Atletiek

Akani blits verby 2 wêreldkampioene vir opskudding

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Akani Simbine ná sy oorwinning in die 100 m in die tweede ronde van die Diamantliga-reeks. Foto: Getty Images
Akani Simbine ná sy oorwinning in die 100 m in die tweede ronde van die Diamantliga-reeks. Foto: Getty Images

Twee wêreldkampioene oor 100 m moes Saterdag voor Suid-Afrika se Akani Simbine die knie buig in die tweede ronde van die Diamantliga-reeks in Suzhou.

Simbine het 2019 se wêreldkampioen, Christian Coleman, en 2022 s'n, Fred Kerley, ingekatrol om naelskraap in 10.01 sekondes te seëvier.

Coleman (10.04) en Kerley (10.11) moes met onderskeidelik die tweede en derde plek tevrede wees nadat Simbine, wat pas sy sesde nasionale kroon in sy voorkeurnommer op die Suid-Afrikaanse Atletiekkampioenskap verower het, sy agtste wedloop in dié reeks beklink het.

"Ek het geweet die wegspringlys hier sou baie sterk wees, maar ek moes net nadoen wat ek verlede week op die Suid-Afrikaanse Kampioenskap gedoen het," het Simbine agterna gesê.

"Dit gee my baie selfvertroue in die aanloop tot die Olimpiese Spele later vanjaar. Dit help om momentum te bou, waarop ek hoop om voort te bou soos die seisoen vorder.

"Ons weet dat die laaste deel van my wedloop taamlik sterk is en dit wys."

Nadat hy verlede naweek die wêreldrekord vir 'n agtste keer oortref het, was die Sweedse paalspringer Armand Duplantis terug op sy pos.

Ofskoon hy sy sege op 'n hoogte van 6,00 m reeds verseker was, het hy gevra dat die dwarslat tot 'n nuwe wêreldrekord-hoogte van 6,25 m - 1 cm beter as sy nuwe beste - opgestel word. Al drie sy pogings was egter onsuksesvol.

Die Olimpiese kampioen Jasmine Camacho-Quinn het dit twee uit twee in vanjaar se Diamantliga-reeks gemaak deur die vroue se 100 m-hekkies in 12.63 kaf te draf om voor Devynne Charlton (12.64) en Danielle Williams (12.74) te eindig.

Dié wedloop was ook nie sonder sy drama nie, met die wêreldrekordhouer, die Nigeriër Tobi Amusan, wat weens 'n vroeë wegspring gediskwalifiseer is. Sy het toe besluit om onder protes wel in die blokke te sak, maar haar uitslag het nie getel nie.

Valarie Allman het haar belowende peil voortgesit om die vroue se diskus te wen. Die Olimpiese kampioen het met 'n gooi van 69,86 m losgetrek in die vyfde ronde vir haar oorwinning. China se Feng Bin, wat naasbeste was, het 67,11 m aangeteken.

Die binnenshuise wêreldkampioen in die hoogspring, Nieu-Seeland se Hamish Kerr, het weer 'n wenkoers ingeslaan nadat hy suksesvol oor die dwarslat geseil het op 'n hoogte van 2,31 m. Katar se Mutaz Essa Barshim moes tevrede met tweede wees nadat hy 'n beste van 2,29 m kon vermag.

Brittanje se Daryll Neita het hakskene gewys in die vroue se 200 m in 22.60 en voor die Amerikaanse duo van Anavia Battle (22.99) en Sha'Carri Richardson (23.11) geëindig.

Die Amerikaner Daniel Roberts het weer eens die botoon in die 110 m-hekkies gevoer. Dié slag was sy wentyd 13.12, 0.11 beter as Japan se Shunsuke Izumiya (13.23). Die Olimpiese kampioen, die Jamaikaan Hansle Parchment, kon net derde klaarmaak (13.26).

In die vroue se spiesgooi het die wêreldkampioen, Haruka Kitaguchi van Japan, haar seisoen afgeskop deur met 'n afstand van 62,97 m te wen.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM