Atletiek

Kanyimo wen Loskop-wedloop

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Colin Kanyimo wen Saterdagoggend die Loskop-wedloop oor 50 km tussen Middelburg en die Loskopdam. Foto: Sarel van der Walt
Colin Kanyimo wen Saterdagoggend die Loskop-wedloop oor 50 km tussen Middelburg en die Loskopdam. Foto: Sarel van der Walt

Collin Kanyimo het Saterdagoggend die eerste Loskop-wedloop in drie jaar tussen Middelburg en die Loskopdam gewen.

Hy het in dié gewilde wedloop oor 50 km van Nashua en die Middelburg-marathonklub afgelê in 2 uur, 54 minute en 4 sekondes.

Dit is sowat 10 minute stadiger as die rekord van die voormalige Olimpiese marathonkampioen Josiah Thugwane.

Thugwane het langs die pad toegekyk hoe Kanyimo (Solomon) reeds aan die buitewyke van Middelburg gehelp het om die pas aan te gee.

Sowat 2 000 atlete het aan dié wedloop - die laaste kwalifiserende wedloop voor volgende maand se Comrades tussen Pietermaritzburg en Durban - deelgeneem.

Die wedloop kon die vorige drie jaar weens die Covid-19-pandemie nie plaasvind nie.

Daar was nog vyf ander atlete saam met Kayimo toe hulle teen die uitmergelende Kranskloof af is.

Aan die onderpunt van die moordende Varaday's-opdraande, enkele kilometer van die eindpunt, was net Pule Hlabahlaba nog saam met hom.

Kanyimo was van hier af te sterk vir Hlabahlaba (Stillwater) en het 26 sekondes voor hom oor die eindstreep gehardloop.

Nedbank se Charles Soza was derde in 2:56:10.

Melissa Jansen van Vuuren het Saterdagoggend die afdeling vir vroue in die Loskop-wedloop in Mpumalanga gewen. Foto: Sarel van der Walt
Melissa Jansen van Vuuren het Saterdagoggend die afdeling vir vroue in die Loskop-wedloop in Mpumalanga gewen. Foto: Sarel van der Walt

In die afdeling vir vroue het Natalie Sterk (Sterkspan-atletiek), 'n voormalige duathlon-wêreldkampioen wat nog nie verder as 21 km gehardloop het nie, van die begin af voor gehardloop, maar teen Varaday's uit begin stoom verloor.

Sy is sowat 800 m van die eindstreep af verbygegaan deur Melissa Jansen van Vuuren (Hollywood), wat uiteindelik in 3:40:01 gewen het.

Sterk het in 3:42:01 oor die eindstreep gehardloop en toe 'n kragwoord gelos.

"Ek was in my lewe nog nie so moeg soos dié laaste paar kilometer nie," het sy met 'n glimlag gesê.

"Ek is volgende jaar terug!"

Met dié vertoning waarin sy meestal sterk gelyk het, het sy gewys sy kan in die toekoms 'n groot faktor wees.

Die voormalige Comrades-kampioen Charné Bosman (M&R), wat dié wedloop tradisioneel gebruik as deel van haar Comrades-voorbereiding, was derde in 3:45:49.

Die moordende halfmarathon, eerder 'n bergwedloop, is gewen deur Tebogo Pulusa (Mr Price) in 1:11:45, terwyl Nomvula Sithole (LowMed) die voormalige Olimpiese marathonatleet Christine Kalmer (M&R) met vier sekondes in die afdeling vir vroue geklop het.

Hul tye was onderskeidelik 1:35:49 en 1:35:53.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM