Atletiek

Dié appel val nie ver van bome

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Karmen Fouché (middel), silwermedaljewenner in die verspring vir vroue op die Suid-Afrikaanse senior kampioenskap in Potchefstroom, saam met haar ma, Maralize (links), en pa, Louis, wat albei op hul dag van Suid-Afrika se voorste atlete was. Foto: Sa
Karmen Fouché (middel), silwermedaljewenner in die verspring vir vroue op die Suid-Afrikaanse senior kampioenskap in Potchefstroom, saam met haar ma, Maralize (links), en pa, Louis, wat albei op hul dag van Suid-Afrika se voorste atlete was. Foto: Sa

Haar pa en ma was van Suid-Afrika se topatlete en nou is die 20-jarige Karmen Fouché (Sentraal-Noordwes) besig om in hul voetspore te volg.

En dit is sonder enige druk van haar ouers, pa Louis, 'n oudspiesgooier, en ma Maralize (née Visser), 'n voormalige sewekampatleet. Albei het nasionale kleure in atletiek gekry.

Fouché het op die Suid-Afrikaanse senior atletiekkampioenskapsbyeenkoms in Potchefstroom, haar tuisdorp, die silwermedalje in die verspring vir vroue verower.

Danielle Nolte het gewen met 'n afstand van 6,31 m, met Fouché tweede (6,25).

"Ons is glad nie betrokke by haar afrigting nie en oefen ook geen druk op haar uit nie," sê Louis (53), wat spog met 'n beste afstand van 79,64 m in die spiesgooi.

Hy het dié afstand 30 jaar gelede op die Wêreldstudentekampioenskappe in Buffalo, New York, gegooi.

"Toe sy klein was het ons haar bloot by die juffrou wat atletiek afgerig het, gaan aflaai," vertel Louis, wat in die dae van die Amerikaner Tom Petranoff deelgeneem het.

Karmen, nou 'n tweedejaarstudent in aptekerswese aan die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom, het eers 'n paar jaar gelede by haar maats gehoor haar ouers was bekende atlete.

Sy word afgerig deur Stephan Louw, 'n voormalige Namibiese verspringer. Haar beste afstand in die verspring is 6,56.

Dit is 43 cm verder as haar ma se beste.

"Maar onthou, myne was in sewekamp, die vyfde item (in die sewekampkampioenskap)," skerm Maralize (49) dadelik met 'n groot glimlag.

Dit is duidelik Karmen het baie van haar ma se gene. Sy spog met 'n beste hoogte van 1,80 m in die hoogspring. Maralize het 'n beste van 1,84 gehad.

Martin Marx, die man wat Hestrie Cloete, tweemalige wêreldkampioen en tweemalige Olimpiese silwermedaljewenner, afgerig het, was in 'n stadium Karmen se hoogspringafrigter, maar sy het gekies om haar op verspring toe te spits.

Maralize sê sy het Karmen al probeer oortuig om ook aan die sewekamp deel te neem, maar sy sê haar aptekerstudies is van so 'n aard dat sy nie tyd daarvoor het nie.

Karmen, 'n oudleerling van die Hoërskool Gimnasium, het al twee keer aan die Wêreldjuniorkampioenskappe deelgeneem en elke keer met 'n persoonlike beste afstand van daar teruggekeer.

"My groot mikpunt vanjaar is die Wêreldstudentekampioenskappe wat aanvanklik in China sou plaasvind, maar nou weens die Covid-19-pandemie iewers anders gehou sal moet word," sê Karmen.

"Ek wil ook graag aan die einde van April aan die Goue Grand Prix-byeenkoms in Gaborone (Botswana) deelneem," sê sy.

"Dit is op byeenkomste waar die organiseerders van ander byeenkomste oorsee 'n mens raaksien."

Sy en haar broer, Pieter-Louis, is in dieselfde jaar gebore en is saam skool toe. Baie mense het gedink hulle is 'n tweeling.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM