Inskrywings vir Beeld se kreatiewe skryfkompetisie stroom reeds landwyd in. Marjoné Barnardo (16), wat tuisonderrig ontvang, het ingeskryf in die oop afdeling met die tema "Wat ek die beste in Afrikaans kan sê". Hier is 'n paar van die woorde uit Marjoné se pen:
"Ek is trots op my taal, Afrikaans. Vir my is dit 'n pragtige taal wat ryk is aan geskiedenis en kultuur. Ek glo dat daar baie voordele is om 'n taal te magtig wees, veral as daar 'n passie en liefde is vir die taal.
"Een van die beste dinge wat ek in Afrikaans kan sê, is ‘Afrikaans is 'n pragtige taal'. Dit mag dalk eenvoudig wees, maar dit is waar. Vir my, as 'n spreker van Afrikaans, is daar iets uniek aan die taal. Die klankstruktuur en intonering van die woorde gee aanleiding tot die poëtiese kwaliteit van die taal. Dit is die rede hoekom ek altyd beïndruk is deur die taal en ook die geskiedenis van Afrikaans."
Thembinkosi Ncube (gr. 12) van die Germiston High School het ingeskryf in die kategorie eerste addisionele taal (hoërskole):
Alles om my is vreemd. Hoekom kan ek niks van gisteraand onthou nie? Ek staan op en dadelik het ek 'n kopseer.
"Die enigste ding wat ek kon onthou: Ek en my suster het van die skool af gestap en ons het 'n argument gehad oor wie die beste kunstenaar tussen Burna Boy en Rema is. Dit was toe Rema. Ek het skielik 'n harde geraas gehoor en mense rondom my het op en af gehardloop. En daar in daardie oomblik het alles verander. My lewe het verander."
In die kategorie Afrikaans huistaal (hoërskole) het ons al Eileen Vermeulen (gr. 10) van die Hoërskool D.F. Malan se inskrywing ontvang. Hier is die begin van haar opstel:
"Alles om my is vreemd. Hoekom kan ek niks van gisteraand onthou nie? Ek staan op en dadelik het ek 'n kopseer. Wat het ek gedoen? Dit lyk asof iemand vullissakke oopgeskeur het en in my kamer uitgestrooi het. Ek vind stukkende bottels Corona tot op die voorstoep. Dit was sekerlik 'n blou maan, want ek het nog nooit gedrink nie. Ma en Pa was gelukkig heel aand by die hospitaal. Ek oorweeg dit om by die huis te bly om my babelas te vertroetel, maar as Ma my in dié toestand sien, kan ek net sowel my begrafnis reël."




















