Suid-Afrika het Woensdag 'n goeie sessie in die 200 m-uitdunne beleef op die Wêreldatletiekkampioenskap in Boedapest, Hongarye, met al drie sy deelnemers wat plek in die halfeindronde bespreek het.
Luxolo Adams (20.15 sekondes), Sinesipho Dambile (20.34) en Sean Maswanganyi (20.56) het elk derde in hul onderskeie uitdunne geëindig om sodoende outomaties tot die halfeindronde deur te dring.
Die Brit Zharnel Hughes (19.99) was die enigste deelnemer in die sewe uitdunne wat deur die grens van 20 sekondes gebars het. Die nuutgekroonde 100 m-kampioen, Noah Lyles (20.05), sy Amerikaanse landgenoot Kenneth Bednarek (20.01) en die Kanadees Aaron Brown (20.08) het ook gemaklik gelyk.

Prudence Sekgodiso het op haar beurt 'n plek in die halfeindronde van die 800 m losgehardloop. Die Suid-Afrikaanse kampioen oor dié afstand en 1 500 m, was tweede in haar uitdun. Haar tyd was 1 minuut, 59.72 sekondes.
Dit sal die tweede keer wees wat Sekgodiso haar slag in die halfeindronde op die Wêreldbyeenkoms wys nadat sy verlede jaar in Eugene, Oregon, ook só gemaak het.
Haar tyd was algeheel die negende vinnigste uit die 56 deelnemers, met die Amerikaner Nia Akins se 1:59.19 die beste van die uitdunne.
Die Brit Keely Hodgkinson (1:59.53), die silwermedaljewenner op die Tokio-Spele in 2021 en die Wêreldbyeenkoms in die VSA verlede jaar, was eerste in Sekgodiso se wedloop.

Nog 'n lid van die SA span in Hongarye, Jo-Ané van Dyk, sal vir die eerste keer in haar loopbaan in die spiesgooi se eindronde aantree. Haar gooi van 60,09 m in die kwalifiseringsronde het verseker het dat sy onder die voorste 12 deelnemers eindig. Sy het die 10de plek beklee.
Die SA paalspringer Kyle Rademeyer het die eindronde misgeloop met sy algehele 15de plek. Rademeyer was suksesvol oor die dwarslat op hoogtes van 5,35 m, 5,55 m en 5,70 m, maar moes minstens op 5,75 m slaag om die eindronde te haal.
Cheswill Johnson se beste sprong van 7,61 m in die verspring se kwalifisering was ook nie naastenby goed genoeg vir 'n plek in die eindronde nie.
• In Dinsdagaand se eindrondes het die Keniaan Faith Kipyegon haar status as die beste 1 500 m-atleet tot nog toe onderstreep met 'n rekord derde wêreldkroon nadat sy ook in 2017 in Londen en verlede jaar in Eugene goud verower het.
Kipyegon het in 3:54.87 gewen, met Ethiopië se Diribe Welteji (3:55.69) tweede en die Nederlander Sifan Hassan (3:56.00) derde.

Kipyegon het ook goud op die Olimpiese Spele in Rio de Janeiro in 2016 en Tokio in 2021 verower. Sy het boonop vanjaar nuwe wêreldrekords in die 1 500 m (3:49.11), myl (4:07.64) en die 5 000 m (14:05.20) opgestel.
Gianmarco Tamberi het Italië se eerste wêreldkampioen in die hoogspring geword toe hy 'n spannende tweestryd met die Amerikaner JuVaughn Harrison gewen het.
Tamberi, wat die Tokio-Spele se titel met Katar se Mutaz Essa Barshim gedeel het, se suksesvolle poging met sy eerste probeerslag op 'n hoogte van 2,36 m het hom eindelik goud in die sak gebring ten koste van die 24-jarige Amerikaner.
Harrison kon eers met sy tweede probeerslag op dié hoogte oor die dwarslat seil, met albei wat op 2,38 m onsuksesvol was.
In die vroue se diskus het Laulauga Tausaga geskok toe sy haar Amerikaanse landgenoot Valarie Allman om die titel geklop het. Allman was met haar beste gooi van 69,23 m in die vierde ronde byna verseker van die titel met geen van haar teenstanders wat in daardie stadium binne twee meter daarvan kon kom nie. Tausaga het egter in die daaropvolgende ronde losgetrek met 'n nuwe persoonlike beste van 69,49 m om met die louere te spog.
Soufiane El Bakkali van Marokko, die Olimpiese kampioen, het sy titel in die 3 000 m-hindernis suksesvol verdedig. Sy wentyd was 8:03.53.
• Woensdagaand se program vir Suid-Afrikaners:
20:40: Marioné Fourie - 100 m-hekkies (halfeindronde).





















