Die twee gunstelinge by Atletiek Suid-Afrika (ASA) se Landloopkampioenskap, Mbuleli Mathanga en Glenrose Xaba, het nie teleurgestel nie en die titels in die mans- en vroue-wedlope verower.
Op 'n uitdagende roete by die Bergsig Akademie in Rustenburg, wat 'n paar steil bulte en skerp draaie ingesluit het, het Mathanga in die 10 km-wedloop oorheers.
Die atleet van KwaZulu-Natal (KZNA) het van die wegspring beheer geneem en sy oorwinning in 28 minute en 45 sekondes behaal om die titel te verdedig wat hy verlede jaar in Amanzimtoti gewen het.
Mattews Leeoto, wat vir Sentraal-Noordwes (ACNW) verteenwoordig het, was tweede in 29:08, met Kabelo Seboko van Sentraal-Gauteng (CGA) derde in 29:42.
In die vroue-wedloop moes Xaba (Noord-Gauteng) die aanslag van Cacisile Sosibo afweer, maar het daarin geslaag om haar sterkste mededingers af te skud om die wedloop in 32:43 te beklink.
Sosibo, van Sentraal-Gauteng, was tweede in 33:54, met die verdedigende kampioen, Kesa Molotsane, in die kleure van Vrystaat, tevrede met die derde plek in 35:08.
Caster Semenya was sonder haar gelyke in die 4 km-wedloop, terwyl Kabelo Melamu die mans se kroon oor die korter afstand gedra het.
Semenya het goud gewen in 11:52 vir Noord-Gauteng, met die res van haar teenstanders wat gesukkel het om by die driemalige wêreldkampioen oor 800 m te hou.
Sy het ver voor haar provinsiale spanmaat Simonay Weitsz geëindig, wat silwer in 12:21 gewen het.
Melamu, wat vir Sentraal-Gauteng hardloop, het op spannende wyse die voorste plek op die podium opgeraap in die mans se wedloop in 10:07. Hy moes hard werk vir sy oorwinning om net-net voor Modupi Tladi (Noord-Gauteng) te eindig. Hul tyd was dieselfde.
Die byeenkoms het ook die jonger ouderdomsgroepe se kompetisies geïnkorporeer.
Reatlegile Mosweu het goud gewen in die mans se o. 20-wedloop in 23:25, met Karabo Motsoeneng wat eerste was in die o. 20-vroue se 6 km-wedloop in 19:43.





















