Gholf

Vierde titel vir Ernie in die Kampioenereeks

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Ernie Els het Sondag vir die eerste keer vanjaar in die Amerikaanse Kampioenereeks gewen toe hy in die Principal Charity Classic-toernooi as die kampioen gekroon is.   Foto: Getty Images
Ernie Els het Sondag vir die eerste keer vanjaar in die Amerikaanse Kampioenereeks gewen toe hy in die Principal Charity Classic-toernooi as die kampioen gekroon is. Foto: Getty Images

Jy kry soms daardie dae op die gholfbaan wat die manne in jou nek blaas en jy iets buitengewoon nodig het om 'n toernooi te wen.

Vir die Suid-Afrikaner Ernie Els was dit Sondag die arend wat hy op die syfer-vyf 13de putjie van die Wakonda-baan in Iowa behaal het, wat hom in die Principal Charity Classic-toernooi van die res onderskei het.

Ernie Els het Sondag vir die eerste keer vanjaar in die Amerikaanse Kampioenereeks gewen toe hy in die Principal Charity Classic-toernooi as die kampioen gekroon is.   Foto: Getty Images
Ernie Els het Sondag vir die eerste keer vanjaar in die Amerikaanse Kampioenereeks gewen toe hy in die Principal Charity Classic-toernooi as die kampioen gekroon is. Foto: Getty Images

Els (54) het sy vierde titel in die Amerikaanse Kampioenereeks gewen danksy 'n telling van 65 - sewe houe beter as baansyfer.

Hy het daarmee die verdedigende kampioen, Stephen Ames, met twee houe geklop.

Ames, Rod Pampling, David Duval en Bernhard Langer was strykdeur op Els se spoor, maar sy briljante naderhou op die 13de het die wind uit sy teenstanders se seile geruk.

"Ek het 'n goeie plan gehad en ek het oor al drie dae daarby gehou. Dit het harde werk geverg en jy het meer selfvertroue wanneer al die aspekte van jou spel goed voel," het Els ná sy rondtes van 62, 68 en 65 vir 'n toernooitelling van 195 (-21), gesê.

"Dit was 'n moeilike toernooi om te wen, want almal het goed gespeel. Dit is die een putjie, die 13de, wat vir my die deurslaggewend was."

Els is met 'n wentjek van $300 000 (sowat R5,6 miljoen) huis toe, terwyl Ames (66) tweede was en Pampling (69), Duval (67) en Langer (68) gesamentlik derde geëindig het op 17 houe minder as baansyfer.

• Die Skot Robert MacIntyre het Sondag sy eerste sege in die Amerikaanse PGA-reeks gevier toe hy die RBC Kanadese Ope op die Hamilton-buiteklub in Ontario met 'n hou gewen het.

Robert MacIntyre van Skotland vier Sondag sy sege in die Kanadese Ope saam met sy pa, Dougie.  Foto: Getty Images
Robert MacIntyre van Skotland vier Sondag sy sege in die Kanadese Ope saam met sy pa, Dougie. Foto: Getty Images

Wat die mylpaal nog meer spesiaal maak, is die feit dat sy pa, Dougie, in die toernooi as sy joggie ingestaan het.

"Dit is hy wat my geleer het om gholf te speel, so jy kan net dink dat dit 'n wonderlike oomblik vir my is," het dié hotklou van Oban ná sy sege gesê.

"Dit beteken vir my en my familie so baie. Dat my pa my joggie was in so 'n groot toernooi . . . ek huil van dankbaarheid, want ek het nie gedink dit sou moontlik wees nie."

• Thriston Lawrence van Suid-Afrika het Sondag in Hamburg, Duitsland, danksy die beste telling in die laaste ronde van die Europese Ope - 'n 68 - saam met die Oostenryker Bernd Wiesberger tweede geëindig.

Die Engelsman Laurie Canter het met twee houe gewen. - AFP, pgatour.com, europeantour.com

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM