Atletiek

Pretoria nou deel van gewilde stadwedloop-reeks

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Michael Meyer, stigter van die Run your City-wedloopreeks, Woensdag by die bekendstelling van die Tshwane-10 km-wedloop in Pretoria. Foto: Sarel van der Walt
Michael Meyer, stigter van die Run your City-wedloopreeks, Woensdag by die bekendstelling van die Tshwane-10 km-wedloop in Pretoria. Foto: Sarel van der Walt

Die gewilde Run Your City-wedloopreeks word nou ook na Pretoria uitgebrei.

Dié wedloop, bekend as die Tshwane-10 km-wedloop, wat in samewerking met die Tshwane-metroraad en Atletiek Gauteng-Noord aangebied word, sal op Sondag 27 Augustus plaasvind, het Michael Meyer, uitvoerende hoof van Stillwater Sports, Woensdagoggend by die bekendstellingsfunksie in die Jakarandastad gesê.

Meyer is die stigter van die Run Your City-reeks, wat ook in Kaapstad, Johannesburg, Gqeberha en Durban aangebied word.

Die Pretoria-omgewing het een van die grootste padwedloop-gemeenskappe in die land met 'n groot getal klubs.

Meyer sê die wedloop sal die oggend om 08:00 by die Uniegebou begin en later ook daar eindig. Hoewel die wedloop se roete eers later bekend gemaak sal word, is daar 'n sterk vermoede dat dit die moordende Tom Jenkins-rylaan - laat in die wedloop tussen Soutpansbergweg en die Uniegebou - deel van die roete sal wees.

Sowat 10 000 hardlopers en stappers sal deelneem.

Die Olimpiese atleet Stephen Mokoka, wat spog met 'n beste marathontyd van 2:06:42, en Glenrose Xaba, wat onlangs in die Spar-wedloop in Gqeberha haar beste 10 km-tyd met sowat 20 sekondes verbeter het, tel onder die atlete wat sal deelneem. Daar is ook 'n moontlikheid dat die Olimpiese marathonatleet Gerda Steyn, wat voorverlede naweek 'n tweede Comrades-rekord met 'n puik vertoning verbeter het, ook kan deelneem.

Dit is nog nie bekend watter buitelandse atlete in aksie sal wees nie.

Meyer sê een van die doelwitte van die reeks is om Suid-Afrikaanse atlete die geleentheid te bied om op tuisbodem met van die beste atlete in die wêreld mee te ding.

Vroeër is aangekondig dat die Ethiopiër Yalemzerf Yehualaw, verlede jaar se wenner van die afdeling vir vroue in die Londen-marathon en wêreldrekordhouer in die halfmarathon, op 9 Julie aan die Durban-wedloop sal deelneem.

'n Chery Tiggo 4 Pro Urban-motor kan soos by die ander wedlope in die reeks op die dag deur 'n deelnemer aan die Pretoria-wedloop gewen word.

Die liefdadigheidsorganisasies Reach for a Dream, Cotlands en die Dierebeskermingsvereniging in die Tshwane-metrogebied is die begunstigdes uit die eerste Pretoria-wedloop.

• Die Spar-wedloop vir vroue in dié stad vind op 5 Augustus in Centurion plaas. Dit is ook een van die grootste wedlope in dié reeks.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM