Toni Minichiello, afrigter van die Brit Jessica Ennis-Hill, die Olimpiese sewekamp-kampioen in 2012, is deur 'n tugkomitee lewenslank uit atletiek geskop weens "onvanpaste seksuele gedrag".
Hy is verlede jaar reeds geskors hangende 'n ondersoek deur die dissiplinêre paneel wat deur die Britse atletiekbeheerliggaam aangestel is ná klagte van vroue-atlete.
Minichiello hou vol hy is onskuldig en sê daar is onregverdig teenoor hom opgetree.
"Ek is al meer as 30 jaar 'n afrigter. Hoewel ek robuus en veeleisend was, het ek nié onvanpas teenoor enige van my atlete opgetree nie. Baie van hulle sal dit bevestig," sê hy.
Die paneel het ook bevind dat hy nie die atlete se reg op 'n private lewe gerespekteer het nie deur indringende vrae en persoonlike aanmerkings te maak oor hul persoonlike lewe.
Hy het glo ook op 'n "ongevraagde wyse" aan die atlete geraak.
Minichiello het hom boonop soms aan aggressiewe en geniepsige gedrag, sowel as emosionele wanpraktyke, skuldig gemaak.
Die tugkomitee het daarop gewys dat die afrigter se lisensie in die tydperk van die ondersoek verval het. Hy kan daarom nie geskors word nie, maar geen aansoeke van Minichiello om 'n nuwe afrigterslisensie sal in die toekoms oorweeg word nie.
Die Brit Louise Hazel, wat die goue medalje in die sewekamp vir vroue op die Statebondspele in 2010 gewen het, het voorheen gekla oor Minichiello.
Sy het die uitspraak as 'n "mylpaal-beslissing" beskryf. - Reuters




















