Die dubbele nasionale kampioen Miranda Coetzee se naam het Dinsdagaand die sprong van Atletiek Suid-Afrika (ASA) se oefengroep vir die Wêreldkampioenskap na die lys van gekwalifiseerde atlete vir dié skouspel gemaak.
Coetzee, die verdedigende Suid-Afrikaanse kampioen in die 200 m en 400 m, het op die Iberoamericano-atletiekbyeenkoms in Huelva, Spanje, Wêreldatletiek se vereiste kwalifiserende tyd vir die 400 oortref.
Sy het 'n tweede plek in die wedloop behaal in 'n nuwe persoonlike beste tyd van 50.90 sekondes, wat net vinniger as die beheerliggaam se vereiste tyd van 51.00 is om aan te tree vir die Wêreldbyeenkoms, wat in Augustus in Boedapest, Hongarye, plaasvind.
Die voormalige wêreldkampioen Salwa Eid Naser van Bahrein was eerste in 49.78.
Coetzee sal nou die kans kry om te verbeter op haar teleurstellende sewende plek in die 400-uitdunne op verlede jaar se Wêreldbyeenkoms in Eugene, Oregon.
• In Pole, op die Irena Szewinska-gedenkbyeenkoms in Bydgoszcz, het Antonio Alkana die beste van die enkele Suid-Afrikaners gevaar wat daar in aksie was.
Alkana het 'n vierde plek in die eindronde van die 110-hekkies behaal met 'n tyd van 13.43. Hy was vroeër in die dag tweede in sy uitdun (13.72).
Die middelafstandatleet Tshepo Tshite het in die 1 500 vyfde geëindig met 'n tyd van 3:34.59.
Hy het verlede maand ook reeds vir Boedapest gekwalifiseer toe hy 'n haastige tyd van 3:33.02 in die Groenpunt-stadion gehardloop het. Wêreldatletiek se verlangde tyd vir dié nommer is 3:34.00.
Die Italianer Pietro Arese het in Pole met die louere gespog (3:33.56).
In die 200 moes Luxolo Adams tevrede wees met die agtste plek nadat hy die wenstreep net in 20.91 sekondes kon oorsteek.
Hoewel dit Adams se beste tyd dié seisoen is, is dit steeds heelwat stadiger as die blitsige 19.82 wat hy verlede jaar Parys gehardloop het.
Die Amerikaanse tienersensasie Erriyon Knighton (19) het weer eens sy potensiaal onderstreep deur in 'n tyd van 19.95 te wen.
Dit was reeds die 12de keer in sy jong loopbaan wat hy deur die grens van 20 sekondes gebreek het.
• Nadat die Olimpiese 100-kampioen Marcell Jacobs weens 'n besering onttrek het aan sy resies teen die wêreldkampioen, Fred Kerley, verlede maand in Rabat, sal hy Donderdag in Parys in die blokke sak in die Diamantliga-reeks.
Jacobs sal dié slag die 200-wêreldkampioen, Noah Lyles, die stryd aansê, terwyl die Afrika-kampioen, Ferdinand Omanyala, en die belowende Letsile Tebogo van Botswana ook in dié 100-wedloop sal aantree.

Die 400 vir vroue sal ook heelwat belangstelling ontlok. Sydney McLaughlin-Levrone, die Olimpiese gouemedalje-wenner, wêreldkampioen én wêreldrekordhouer in die 400-hekkies, gaan haarself in die gewone 400 toets.
Dit sal haar eerste buitemuurse wedloop van die seisoen wees.
Naser, wat in 2019 die wêreldkampioen was, sowel as die Dominikaanse Republiek se Marileidy Paulino, wat verlede jaar silwer in Eugene gewen en boonop die Diamantliga-kroon gedra het, sal onder McLaughlin-Levrone se teenstanders tel.





















