Wanneer Wayde van Niekerk Saterdag in die 400 m-eindronde in die blokke sak in Eugene, Oregon, sal dit presies 1807 dae wees sedert die laaste keer wat hy as deel van die laaste agt sake uitgespook het op die Wêreldkampioenskapsbyeenkoms.
Die 400 m-wêreldrekordhouer het Donderdagoggend (SA tyd) sy plek in die eindronde bespreek in net sy derde voltooide wedloop van 2022.
Van Niekerk het die eindstreep in 44.75 sekondes bereik vir die tweede plek in sy halfeindwedloop.
Die gebore Kapenaar het uitstekende peil oor die eerste 300 m getoon en was gemaklik voor, voordat hy oor die laaste 100 m ingekatrol is.
Die Amerikaner Champion Allison het reg voor die eindstreep net-net sy neus voor Van Niekerk gekry om in 44.71 eerste klaar te maak.
"Die uitdaging is om hierdie 400 m te doen en nie soveel wedlope in my bene te hê as wat ek sou wou nie," het Van Niekerk agterna gesê.
"Ek het dit egter deurgemaak en vir die grootste deel van die wedloop gemaklik gevoel. Dit gaan nou daaroor om te herstel en reg te wees vir die eindronde."
Hy tree Saterdag (om 04:35, SA tyd) vir die eerste keer in vyf jaar in die eindronde van 'n kompetisie aan waar hy dit deur uitdunne en 'n halfeindronde gemaak het.
Dit was 'n uitdagende drie jaar en nou wil ek net uitkom en my beste lewer.
— Wayde van Niekerk
Die Amerikaner Michael Norman geniet egter die status as die gunsteling.
Norman was algeheel die vinnigste in die halfeindronde in 44.30.
"Ek dink dit is 'n leerproses in elke wedloop. Ek luister na my liggaam en voer dinge daarvolgens uit. Dit was 'n uitdagende drie jaar en nou wil ek net uitkom en my beste lewer," het Van Niekerk verder gesê.
Hy het nog nooit 'n geheim daarvan gemaak dat hy op sy eie wêreldrekord van 43.03, wat op 2016 se Olimpiese Spele in Rio de Janeiro opgestel is, wil verbeter nie.
"Ek moet ten volle terug wees met elke tree wat ek gee om in staat te wees om my rekord uit te daag," het hy bygevoeg.
Van Niekerk se laaste eindronde by 'n Wêreldkampioenskap was die 200 m op 10 Augustus 2017 in Londen, toe hy silwer verower het.
Al het Zenéy van der Walt uitgeval in die halfeindronde van die 400 m-hekkies, kan dié voormalige o.18- en o.20-wêreldkampioen met reg die wêreld in die oë kyk nadat sy deurlopend kers vasgehou het by uitgelese geselskap, wat onder meer die voormalige wêreldrekordhouer Dalilah Muhammad ingesluit het.
Van der Walt het 'n nuwe persoonlike beste tyd van 54.81 opgestel vir die vierde plek. Sy het met 0.18 sekondes op haar vorige beste van 54.99 verbeter.
Dit was 'n seën net om die 5 000 m te kon voltooi. Ek leer en ek is bereid om meer te leer.
— Caster Semenya
Muhammad was eerste oor die eindstreep in 53.28, terwyl die huidige wêreldrekordhouer, Sydney McLaughlin, in 52.17 - die agtste vinnigste tyd in die geskiedenis - algeheel die beste in dié ronde was.
Caster Semenya het harde bene gekou in die uitdunne van die 5 000 m waar sy net 'n algehele 28ste plek kon behaal in 15:46.12.
"Dit was 'n seën net om die 5 000 m te kon voltooi. Ek leer en ek is bereid om meer te leer," het Semenya agterna gesê.
"Dit was warm en ek kon nie met die pas byhou nie. Ek het soveel as wat ek kon probeer vasklou aan die bondel, maar jy weet, dit is deel van die spel."
Die middelafstandatleet Tshepo Tshite het sesde in sy 800 m-uitdun geëindig in 1:47.61 en nie verder gevorder nie, terwyl Jo-Ané van Dyk se beste afstand van 57,79 m in die kwalifiserende ronde van die spiesgooi ook die einde van haar aanslag beteken het.
Vrydag se program
• Vrydag, 22 Julie se program (SA tyd):
02:05: Mans spiesgooi (kwalifikasie) - Johan Grobler.
02:10: Vroue 800 m (uitdunne) - Prudence Sekgodiso.
03:10: Mans 5 000 m (uitdunne) - Precious Mashele en Adriaan Wildschutt.
04:50: Mans 200 m (eindronde) - Luxolo Adams.





















