Afrikaans.com se medeborgskap van Beeld se kreatiewe- skryfkompetisie vir leerlinge is sopas beklink.
Die hoofborg is die Afrikaanse Onderwysnetwerk, wat reeds aangekondig is, en Multi Dimensions is 'n prysborg.
Volgens Milanie Vosloo, projekbestuurder van Afrikaans.com, bedien hulle die Afrikaanse onderwysmark deur die daarstel van verskeie leerhulpbronne vir voorskool tot matriek.

"Geleenthede binne die skolemark lê ons dus besonders na aan die hart. Daarom is dit 'n massiewe voorreg om te dien as medeborg vir vanjaar se Beeld-skryfkompetisie en vir leerlinge op te tree. As 'n organisasie is dit een van ons doelwitte om moedertaalgebruik, asook die kweek van 'n liefde vir moedertaal, onder ons jongste sprekers te help bewerkstellig. Geleenthede soos dít is onmisbaar vir die groei en gesondheid van ons taal. Ons kan nie wag om te lees wat vanjaar se leerlinge oplewer nie," sê sy.
Volledige inligting oor die kompetisie verskyn gereeld in die koerant en kan op ebeeldskool.co.za gekry word.
Die kompetisie maak voorsiening vir opstelle en poësie in afdelings vir Afrikaans huistaal (hoër- en laerskool), asook Afrikaans eerste addisionele taal (hoërskool).
Die sluitingsdatum vir opstelle is 15 September. Vir poësie is daar kwartaallikse mededinging waarvan die eerste wenners vandag op die bladsy aangekondig word. Sluitingsdatums vir die volgende kwartaal is 13 Junie.
Poësie-wenners van oral oor
Die algehele poësie-wenner is Tomrich Steenkamp van die Hoër Volkskool Potchefstroom in die afdeling Afrikaans Huistaal Hoërskole met sy gedig "Liewe gedig". Hy is in matriek.
Die ander presteerders in die afdeling vir Huistaal Hoërskole is Cornelia Rocher aan die Diocesan Schools for Girls in Makhanda in die Oos-Kaap, ook 'n matriekleerling.
Christiaan Wilken, 'n matriekleerling aan die Hoërskool Jim Fouché in Bloemfontein het ook uitgeblink.
Die wenner in die afdeling vir Afrikaans Eerste Addisionele Taal Hoërskole is Sne Mgwenya van die Sybrand van Niekerk Hoërskool in Sabie, Mpumalanga. Sy is in gr. 11 en haar gedig se titel is "Phoenix".
Vuyelwa Mokobe, 'n matriekleerling aan die Ferdinand Postma Hoërskool in Potchefstroom en Saschia Mutongoza van die Germiston High School (matriek) is ook presteerders in dié afdeling.
Die wenner vir laerskole is Juan Marais van die Laerskool Muldersdrif (gr. 7).
Chanel le Roux van die Laerskool Fontainebleau (gr. 7) is nog 'n presteerder.
Die skryfkompetisie word gekoördineer deur Elize Engelbrecht van Beeld in Onderwys. Inskrywings is uit al agt provinsies in die land ontvang. Volgens haar beoogBeeld in Onderwys om leerlinge te help om buitengewoon te presteer op akademiese gebied met Leer & Presteer-oefenvraestelle, die Beeld-skool, skoolkoerantkursusse en dié unieke skryfkompetisie.
- Besoek ebeeldskool.co.za.


Uittreksel uit 'n wengedig
PhoenixJy is dalk warm,maar nie soos die son.Jy skyn helderen verlig die hemelruim.Sterre bewein jou teenwoordigheid.O, hoe majestueuskan jy wees.'n Skepsel soos jywat behoort aan die legendes.Jy leef só lank,tog, wanneer jy sterfbrand jy jouself.En in jou assal 'n ander opstaan.

Uittreksel uit 'n wengedig
Liewe Gedigek skryf Jou sonder doelslegs om my emosies uit te spoel veiligheid is Jy vir myontspan kan ek deur Jou in my eie wêreld verdwaaltussen Jou strofes kan niemand my oordeel nie in Jou verse vind ek vredeek mag dalk nie perfek wees nie maar die imperfeksies in Joutipografiebeteken niemand is eintlik niedis die alliterasie van Jou kletsende klanke wat beklemtoon wat ek bedoeldie herhaling van Jou woorde
wat ontbloot hoe ek voel














