vir elke vraestel sodat jy nie stresvol opdaag nie.
  • Word rustig en kalmeer jou gemoed voordat jy met die eksamen begin. Haal diep asem.
  • Soek hulp wanneer dit nodig is
  • As jy met 'n onderwerp sukkel, vra jou onderwyser of 'n klasmaat vir hulp en oorweeg ekstra onderrig.
  • Wanneer jou stres oorweldigend raak, soek berading of praat met iemand om jou geestelike welstand te verseker.
  • Bly ingelig
  • Maak seker jy is op hoogte van enige veranderinge rondom die eksamen, of dit nou datums, lokaalveranderings of veiligheidsprotokolle behels.

Anderkant die boeke

Eksamens is belangrik, maar dit definieer nie jou menswees, waarde of toekoms nie. Daar is verskeie paaie na sukses.

Jip-Redaksie

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM