Minute nadat dit Woensdagoggend bekend geword het dat die Murray & Roberts-padwedloopklub om finansiële redes aan die einde van Junie sluit, het sy verskeie aanbiedinge van ander klubs ontvang om vir hulle te hardloop.

Adele Broodryk, wat verlede jaar in haar debuut in die moordende Comrades-wedloop oor sowat 90 km die eerste Suid-Afrikaanse vrou oor die eindstreep was, sê sy oorweeg nog alle moontlikhede.
Maar in die stilligheid hoop sy dat 'n nuwe borg vir die klub gevind word omdat sy baie gelukkig by die Murray & Roberts-klub is.
Die klub gaan sluit omdat Murray & Roberts, 'n ingenieursdienstemaatskappy, onder groot finansiële druk is en nie sy borgskap sal hernu wanneer sy huidige kontrak met die klub einde Junie verval nie.
Boonop het Dana Coetzee, die klub se bestuurder, verlede week om persoonlike redes met onmiddellike ingang bedank.
Die voormalige Olimpiese marathonatleet René Kalmer sal intussen die bestuur van die klub behartig.
Broodryk, wat 'n doktorsgraad in sportwetenskap het, is 'n dosent aan die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom.
"Ek oorweeg al die aanbiedinge wat ek ontvang het, maar ek sal uiteindelik 'n besluit neem op grond van wat die beste vir my hardlooploopbaan sal wees.
"Ek aas nie," het Broodryk, wat algeheel derde in die Comrades was, gisteroggend aan Rapport gesê.
"Ek bly positief dat die Murray & Roberts-klub gou 'n nuwe borg sal vind. Dié klub was net goed vir my en dit is lekker om vir hulle te hardloop.
Ek was eintlik 'n bietjie geskok om te sien hoe vinnig die aanbiedings van die ander klubs gekom het!
"Dit is 'n lekker gesonde omgewing en ek was tuis daar. Ek was eintlik 'n bietjie geskok om te sien hoe vinnig die aanbiedings van die ander klubs gekom het!"
Ed Jardin, voorsitter van die Murray & Roberts-klub, het in 'n brief aan klublede gesê daar is reeds gesprekke met ander moontlike borge aan die gang.
Hy het verduidelik die klub se gekontrakteerde atlete sal steeds hul maandelikse vergoeding ontvang totdat 'n nuwe borg gevind word of Murray & Roberts se kontrak aan die einde van Junie verstryk.
Weens die klub se finansiële probleme sal hy die volgende ses maande nie kan betaal vir sy topatlete se reis- en verblyfreëlings en inskrywingsgeld nie.
Die 32-jarige Broodryk se eerste wedloop van die jaar - in die swart-en-geel kleure van Murray & Roberts - sal die Dis-Chem-halfmarathon wees wat vanoggend in Bedfordview, Johannesburg, gehardloop word.
Sy en haar afrigter, die sportwetenskaplike Lindsey Parry, die amptelike Comrades-afrigter, het haar opbou na vanjaar se Comrades op 11 Junie haarfyn beplan.
"Ek sal nie elke wedloop hardloop nie, maar alles is belyn met die oog op die Comrades.
"Die plan is wel om onder meer aan die Twee Oseane (oor 56 km in die Kaap) en die Om die Dam-wedloop (oor 50 km om die Hartbeespoortdam in Noordwes) te hardloop," sê Broodryk.
Sy was verlede jaar een van die tien gouemedaljewenners in die Twee Oseane en het die Om die Dam-wedloop in 'n rekordtyd gewen.
"My doelwit met die Comrades is om te verbeter op my tyd van verlede jaar (6:26:34)," sê Broodryk. Vier van haar klubmaats was verlede jaar ook onder die tien voorste vroue wat die wedloop, wat in die Moses Mabhida-stadion in Durban geëindig het, voltooi het.
Die Rus Alexandra Morozova het verlede jaar die Comrades gewen in 6:16:47, met die Pool Dominika Stelmach tweede in 6:25:08.




















