Edward "Slender" Mothibi van Rustenburg, die wenner van die laaste Comrades in 2019, spring Sondagoggend weg as die groot gunsteling om die 95ste Comrades-wedloop sedert 1921 te wen.
Die wedloop word oor 'n afstand van 89,885 km vanaf die stadsaal in Pietermaritzburg tot in die Moses Mabhida-stadion in Durban gehardloop.
Die wedloop vind die eerste keer in drie jaar plaas omdat dit weens die Covid-19-pandemie nie in 2020 en 2021 gehardloop kon word nie.
Die gewilde Mothibi het op 'n mediakonferensie in Durban gesê omdat daar die laaste twee jaar geen Comrades was nie, is dit baie moeilik om te voorspel wie gaan wen.
Hy is egter hoopvol dit sal goed gaan nadat sy voorbereiding baie dieselfde as in 2019 was.
Sy mede-Rustenburger David Gatebe, wat ses jaar gelede die rekord van 5:18:19 in die af-Comrades opgestel het, moet ook as 'n sterk aanspraakmaker beskou word.
"Ek verwag soos in 2019 'n baie strategiese wedloop. Ek sal die ander ouens maar aanvanklik die harde werk laat doen en dan van agter af kom," het Gatebe onder 'n gelag gesê.
Gatebe se vertrouelinge sê hy wil sy Comrades-loopbaan op 'n hoogtepunt afsluit. Hy het baie toegewyd op sy eie in die Dullstroom-omgewing in Mpumalanga vir die wedloop geoefen.
Bongmusa Mthembu van KwaZulu-Natal, 'n driemalige kampioen, wat die vorige af-wedloop in 2018 gewen het, is ook altyd 'n gunsteling. Hy is so taai soos 'n ratel, beskik oor baie vaart en hy het "tuisveldvoordeel" wanneer die steun van die toeskouers 'n rol begin speel.
Mthembu sê hy steur hom nie aan enige druk wat op hom is nie. Hy sal bloot sy eie wedloopplan volg.
Die Ethiopiër Edndale Belachew, wat Paasnaweek die Twee Oseane-wedloop (56 km) in Kaapstad op indrukwekkende wyse gewen het, sal die eerste keer die Comrades aandurf.
Hy sê hy het in Ethiopië hoog bo seevlak - tussen 2 500 m en 3 000 m - hard geoefen en sê hy glo hy is gereed vir die wedloop.
"Ek is 'n vegter," sê hy.
Erge krampe oor die laaste paar honderd meter het die KwaZulu-Nataller Nkosikhona Mhlakwana in die 2019-wedloop van 'n goue medalje beroof.
Hy moes met die 11de plek tevrede wees. The Pitbull, soos Mhlakwana bekend is, sal daarom waarskynlik Sondag alles moontlik gee om vir dié teleurstelling te vergoed.
Dan is daar ook iemand soos Gordon Lesetedi, wat in 2019 negende was, en sy oefenmaat Gift Kelehe, die kampioen in 2015, wat nooit afgeskryf kan word nie.
Ann Ashworth, die advokaat wat in 2018 die eerste vrou oor die eindstreep was, sê omdat dit vier jaar gelede was, voel dit glad nie vir haar of sy as verdedigende kampioen in die af-wedloop aantree nie.

"Bruce Fordyce sê altyd jy moet nie mik vir 'n bepaalde tyd of plek nie. Jy moet net die wedloop geniet en ‘en dit vandaar af vat'," sê sy.
Die Amerikaner Camille Herron, 'n spesialis-100 myl-atleet, wat meer van op- as afdraandes hou, sê sy besef die af-Comrades is heeltemal anders as die op-Comrades wat sy in 2017 gewen het.
Charné Bosman, die wenner in 2016, die debutant Adele Broodryk en Jenna Challenor, 'n tweemalige gouemedalje-wenner, tel ook onder die gunstelinge.
'n Mens kan bespiegel soos jy wil, maar die Comrades sal self besluit wie op die dag van die wedloop die beste is en die titel verdien.
En al is dit 'n af-wedloop, is daar heelparty onaangename opdraandes - soos die sowat 10 km tussen Drummond, die halfpad-kerf, en die bopunt van Botha's Hill - tussen die twee stede.
Soos in die verlede sal die wedloop waarskynlik teen Cowies Hill (buite Pinetown) uit en sowat 20 km van die eindpunt af gewen of verloor word.
Atlete wat te vinnig teen Fields Hill, net voor Pinetown, af hardloop, sal teen Cowies Hill se kort, maar kragtige opdraande uit, met seer en swaar bene die prys betaal.
Die atlete wat daar die sterkste is, het die beste kans om die wentjek van R260 000 te wen.




















