
Kyk, ma, ek's op tv!
Maitreyi (20) laat ons lekker saam lag én huil in die derde seisoen van haar tienerkomediereeks, Never Have I Ever op Netflix. Die aktrise speel die Indies-Amerikaanse tienermeisie Devi Vishwakumar wat sukkel om voort te gaan nadat haar pa tragies by haar orkesrepetisie gesterf het. In die jongste seisoen moet Devi die druk van die lewe op hoërskool én al die drama by die huis trotseer terwyl sy ook verlief raak.
Maitreyi se ouers is Tamil en het in hul 20's weens die oorlog in Sri Lanka na Kanada gevlug. Maitreyi is daar in die stad Mississauga gebore waar sy al haar lewe lank bly. Sy het ná hoërskool besluit om toneel te speel. Minder as 'n jaar later het sy haar eerste rol in Never Have I Ever losgeslaan.
Só sê jy haar naam
Jy spreek haar naam uit "Mei-trei-jee". Die aktrise weier om 'n bynaam te gebruik - haar naam is immers haar trots en identiteit. Sy't geen simpatie vir mense wat dit nie reg kan sê nie. "As jy die karakters se name in
Game of Thrones kan sê, kan jy my Tamil-naam sê," meen Maitreyi.
Mindy se mini-me
Maitreyi het stof in 15 000 ander aktrises se oë geskop om die rol van Devi los te slaan. "My bestie het die twiet vir die oudisies op sosiale media gesien, 'n skermgreep gemaak en vir my gestuur," vertel sy. Al rede hoekom sy die oudisie gedoen het, was om saam met haar vriendin uit te hang. Hulle het biblioteek toe gegaan, 'n studiekamer bespreek en hul oudisievideo's geskiet. Ná nog 'n paar oudisies is die rol toe hare.

Haar karakter, Devi, is losweg gegrond op die aktrise Mindy Kaling se grootwordjare. Maitreyi is mal oor Mindy en was 'n groot aanhanger van haar sitkom The Office. Dit was vir haar lekker om iemand op TV te sien wat soos sy lyk.
Maitreyi en Devi het ook baie in gemeen. Sy was op skool ook 'n boekwurm en in 'n band, en daar was sommer baie oomblikke wat haar laat cringe het op skool.
Sy's 'n baanbreker
Die reeks is reeds vir 'n vierde en finale seisoen hernu. "Die program het regtig my lewe verander," sê sy. "Ek was net 'n gewone 17-jarige hoër-
skoolmeisie wat haar beste lewe gelei het toe ek die rol kry. Nou kan ek sê ek was deel van iets wat 'n baanbreker was en die geskiedenis verander het. Dis so 'n groot eer.

"Daar is nie woorde om te beskryf hoe dankbaar ek is vir alles wat gebeur het danksy Never Have I Ever nie. In my grootwordjare het ek myself nooit op die skerm gesien nie - nes baie ander jong meisies. Daar is selfs vandag steeds nie baie verteenwoordiging nie, maar ek weet dit is net die begin. Almal verdien daardie verteenwoordiging."
Droomrol
In Maart is nog een van haar drome bewaarheid toe sy die stem van Priya in die animasiefliek Turning Red verskaf het. Die rolprent gaan oor die 13-jarige Mei Lee wat in 'n groot rooi panda verander wanneer sy gestres of opgewonde is. Die karakter Priya was een van Mei se besties.
Maitreyi het nog altyd daarvan gedroom om 'n animeerder te word. "As kind het ek gesê ek wil deel wees van 'n animasiefliek vir Pixar en dit het toe so uitgewerk," sê sy. Sy het selfs die kans gekry om in die Pixar-ateljee in Los Angeles haar stem te gaan opneem. "Dit was nog altyd my droom om daar te werk, en dit was 'n wonderlike ervaring. Ek het selfs Sulley van Monsters, Inc. daar gesien."
Op 'n hartseer noot
Sy is mal oor animasieflieks en het gedink Up (2009) is vreeslik oulik. Haar gunsteling-Pixar-animasiefliek is Coco, wat gaan oor 'n jong Mexikaanse seun wat sy oumagrootjie se herinneringe lewend wil hou.

Sy hou daarvan om die fliek te kyk omdat dit haar aan haar eie oumagrootjie herinner. "Ons was baie geheg aan mekaar. Sy het alzheimers gehad," vertel Maitreyi.
"Wanneer die ouma in Coco sterf, is dit altyd vir my hartseer." Die eerste keer wat haar familie haar hoor sing het, was toe sy Leonard Cohen se liedjie "Hallelujah" by haar oumagrootjie se begrafnis gesing het.
- Vir inhoud wat die lewe vir ouers en skoolkinders makliker maak, teken gerus in by "Huisgenoot Junior".
Teken in op ons nuusbriewe
Kry die dag se sterkste stories, die week se lekkerste resepte, die maandelikse nuus oor modes, boeke, skoolsake en hartsake. Teken nou in!























