Atletiek

Annie Bothma loop 2:30-marathon net mis in Durban

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Annie Bothma toe sy in 2018 ’n vrouewedloop in Kaapstad gewen het. Foto: Mark Sampson
Annie Bothma toe sy in 2018 ’n vrouewedloop in Kaapstad gewen het. Foto: Mark Sampson

Annie Bothma van die Westelike Provinsie het Sondagoggend in die Durbanse Internasionale Marathon so byna die sesde Suid-Afrikaanse vrou geword wat deur die grens van 2 uur en 30 minute in die marathon breek.

Botha het die afdeling vir vroue in dié wedloop, wat ook as die Suid-Afrikaanse marathonkampioenskap gedien het, gewen in 2:30:31.

Dit is nie net 'n roeterekord nie, dis ook die vinnigste tyd wat nóg in Durban gehardloop is.

Botha sou waarskynlik deur die 2:30-grens gebreek het as dit nie nat en baie winderig in dié hawestad was nie. Sy het nogtans haar vorige beste tyd met drie minute verbeter.

Die 27-jarige Kapenaar het van die begin tot die einde voor gehardloop.

Met 3 km oor wou die Nigeriër Chaltu Bedo Negashu by haar verby, maar Bothma het eenvoudig van rat verwissel en die Nigeriër laat wonder of sy weer 'n aanval moes loods.

Negashu het nie en het uiteindelik tweede oor die eindstreep buite die Moses Mabhida-stadion gehardloop in 2:30:36.

Bothma, wat eers in November begin oefen het nadat sy byna 'n jaar lank met beserings gesukkel het en vyf maande glad nie kon hardloop nie, sê dié Suid-Afrikaanse titel vergoed vir al die terugslae.

Bothma ly aan die skaars siekte hipopituïtarisme, wat veroorsaak dat die brein nie die regte hormone produseer nie.

Die weer was nie Sondag ideaal nie en veral die wind het gepla wanneer hy van voor af gewaai het, sê sy.

Gerda Steyn (2:25:28), Irvette van Zyl (2:26:10), Colleen de Reuck (2:26:35), Elana Meyer (2:27:17), Frith van der Merwe (2:27:36), en René Kalmer (2:29:27) is tot dusver die enigste Suid-Afrikaanse vroue wat vinniger as 2:30 kon hardloop.

Bothma het eers ná 12 km se hardloop die eerste keer haar waterbottel gekry en glo dit het ook 'n negatiewe invloed op haar vertoning gehad.

"Ek wou hom ná 5 km gehad het, maar het dit eers by 12 km gekry. As iemand wat 'n meestersgraad in sportvoeding het, weet ek hoe belangrik dit is om op die regte tye voeding in te neem," het Bothma in 'n onderhoud met SuperSport gesê.

Sy het R50 000 vir haar oorwinning gekry en 'n bykomende R20 000 as die eerste Suid-Afrikaanse vrou.

Bothma, wat in Stellenbosch grootgeword, in die VSA studeer en in 2015 die silwermedalje vir vroue op die SA landloopkampioenskap verower het, het vanjaar ook die Skiereiland-halfmarathon in Kaapstad gewen.

Vier jaar gelede was Botha die eerste Suid-Afrikaanse vrou oor die eindstreep in die Kaapstad-marathon in 2:41:44.

Die kwalifiseringstyd vir vroue vir die marathon op volgende jaar se Olimpiese Spele is 2:26.

Die wedloop vir mans is gewen deur Lesotha se Tebello Ramakongoana in 2:10:11 nadat die mans in 'n stadium in die wedloop afgestuur het op 'n wentyd van 2:07.

Simon Lehlohonolo Sibeko (Sentraal-Gauteng) was die naaswenner en die eerste Suid-Afrikaner in 2:12:05. Hy is dus die nuwe Suid-Afrikaanse marathonkampioen.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM