Gholf

Dunlap as PGA-Nuweling van die Jaar aangewys

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Nick Dunlap se deurbraakseisoen was een vir die rekordboeke.  Foto: Getty Images
Nick Dunlap se deurbraakseisoen was een vir die rekordboeke. Foto: Getty Images

Nick Dunlap, wat die eerste speler geword het wat as 'n amateur- en 'n beroepspeler 'n toernooi in dieselfde seisoen kon wen, is as die PGA-reeks se Nuweling van die Jaar aangewys.

Die 20-jarige Amerikaner het Max Greyserman, Jake Knapp en Matthieu Pavon om die Arnold Palmer-toekenning uitgestof en 57% van die stemme van sy medespelers ontvang.

Dunlap het in Januarie in die American Express-toernooi in La Quinta, Kalifornië, geseëvier en sodoende die eerste amateur sedert Phil Mickelson in 1991 geword wat 'n PGA-toernooi wen.

Vier dae ná die oorwinning het Dunlap aangekondig dat hy die sport as 'n beroep gaan beoefen en het hy in Julie die Tahoe Mountain Club-toernooi gewen.

Dunlap het voortgegaan om vir die eerste keer vir die uitspeelrondes van die FedEx-beker te kwalifiseer waar hy na die tweede van drie gevorder het.

Hy het uiteindelik 49ste in die FedEx-beker geëindig en vir die PGA-reeks se vlagskiptoernooie in 2025 gekwalifiseer deur onder die top-50 te eindig.

"Nick het sy plek in die PGA-rekordboeke uitgekerf," sê Jay Monahan, kommissaris van die PGA-reeks.

"Om 2024 as 'n kollegiale gholfspeler te begin en dit met twee PGA-oorwinnings en onder die top-50 spelers in die FedEx-beker af te sluit, is werklik indrukwekkend." - Reuters

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM