Atletiek

Gerda trap in eeu oue spore

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Terwyl Gerda Steyn vandag 'n goeie kans het om Frith van der Merwe se 34 jaar oue rekord in die afwedloop in die Comrades te oortref, sal Steyn en die ander vroue volg in die voetspore van 'n baanbreker 100 jaar gelede.

Frances Elizabeth Hayward, was in 1923 die eerste vrou wat die Comrades voltooi het.
Frances Elizabeth Hayward, was in 1923 die eerste vrou wat die Comrades voltooi het.

In 1923 het Frances Elizabeth Hayward, wat op 14 Augustus 1891 in Wiltshire, Engeland, gebore is, die eerste vrou geword om aan die Comrades deel te neem en te voltooi. Dit was egter nie-amptelik, want vroue is eers in 1975 toegelaat om deel te neem.

Die 30-jarige tikster was gefassineer deur die eerste Comrades wat in 1921 gehardloop is om die slagoffers van die Eerste Wêreldoorlog te gedenk.

Hayward het 'n brief aan Vic Clapham, die organiseerder, geskryf en gevra of sy aan die 1923-wedloop kon deelneem. Clapham het geweier, maar Hayward het gesê dan neem sy nie-amptelik deel.

Op 24 Mei 1923 het sy saam met 168 mans voor die stadsaal van Pietermaritzburg - dieselfde plek waar die Comrades vanoggend om 5:30 begin het - aangetree.

Sy was geklee in 'n donkergroen-gimnasiumpak. Hoewel sy nie amptelik deel van die wedloop was nie, het sy baie ondersteuning van haar mede-deelnemers en die toeskouers langs die pad gekry.

The Natal Witness het geskryf sy het teen 'n stewige pas gehardloop, maar teen die opdraandes gestap. Dit gebeur vandag nog. Sy is kort ná 11:15 die oggend verby Drummond, die halfpadkerf, en het die wedloop uiteindelik in 'n tyd van 11 uur en 35 minute voltooi. Sy het twee mans geklop, en 38 ander mans het langs die pad handdoek ingegooi.

Hayward het egter nie, soos die mans, 'n medalje gekry nie. Al die mans wat klaargemaak het, het silwermedaljes gekry. Die mense van Durban was egter so beïndruk met haar dat hulle geld ingesamel en aan Hayward 'n silwer skinkbord en -faas geskenk het.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM