Die huidige Meesterskampioen, Rory McIlroy, sê die publiek se reaksie ná afloop van sy boeiende sege vroeër vandeesmaand op Augusta, wys mense het in die afgelope 11 jaar 'n spesiale verbintenis met sy loopbaanreis gehad.
Dié Noord-Ier het hom uiteindelik by gholf se eksklusiewe Grand Slam-klub aangesluit toe hy Justin Rose in 'n emosiebelaaide uitspeelstryd geklop het om die Meesterstitel te wen.
McIlroy het sedert 2014 probeer om op Augusta te seëvier nadat hy vantevore die drie ander major-toernooie - die Britse Ope, Amerikaanse Ope en die PGA-kampioenskapstoernooi - gewen het.
Hy het sedert dié groot dag tyd saam met sy gesin en familie in Noord-Ierland deurgebring, maar is van Donderdag af weer saam met sy boesemvriend Shane Lowry in die Zurich Classic in New Orleans in aksie.
McIlroy sê hy het sedertdien ontelbare gelukwensings gekry.
"Dit gebeur nie altyd dat jy 'n lewenslange doelwit of droom verwesenlik nie. Ek het net probeer om alles te geniet wat op my pad gekom het. Dit was natuurlik nie altyd maklik nie.

"Ek dink mense het hulself gesien in die lang stryd wat ek gehad het en ek het dit ervaar in die ongelooflike reaksie wat daar was."
McIlroy sê die boodskappe het nie net uit gholfgeledere gekom nie.
"Ek het die volgende dag met twee presidente gesels, wat heeltemal onverwags was. Mense uit die vermaaklikheids- en kultuurwêreld het my geluk gewens en daar was selfs diegene wat jy nooit sou dink gholf kyk nie.
"Dit was 'n baie nederige ervaring vir my."
Hy sê die menslike sy van sy stryd en die teleurstellings wat dit meegebring het, het mense geraak.
"Ek dink mense het hulself gesien in die uitdagings wat ek te bowe moes kom.
"Ons almal het doelwitte en dit is nie altyd maklik om dit te behaal nie. In my geval het ek meer as 'n dekade gesukkel, maar wanneer dit gebeur, resoneer dit met mense wat in dieselfde situasie is."
Met sy Meestersglorie het McIlroy hom by Tiger Woods, Jack Nicklaus, Gary Player, Ben Hogan en Gene Sarazen aangesluit as die enigste spelers wat ál vier major-toernooie kon wen. - Reuters





















