MySkool

Witwarm-talent gesoek

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Skryf jou skool se talentvolle koor of toneelgroep in vir die Witwarm-kunstefees. Foto: iSTOCK
Skryf jou skool se talentvolle koor of toneelgroep in vir die Witwarm-kunstefees. Foto: iSTOCK

As jy deel is van 'n koor of toneelstuk by jou skool, kry die kameras gereed om dit op te vang en in te skryf vir die Witwarm-kunstefees.

Netwerk24, in samewerking met Die Burger, Beeld en Volksblad, bied vanjaar 'n digitale kunstefees, die eerste in sy soort, aan.

Die kunstefees bied geleenthede aan skole om in twee kategorieë deel te neem - koorsang en toneelspel.

Dit Witwarm-kunstefees is die eerste skolekunstefees in Afrikaans wat fokus op kreatiewe toneelspel en koorsang. Prysgeld van R150 000 is op die spel!

Hoe werk die kompetisie?

Hoër- en laerskole word genooi om 'n kort video, opgeneem met 'n slimfoon, van 'n maksimum van vyf minute (sonder enige spesiale-effekte-redigering), in te skryf in een van twee kategorieë - die toneel- en die koorafdeling.

Ná afloop van die kompetisie se sluitingsdatum op 26 September, sal die topagt-skole in albei kategorieë se video's op Netwerk24.com beskikbaar wees.

Die skool wie se video van 2 tot 9 Oktober die meeste gekyk word en wat die meeste kommentaar ontvang, staan 'n beter kans om te wen.

Beoordelaars sal met die hulp van die topvideo-interaksies (kommentaar en kykgetalle) op Netwerk24 uiteindelik besluit wie die wenners van die Witwarm-kunstefees sal wees.

Die prysgeld is as volg:

  • In die toneelafdeling kry die wenskool R50 000 en die naaswenner R25 000.
  • In die koorafdeling kry die wenskool R50 000 en die naaswenner R25 000.

Meer oor die afdelings

Toneelafdeling: In hierdie afdeling verwag hulle 'n toneelskets van minder as vyf minute in videoformaat (mp.4 of mov) sonder enige spesiale-effekte-videoredigering. Dit kan 'n nuutgeskepte skets of 'n uittreksel uit 'n toneelstuk wees. Dit kan ook enige plek opgeneem word - by die skool, huis, see of in die Bosveld. Daar moet streng by die vasgestelde vyf minute gehou word, geen spesiale-effekte-redigering word toegelaat nie en die klank en beeld moet duidelik wees.

Koorafdeling: Soortgelyk aan die toneelafdeling word die a cappella-koor-/sang-/musiekstuk tot vyf minute beperk. Dit moet met 'n slimfoon opgeneem word. Die werk moet deur twee of meer leerlinge uitgevoer word en kan in enige milieu wees. Die klank moet duidelik en hoorbaar wees.

Dit kan 'n nuutgeskepte musiekstuk, 'n medley van liedjies of 'n bekende liedjie/koorstuk wees.

Hoekom geen redigering?

Witwarm-inhoud (of "viral"-inhoud) is wanneer iets in sy mees outentieke formaat opgelaai word.

Netwerk24 wil outentieke spel en sang aanmoedig om skole se volle talent en potensiaal ten toon te stel. Die video moet met 'n slimfoon verfilm word om tyd te bespaar en dit kostedoeltreffend vir die skool te maak - maar ook om alle skole 'n gelyke kans te gee met die inhoud wat hulle skep.

Kry jou kreatiewe sappe aan die gang en skryf nou in!

Jip-Redaksie

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM