Suid-Afrika se padwedloop-koningin het gister nóg 'n juweel tot haar kroon gevoeg . . . en in die proses haarself skoon verbaas.
Gerda Steyn het haar eie rekord in die Twee Oseane-ultramarathon verpletter. Haar wentyd van 3 ure, 26 minute en 54 sekondes was meer as 2 minute vinniger as haar vorige beste van 3:29:06, wat verlede jaar opgestel is. Sy het nou die eerste atleet tot nog toe geword wat dié wedloop oor 56 km vyf keer kon wen. Sy het dit boonop agtereenvolgens gedoen.
Die 34-jarige atleet sê sy het naby aan die einde vermoed die rekord gaan in die slag bly, maar was verstom toe sy die pylvak by die Universiteit van Kaapstad binnekom en die tyd op die stophorlosie sien.
"Ek het voor die wedloop 'n pas in my gedagtes uiteengesit, maar in die later oomblikke van die resies het ek myself nie te veel aan die tyd gesteur nie," sê Steyn aan Rapport.
"Alles het net daaroor gegaan om te wen. Ek het nie werklik geweet hoe groot my voorsprong is nie, so ek het nie juis na die stophorlosie gekyk nie. Ek het darem 'n goeie idee gehad dat ek vinniger as die pas van die vorige rekord is.
"Dit was 'n groot bonus toe ek op die gras kom en sien dat dit steeds 3:26:00 lees. Ek moes ietwat voet op die versneller sit om seker te maak dit slaan nie oor nie, maar dit was eintlik irrelevant, want dit maak nie werklik saak met hoeveel jy op die vorige tyd verbeter nie."
In 'n seisoen vol trekpleisters op die atletiekkalender, was dié veeleisende padwedloop die boorling van Bothaville se eerste prioriteit.
"Die Twee Oseane-ultramarathon was my groot teiken vanjaar en ek het lank voorberei om gereed te wees vir hierdie dag, hierdie oomblik en hierdie spesifieke roete."

Steyn was vol lof vir die tweede vrou oor die eindstreep, Irvette van Zyl, wat vir die grootste deel van die wedloop in haar nek geblaas het voordat sy eindelik tot 'n hoër rat oorgeskakel het en 'n redelike gaping bewerkstellig het.
"Irvette is sterk en ek neem gereeld teen haar deel. Ek is bewus van hoe sy kan vasbyt wanneer baie ander atlete die wit vlag sal hys.
"Sy het my gedruk en teen Chapmanspiek op selfs 'n paar treë voor my inbeweeg.
"Ek moes net kalm en geduldig bly, want die ultramarathon is lank en eindig nie by 30 km nie. Ek moes net rustig wees en my ding doen."
Van Zyl, wat in 3:29:30 tweede was, het ses weke gelede nog met 'n bloedklont in haar been gesukkel. Sy het boonop gister gestruikel om en by die 4 km-merk.
"Iemand het my van agter gepootjie en my knieë het veral houe gevat. Ofskoon ek die opdraandes sonder te veel probleme kon uitklim, was die afdraandes baie moeilik," sê Van Zyl.
"Ek dink nie iemand sal jou aanraai om 52 km te hardloop nadat jy geval het nie. Ek was in geweldige pyn toe ek die eindstreep oorsteek, maar is net dankbaar dat ek klaargemaak het."

Op 'n vraag oor of dit adrenalien was wat haar in staat gestel het om voort te stoei, sê Van Zyl dat dit dalk eerder "dommigheid" was.
"Ek is nogal blond, so ek maak baie foute," skerts sy.
"Die hele aanloop tot dié wedloop was katastrofies vir my. Ek het die afgelope ses weke so gestres en die val was eintlik net die kersie op die koek. Ek het net besluit dat ek nie gaan opgee nie."
Van Zyl het ook haar teleurstelling uitgespreek oor die groot gros mansatlete wat haar kastig nie op die grond gesien het nadat sy neergeploeg het nie.
"Ek sou daarvan gehou het as enige van die mans net 'n hand kon uitsteek, maar hulle het basies oor my gehardloop," voeg sy by.
- Die 27-jarige Klerksdorper Onalenna Khonkhobe het die wedloop vir mans in 3:09:30 gewen.





















