Scottie Scheffler het in die derde ronde van die Meesters 'n voëltjie op sy laaste putjie behaal en 'n voorsprong van 'n hou oor Collin Morikawa bewerkstellig, maar Tiger Woods het Saterdag sy swakste major-ronde tot nog toe as 'n beroepspeler ervaar.
Scheffler het sy dag in 71 houe, een onder baansyfer, voltooi. Sy telling vir die week staan ná dese op -7 en hy is nou in 'n goeie posisie om sy tweede Meesters-titel te wen.
Scheffler sal met 'n sege die 18de speler word wat die Meesters meer as een keer wen en die eerste sedert Bubba Watson in 2014 wat dié prestasie vermag.
Morikawa, wat op soek is na die derde been van 'n loopbaan-Grand Slam, bevind hom op sy eie in die tweede plek ná sy ronde van 69 (-3), een hou minder as die laagste ronde van die dag.
Max Homa (73), wat ná die tweede ronde saam met LIV Golf se Bryson DeChambeau (75) en Scheffler gesamentlik voorgeloop het, is derde en Ludvig Aberg (70) van Swede is vierde, drie houe agter die voorloper in sy major-buiging.
Woods, die eerste speler wat die 24ste keer agtereenvolgens die valbyl by die Augusta National-baan oorleef, het uitgeput gelyk nadat hy Vrydag 23 putjies moes voltooi en het 'n ongewensde persoonlike mylpaal bereik met 'n 82 (+10).
Rory McIlroy, wat die dag tien houe agter die voorlopers begin het en 'n lae ronde wou voltooi om sy doelwit van 'n loopbaan-Grand Slam lewend te hou, het 71 houe (-1) gespeel.
Erik van Rooyen, die enigste Suid-Afrikaner oor in die toernooi, is gesamentlik in die 47ste plek. Hy het sy ronde in 78 houe afgesluit en sy algehele telling vir die week is +9. - Reuters





















