Daar is altyd 'n eerste keer en vir die Bulle is dit 'n sege oor Connacht in Galway in die Verenigde Rugbykampioenskap (VRK).
Die Bulle het Saterdagaand hul aanslag in dié kompetisie 'n stewige hupstoot gegee met 'n welverdiende oorwinning van 28-14 oor Connacht in die Dexcom-stadion.
Tipiese goor Ierse weer is voorspel, maar die Bulle kon kwalik vir beter toestande gevra het.
Die besoekers het vroeg die inisiatief geneem toe die skrumskakel Embrose Papier in Connacht se kwartgebied blitsig om 'n losgemaal gedartel het en die blits Sebastian de Klerk vir die eerste punte in die wedstryd weggestuur het.
Connacht is in die 21ste minuut tot 14 spelers beperk toe die agtsteman Sean Jansen vir 'n gevaarlike skouerloop in 'n rooi kaart vasgekyk het.
Dit was nogmaals een van daardie beslissings wat baie maklik 'n geel kaart kon gewees het.
In die volgende wedstryd kan dieselfde oortreding 'n ander uitkoms hê, maar dit is nou gedane sake.
Daar was in die aanloop tot rustyd verlore kanse aan albei kante.
Veral die Bulle se afronding was telkens swak en hulle moes veel meer gehad het om teen rustyd te wys as die voorsprong van 14 punte (14-0).
Connacht sou nooit die wit vlag gehys het nie, maar die Bulle het vroeg in die tweede helfte 'n derde keer gaan druk toe die buitesenter David Kriel doellyn toe is.
Canan Moodie (regtervleuel) het die Bulle se bonuspuntdrie in die 54ste minuut gedruk toe hy 'n verdwaalde Connacht-aangee onderskep het.
Daar was 'n insinking halfpad deur die tweede helfte met die plaasvervangers David Hawkshaw en Caolin Blade wat die Bulle onder hul pale laat staan het.
Dit het natuurlik nie gehelp dat Mpilo Gumede (agtsteman) self in die tweede helfte met 'n rooi kaart gestraf is nie.
Die uitslag was egter nooit in die weegskaal nie en die besoekers het uiteindelik 'n belangrike bonuspuntsege behaal.
Papier was nogmaals op sy stukke agter 'n agttal wat die grondslag was vir 'n knap sege.
Jy kan nie anders as om te wonder wat Papier, wat in 2018 'n Springbok in die eerste jaar van die Rassie Erasmus-era geword het, gesondig het nie.
In die agttal was Cobus Wiese bedrywig langs die kant van die skrum en die franchise se jongste Springbok, Cameron Hanekom, het self 'n impak gemaak nadat hy in die tweede helfte as 'n impakspeler opgestuur is.
Puntemakers
- Bulle: Drieë: Sebastian de Klerk, Embrose Papier, David Kriel, Canan Moodie. Doelskoppe: Johan Goosen (4).
Connacht: Drieë: David Hawkshaw, Caolin Blade. Doelskoppe: Cathal Forde (2).





















