Atletiek

Wenda het nou vrede met einde van atletiekloopbaan

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Wenda Nel verlede jaar in die Tokio-Spele.Foto: Getty Images
Wenda Nel verlede jaar in die Tokio-Spele.Foto: Getty Images

Wenda Nel is deur 'n wipwaentjierit van emosies toe sy besef het dat haar atletiekloopbaan 'n paar maande vroeër eindig as beplan. Die Suid-Afrikaanse staatmaker in die 400 m-hekkies kyk nou met nuwe ywer na die toekoms.

Nel (34) het in September amptelik haar atletiekloopbaan vaarwel geroep met haar laaste wedloop wat op 12 Junie was. Die pyn waarin dit gedoen is, het tot haar swanesang in die middel van die seisoen gelei.

Dit was in die eindronde van die Afrika-kampioenskap, waar 'n voetbesering vir Nel, wat 'n persoonlike beste van 54.37 behaal het, geteister het op pad na 'n sewende plek in 60.43 sekondes.

"Al het ek aan die begin van die jaar reeds die besluit geneem dat dit my laaste seisoen sou wees, moet ek erken dat dit 'n uitdaging was toe die oomblik aangebreek het en dinge nie heeltemal uitgedraai het soos waarvoor ek gehoop het nie," het Nel aan Netwerk24 gesê.

Nel, 'n voormalige bronsmedaljewenner op die Statebondspele en negemalige nasionale kampioen in haar voorkeurnommer, het twee weke voor die byeenkoms in Mauritius haar plantaar fassia, 'n weefselband wat jou hakskeenbeen met die basis van jou tone verbind, geskeur.

"Ek hardloop al die grootste deel van my lewe en skielik moet ek 'n heel nuwe roetine kry, my voete van vooraf vind.

"Ek het met die besering deelgeneem en deur die pyn probeer hardloop, wat eintlik baie dom was, want ek mag dalk effense langtermynskade veroorsaak het.

"Ek het in daardie stadium gedink ek sal so twee weke ná die Afrika-kampioenskap uit wees en dan weer begin oefen om reg te wees vir die Wêreldkampioenskap. Ek het 'n ortopedis gaan sien en toe eers besef dit is ernstiger as wat ek gedink het."

Skielik moes sy besluit om of haar loopbaan net daar kort te knip, of in pyn by die Wêreldkampioenskap deur haar wedlope sukkel.

"Ek het vir 'n week lank gestoei met die besluit, want ek het geweet dat as ek nie VSA (waar die Wêreldkampioenskapsbyeenkoms in Oregon gehou is) toe gaan nie, dan is ek klaar. Om daarna nog weer te oefen en probeer regkom vir die Europese seisoen in Augustus en September . . . nee, ek het geweet dat as dit op die punt kom waar ek my aan die nasionale span onttrek, dan is dit nou dit."

Haar loopbaan het eindelik nie op haar eie voorwaardes geëindig nie, maar Nel sê dit het gehelp dat sy reeds aan die begin van die seisoen besluit het dat dit haar laaste as atleet sal wees.

"Wanneer ek nou terugkyk, besef ek dat ek bitter naïef was om te dink ek gaan gereed wees, want ek is selfs nou nog nie 100% nie.

ie 400 m-hekkies het oor die afgelope drie of vier jaar ietwat van 'n herlewing beleef en dit is lekker om te sien dat daar weer atlete is wat die moed het om dié item te doen.

"Terselfdertyd het ek 'n geseënde plaaslike seisoen gehad tot en met die Suid-Afrikaanse Kampioenskap."

Sy het by die nasionale byeenkoms in Kaapstad silwer gewen met Zenéy van der Walt (22) wat haar om die titel geklop het Dít was basies 'n spreekwoordelike oorhandiging van die aflosstokkie in dié nommer.

"Die 400 m-hekkies het oor die afgelope drie of vier jaar ietwat van 'n herlewing beleef en dit is lekker om te sien dat daar weer atlete is wat die moed het om dié item te doen.

Van der Walt het daarna op die Statebondspele ook brons gewen.

Nel sê sy sal atletiek ewig dankbaar wees vir al die geleenthede en mense wat sy ontmoet het.

"Ek het al by van die atlete oorsee gaan kuier. Ek het tot by 'n Bybelstudie-groep saam met ander internasionale deelnemers op die Diamantliga-reeks betrokke geraak. Ek het wonderlike mense so ontmoet. Die sport het vir my die geleentheid geskep om te reis en die wêreld te sien en selfs my familie saam te neem.

'n Onlangse Instagram-plasing deur Roger Federer het ook gehelp om haar vrede te gee oor die wyse waarop haar laaste wedloop geëindig het.

Federer, wat onlangs sy raket weggepak het, sê dat 'n mens nie altyd die sprokieseinde kry waarvoor jy wens nie. Hy het sy laaste enkel- en dubbelspelwedstryde, sowel as sy laaste spankompetisie verloor.

"Sport kan jou so oorneem dat al jou aandag en tyd daaraan bestee word, maar 'n mens moet ook onthou dat daar 'n lewe daar buite is," sê Nel.

"Dit kan in 'n oogwink verander, sport is só onvoorspelbaar. Een week hardloop jy 'n persoonlike beste tyd en die volgende val al die wiele af. Dit gaan nie altyd net goed gaan nie, inteendeel, dit gaan meeste van die tyd dalk minder goed."

En hoe lyk die pad vorentoe?

Wenda Nel se teenstanders het ná afloop van haar laaste vertoning op 'n Suid-Afrikaanse kampioenskapsbyeenkoms vir haar dankie gesê. Foto: Gallo Images
Wenda Nel se teenstanders het ná afloop van haar laaste vertoning op 'n Suid-Afrikaanse kampioenskapsbyeenkoms vir haar dankie gesê. Foto: Gallo Images

Nel, 'n gekwalifiseerde dieetkundige, sê sy het 'n groot begeerte om in die sport betrokke te bly, maar dat sy ook 'n behoefte het om met kinders te werk.

"Ek hardloop al die grootste deel van my lewe en skielik moet ek 'n heel nuwe roetine kry, my voete van vooraf vind. Maak geen fout nie, ek het die besluit vooraf geneem en sien uit na wat voorlê, maar jy moet steeds deur dit gaan.

"Ek wil baie graag betrokke bly in atletiek. Ek gaan eerlik wees en sê ek is nog nie heeltemal seker hoe nie, maar ek het baie idees.

"Ek het 'n groot liefde vir kinders, veral laerskoolkinders, so ek is besig met gesprekke. Dinge soos porsie-voeding wat ek met die kinders kan doen en dalk ook hul ouers touwys maak, tesame met motiveringspraatjies en lewensvaardighede."

Nel is wel nog nie gereed om 'n voltydse afrigter te word nie, maar stel wel belang daarin om afrigtingsklinieke vorentoe aan te bied en hier ook raad as 'n dieetkundige te gee.

"Ek het kontak met ASA en hulle het 'n behoefte om te belê in vrouesport, so ek sal beslis daar betrokke bly.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM