Atletiek

Vyfde plek vir James in Kobe

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Sheryl James tydens 2021 se Paralimpiese Spele in Tokio.  Foto: Getty Images
Sheryl James tydens 2021 se Paralimpiese Spele in Tokio. Foto: Getty Images

Die ervare Suid-Afrikaanse naelloper Sheryl James het Dinsdag in die eindronde van die 100 m (T37-klas) op die Wêreld-Para-atletiekkampioenskap in Kobe, Japan, haar beste tyd van die seisoen (13.65 sekondes) gehardloop, maar moes met die vyfde plek tevrede wees.

Die kollig was egter op China se Xiaoyan Wen, wat nie net die haastige Amerikaner Taylor Swanson (wat met die vinnigste tyd in die uitdunne gespog het) getroef het onderweg na die goue medalje nie, maar ook 'n nuwe wêreldrekord met haar tyd van 12.27 behaal het. Dít was 0.32 sek. vinniger as haar ou wêreldrekord van 12.59, wat sy verlede jaar behaal het.

Swanson het wel steeds 'n nuwe persoonlike beste tyd behaal (12.86) en die silwermedalje verower, terwyl Fenfen Jiang derde was in 13.26.

In die uitdunne van die mans se 400 m (T47-klas) het Collen Mahlalela sy plek in die eindronde bespreek danksy 'n nuwe persoonlike beste tyd van 49.32.

Dit was goed genoeg vir die tweede plek in sy wedloop en ook naasbeste algeheel.

Marokko se Ayoub Sadni, die wêreldrekordhouer in dié item, sal egter as die groot gunsteling in die eindronde aantree. Hy was eerste in die uitdunne in 47.66. Sy wêreldrekordtyd is 46.78 en is in 2023 opgestel.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM