Die Australiese krieketkaptein Steve Smith het Woensdag aangekondig dat hy eendagkrieket vaarwel gaan toeroep nadat sy span in die halfeindronde van die Kampioenetrofee-kompetisie teen Indië vasgeval het.
Dit maak 'n einde aan 'n roemryke loopbaan, wat twee Wêreldbeker-suksesse insluit.
Die 35-jarige Smith was Dinsdag in Dubai Australië se topkolwer met 73 lopies, maar dit was nie genoeg om die Indiërs uit die eindstryd te hou nie. Indië het dié stryd met vier paaltjies gewen.
Smith het gesê hy sal steeds vir toetse en T20-reekse vir die nasionale span beskikbaar wees.
"Dit was 'n uitstekende lopie en ek het elke oomblik daarvan geniet," het Smith in 'n verklaring van Krieket Australië gesê.
"Daar was soveel uitstekende tye en wonderlike herinneringe. Om twee Wêreldbeker-toernooie te wen, was uitstekende hoogtepunte en om dit met goeie maats te doen, was selfs meer spesiaal.
"Dit is nou 'n goeie oomblik vir mense om gereed te maak vir die Wêreldbeker-toernooi van 2027 en daarom voel ek dit is die regte tyd om pad te gee."
Smith het 5 800 lopies aangeteken teen 'n gemiddelde van 43.28. Hy het in 2010 sy buiging in eendagwedstryde gemaak en 12 honderdtalle in 170 wedstryde aangeteken. Hy was aanvanklik 'n veelsydige speler wat met sy draaiballe 'n ekstra dimensie aan die Aussie-aanval gebring het.
Hy het vyf 50-talle aangeteken, insluitend 'n onoorwonne 56 in die eindstryd in 2015 om die Wêreldbeker op eie bodem te verower. Hy was ook lid van die span wat in 2023 weer dié gesogte titel gewen het.
Smith het boonop die eendagspan vanaf 2015 tot 2018 as kaptein gelei, maar is van die leierskapsrol verwyder ná die skandaal met die balpeutery in die toetsreeks in Suid-Afrika.
Nadat hy vir 'n jaar geskors is, het Smith met sy terugkeer weer 'n sleutelrol vir die Aussies gespeel. Hy het weer die leisels as kaptein oorgeneem vir 'n toetsreeks in Sri Lanka en die Kampioenetrofee.
"Toetskrieket bly 'n prioriteit en ek sien uit na die eindstryd van die Wêreldtoets-kampioenskapreeks, die reeks teen die Windies en die stryd tuis teen Engeland," het Smith bygevoeg.
"Ek voel ek het nog baie om vir die nasionale span te bied."
George Bailey, die Aussies se hoofkeurder, het gesê Krieket Australië verstaan Smith se redes en ondersteun hom in sy besluit. - Reuters




















