Atletiek

Dié proefneming het Dijana gehelp om rekord te oortref

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Tete Dijana, die Comrades-kampioen, verbeter Sondag die 50 km-wêreldrekord in die Runified Breaking Barriers-wedloop in Gqeberha.  Foto: Richard Pearce Photography
Tete Dijana, die Comrades-kampioen, verbeter Sondag die 50 km-wêreldrekord in die Runified Breaking Barriers-wedloop in Gqeberha. Foto: Richard Pearce Photography

Tete Dijana, wat Sondag in Gqerberha 'n nuwe 50 km-wêreldrekord opgestel het, het as proefneming eers twee dae voor die wedloop uit Dullstroom, op die Mpumalanga-platorand, in die Baai aangekom.

Dijana is die huidige Comrades-kampioen.

Hy het puik gehardloop om die Runified Breaking Barriers-wedloop in ideale hardloopweer te wen en die amptelike wêreldrekord van 2 uur 40 minute en 13 sekondes tot 2:39:03 te verbeter.

Hy, sy Nedbank-spanmaat Onalenna Khonkobe, en die Zimbabwiër Tonny Skink is in 'n baie vinnige 2:12 verby die marathonkerf (42,2 km).

Daar is lankal debat aan die gang oor hoe lank voor 'n wedloop atlete wat hoog bo seevlak oefen, op kusvlak moet aankom om die meeste voordeel te kry.

Hoog bo seevlak vorm die liggaam op natuurlike wyse meer rooibloedselle. Die rooibloedselle help dan in 'n wedloop om suurstof deur die liggaam na die spiere te versprei.

Dullstroom is 2 100 meter bo seevlak (sowat 400 m hoër as Johannesburg) en 'n gewilde oefenplek vir onder andere Comrades-hardlopers. In die aanloop tot die Comrades oefen talle Comrades-atlete hier.

Fietsryers oefen ook gereeld hier, terwyl die land se voorste roeiers ook onlangs hier kom hardloop en fietsry het as deel van hul voorbereiding vir die komende Europese seisoen.

Nick Bester, negemalige Comrades-gouemedaljewenner en bestuurder van die Nedbank-klub, vir wie Dijana hardloop, sê dit is baie uitputtend om hoog bo seevlak te oefen.

"Dit tap jou en maak jou moeg en sat omdat daar op daardie hoogte baie min suurstof is om jou te help herstel.

"Dit beïnvloed onder meer jou longe en jou bloed.

"In die ou dae is altyd geglo jy moenie langer as 15 of 16 dae hoog bo seevlak oefen nie," sê Bester, wat op sy dag ook baie kilometers in die Dullstroom-omgewing vir die Comrades geslyp het.

"Die rooibloedselle wat jy hoog bo seevlak opbou, ontwikkel tot en met so 32 dae wat dit aan jou 'n voordeel gee," het Bester verduidelik.

"Wat gebeur, is: jou hemoglobien (die kleurstof die rooibloedliggaampies) vermeerder die oomblik wat jy hoog bo seevlak begin oefen. So binne 'n paar dae het jy reeds 'n voordeel.

"Jou liggaam maak 2 miljoen bloedselle per sekonde, terwyl dieselfde getal bloedselle wat jy so plus minus 70 dae gelede vervaardig het, per sekonde doodgaan, sê Bester.

"Dit was vir ons 'n proefneming met Tete (Dijana) en Slender (Edward Mothibi, die Comrades-wenner in 2019).

"Ons het altyd gedink 'n mens behoort nadat jy 15 of 16 dae hoog bo seevlak was, aan 'n wedloop deel te neem.

"Ek het nou baie nuwe inligting van Shaun-Nick (Bester se seun wat in Europa fietsry) gekry oor wat hulle op kursusse in Europa geleer het.

"Hulle (in Europa) sê as jy binne vier of vyf dae nadat jy hoog bo seevlak weg is om deel te neem, nie die moegheid ervaar wat jy hoog bo seevlak ervaar het nie, is jou liggaam reg om sy beste te gee," sê Bester.

Dijana en Mothibi, beide Rustenburgers, was twee weke in Dullstroom vir 'n oefenkamp.

David Gatebe, ook 'n Rustenburger wat in 2016 die rekord van 5:18:19 in die af-Comrades opgestel het, het hy ook regstreeks van hoog bo seevlak Durban toe gereis.

"Ons was nog heeltyd tussen die boom en die bas oor wat ons moet doen, maar nou weet ons dit werk," het Bester gesê.

Mothibi moes egter met die 13de plek tevrede (2:50:26) wees nadat hy verlede week ongesteld was.

Dijana en Mothibi was verlede jaar onderskeidelik tweede en derde toe die Suid-Afrikaanse Olimpiese marathonatleet Stephen Mokoka die vorige wêreldrekord opgestel het.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM