Die Comrades-vereniging (CMA), organiseerders van die Comrades-ultrawedloop, begin volgende week weer soos in die verlede met 'n reeks praatjies landwyd met die oog op vanjaar se af-wedloop op 11 Junie tussen Pietermaritzburg en Durban oor 'n afstand van sowat 90 km.
Lindsey Parry, hoofafrigter van die Comrades, sal voornemende deelnemers op dié byeenkomste raad gee oor hoe om vir die Comrades te oefen, die voorkoming van beserings, voeding en ander tersaaklike onderwerpe.
Veral nuwelinge kan baie baat by dié praatjies deur Parry, 'n sportwetenskaplike.
Al die byeenkomste begin om 19:00.
Die eerste byeenkoms vind op 31 Januarie by die Randpark-gholfklub in Johannesburg plaas.
Die tweede is op 8 Februarie by die Glenwood Preparatory School in Durban, die derde op 15 Februarie in die Kaap (die plek moet nog bevestig word), terwyl die vierde byeenkoms op 22 Februarie by die Tuks-atletiekklub op die LC de Villiers-sportgronde van die Universiteit van Pretoria plaasvind.






















