Volgende maand se Kaapstad-marathon sal die laaste wees met Renée Jordaan, wedloopdirekteur, aan die stuur.
Jordaan het uit haar pos bedank, skaars twee jaar en agt maande nadat sy aangestel is.
Volgens 'n verklaring wat Vrydag uitgereik is, wil Jordaan op die groei van haar eie sakeonderneming fokus.
Sy sal haar pligte nakom tot ná die marathonnaweek van 15 en 16 Oktober, waarna sy met die span sal saamwerk om 'n naatlose oorhandiging na haar opvolger te verseker.
Janet Welham, vorige wedloopdirekteur, het einde 2019 bedank, waarna Jordaan haar in 2020 by die span aangesluit het. Dit was 'n uitdagende tyd vir massasportbyeenkomste, met die Covid-19-pandemie wat hoogty gevier het.
Jordaan en haar span het in Oktober 2020 met sukses 'n virtuele marathon aangebied. Wedlope vir elite-atlete het ook in drie verskillende provinsies plaasgevind.
Danksy 'n app kon meer as 10 000 deelnemers hul eie wedloop in hul eie woonbuurt aflê en steeds die Kaapstad-ervaring geniet.
Jordaan was verlede jaar instrumenteel daarin om toe te sien dat die wedloop een van die eerstes is waar massadeelname weer toegelaat is. Sowat 13 000 Covid-19-toetse is in die wedloopweek op atlete, personeellede en die media uitgevoer.
Suid-Afrika se Stephen Mokoka en Lydia Naliaka Simiyu van Kenia was die wenners.
Die afgelope nege maande moes die logistieke reëlings vir die byeenkoms, asook die roete, weer aangepas word om vir die kriteria van die evalueringspan van Abbott World Marathon Majors voorsiening te maak. Die Kaapstad-marathon is 'n kandidaatbyeenkoms om saam met die wêreld se groot stadsmarathons soos dié in New York en Londen gereken te word.
Jordaan-hulle moes 'n nuwe begin- en eindpunt daarstel -vir toekomstige groei - en voorsiening maak vir 'n elite- rolstoelafdeling.

Barry van Blerk, hoofbestuurder van die Kaapstad-marathon, sê Jordaan het 'n waardevolle bydrae gelewer om die marathon na groter hoogtes te neem.
"Sy het haar plek op die wêreldverhoog vasgemessel. Sy is daartoe verbind om toe te sien dat die byeenkoms se eerste evalueringswedloop vlot verloop," sê Van Blerk in die verklaring.
Daar word bespiegel dat Jordaan haar oog op die pos as wedloopdirekteur van die Twee Oseane-marathon het.
Die organiseerders van dié groot padwedloop het verlede Vrydag aangekondig húl wedloopdirekteur, Debra Barnes, het bedank.
Barnes was eers die hoofbemarkingsbeampte voordat sy in Oktober 2019 die wedloopdirekteur geword het. Sy het 'n pos as uitvoerende hoof by 'n ander onderneming gekry.
• Benewens die 42,2 km-wedloop, sluit volgende maand se Kaapstad-naweek ook pret- en veldwedlope in, asook 'n ekspo in die Kaapstad-stadion.
Altesame 13 000 atlete het vir die marathon ingeskryf.





















