Usain Bolt se welverdiende uittrede in 2017 het 'n groot leemte in baanatletiek gelaat.
Dié Jamaikaanse naelloper, wat 11 wêreldtitels en agt Olimpiese goue medaljes gewen het, was immers die gesig van die sport. Maar nou, ses jaar later, lyk dit of 'n opvolger vir Bolt na vore getree het: Noah Lyles.
Dié prikkelbare Amerikaner, wat toenemend uitgesproke raak, is nie 'n nuwe gesig in die sport nie. Hy is trouens al agt jaar lank 'n beroepsatleet en het 'n kontrak met Adidas gesluit 'n jaar voor Bolt se uittrede.
Maar nadat dié 26-jarige blits 'n onvergeetlike goue dubbel in die 100 en 200 m behaal het en ook die Amerikaanse 4x100-aflosspan na goud help voer het in die pas afgelope Wêreldbyeenkoms in Boedapest, lyk dit of Lyle die man is wat baanatletiek weer gewild onder die algemene publiek kan maak.
"Ek wou wys dat ek anders (as die ander atlete) is en het dit gedoen. Ek is 'n dubbele kampioen," het Lyles gesê.
"Usain Bolt het dit vermag en die feit dat hy vir my gesê het dat hy my vertonings dophou en respekteer, is ongelooflik."

Lyles is slegs die vyfde naelloper wat daarin kon slaag om die 100 én 200 op dieselfde Wêreldbyeenkoms te wen en glo hy is nou reg om 'n wêreldster te word.
"Ek is die een wat meer as net 'n bekende in baanatletiek wil wees. Ja, ek wil hê mense moet my op die baan sien, maar ook in GQ en my dokumentêre reeks en agterkom ek's 'n cool ou. Medaljes is die eerste stap om mense se aandag op jou gevestig te kry. Daarna kan jy verskillende rigtings inslaan: mode of musiek. Jy kan saamspan met kunstenaars."
Ek is baie lief vir die baanatletiek-gemeenskap, maar daar is net soveel wat jy in jou eie borrel kan doen. Daar is 'n hele wêreld daar buite.
Lyles se plan is dalk reg, want met soveel vermaaklikheidsopsies deesdae tot mense se beskikking, raak dit ál moeiliker vir sportsoorte soos atletiek om sy gewildheid te laat groei.
Lyles sal egter sy deel doen met 'n NBC-dokumentêr wat oor hom verfilm word en 'n Netflix-reeks oor die 100 m, wat ook aan die kom is. Netflix se reekse oor Formule Een en tennis het dié sportsoorte interessanter en toegankliker gemaak, wat tot 'n toename in hul gewildheid gelei het.
Lyles sal hoop dieselfde gebeur met atletiek, want hy voel dit is 'n sport wat nie die nodige hoofstroom-blootstelling kry nie.
"Ons moet meer doen. Ons (die atlete) moet aan die wêreld bekendgestel word. Ek is baie lief vir die baanatletiek-gemeenskap, maar daar is net soveel wat jy in jou eie borrel kan doen. Daar is 'n hele wêreld daar buite.
"Jy weet wat? Ek kyk na die NBA (Amerika se basketballiga) en die wenner word as die 'wêreldkampioen' gekroon. Wêreldkampioen waarvan? Die Verenigde State? Moet my nie verkeerd verstaan nie. Ek is soms lief vir Amerika, maar dis nie die wêreld nie."
Volgens Lyles is atletiek 'n wáre wêreldsport omdat atlete van alle uithoeke van die wêreld mekaar die stryd aansê en met hul landsvlag op die bors deelneem. "Daar's geen vlae in die NBA nie," voeg hy by.
Die vraag is nou of Lyles volgende jaar op die Olimpiese Spele in Parys dieselfde hoogtes kan bereik. Die Spele ontlok by die breë Amerikaanse publiek belangstelling en dit is dáár waar 'n atleet sy oomblik in die "hoofstroom-kollig" kan kry.
Lyles het op die Tokio-Spele brons in die 200 gewen, maar as hy wil voortgaan om sy reputasie buite atletiekkringe te laat groei, sal hy in Parys weer op die boonste trap van die podium moet staan.
Dít is wat Bolt so goed gemaak het - sy metronomiese vermoë om wedlope op die grootste verhoog te wen.
Lyles kon nie veel meer doen as die drie goues wat hy in Hongarye gewen het nie en is saam met die Amerikaanse vrouekampioen in die 100, Sha'Carri Richardson, as "absolute rocksterre" deur Sebastian Coe, president van Wêreldatletiek, beskryf.
"So drie, vier jaar gelede is ons gereeld gevra wat ons gaan doen noudat Usain Bolt uitgetree het. Usain is Usain," het Coe gesê, maar bygevoeg dat daar nou 'n nuwe generasie atlete met "buitengewone talent" in baan- en veldatletiek na vore begin tree. - AFP





















